Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Databondels aan studente
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 18/03/2021

Beste studente

Ek vertrou dat julle die akademiese jaar – wat weer eens lyk of dit volg uitdagings gaan wees – suksesvol afgeskop het!

COVID-19-regulasies het tot gevolg dat ons beperkte kapasiteit in ons lokale het vir studente om lesings by te woon. Ten einde studente wat nie fisiek die lesings kan bywoon nie, in staat te stel om virtueel deel te neem, stel baie van die dosente hul lesings deur regstreekse stroomuitsendings vanuit hierdie lokale beskikbaar. Ons besef sommige studente wat nie inwoners van Universiteitskoshuise is nie en wat daagliks kampus toe pendel, kan moontlik probleme ondervind om 'n geskikte ruimte met WiFi op kampus te vind om aan die lesings deel te neem.

Terwyl ons geskikte lokale reël, gaan die Universiteit – as 'n tussentydse maatreël – eenmalige databondels aan voorgraadse en nagraadse studente verskaf ten einde julle in staat te stel om by hierdie stroomuitsendings van lesings te kan inskakel. Ons hoop om die lys van geskikte lokale op kampus binnekort te finaliseer en sal binne die volgende week met julle hieroor kommunikeer. Let asb daarop dat dit 'n eenmalige reëling is wat as tydelike oorbrugging sal dien totdat die lokale gereed is.

Die verskaffing van die databondels sal outomaties geskied aan alle voorgraadse en nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch wat deur die jaarlikse US-registrasieproses geregistreer het, asook aan ongeregistreerde studente met uitstaande skuld. Soos ooreengekom tussen die Rektoraat en die SR, sal ons aan hierdie studente databondels verskaf sodat hulle toegang kan hê tot SUNLearn en die lesings wat per stroomuitsending beskikbaar gestel word.

Verlengde registrasietydperk

Let asb ook verder daarop dat die US sy registrasietydperk verleng in ooreenstemming met die nasionale oproep en weens die vertragings met NSFAS-befondsing. Ons sal dus registrasieversoeke tot 26 Maart 2021 hanteer en die aanlyn registrasiestelsel is daarvolgens heropen. Die wysigingstydperk vir registrasie sal gelyklopend met die verlengde registrasietydperk wees om ons studente met enige uitstaande kwessies rakende registrasie te help.

Selfregistrasie kan vanaf enige rekenaar met toegang tot die internet gedoen word op www.maties.com. Vir meer inligting, vind die skakel na registrasie op www.sun.ac.za of klik hier, asb. Studente wat egter enige probleme met die aanlyn registrasiestelsel ondervind, moet die toepaslike fakulteitsadministrateur/beampte kontak. Klik asb hier vir die kontakbesonderhede vir fakulteits- of programspesifieke inligting en dienste.

Raadpleeg asb die toegewyde COVID-19-webblad op die US se webwerf vir nuttige inligting, insluitende vrae wat gereeld gevra word, asook 'n rekord van alle skrywes en bywerkings sedert die begin van die pandemie.

Pas julleself asb op en wees veilig.

Prof Deresh Ramjugernath
Viserektor: Leer en Onderrig