Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kankernavorser ontvang luisterryke L’Oreal Women in Science Genootskap
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Sue Segar
Gepubliseer: 11/03/2021

Hannah Simba, 'n PhD-kandidaat in Openbare Gesondheid (by die Afrika Kankerinstituut), het die L'Oreal Sub-Saharan Africa Women in Science PhD-Genootskap ontvang.

Simba, wat tans werk aan haar PhD-studie oor kanker van die slukderm, sê sy voel baie geëerd dat sy die luisterryke toekenning ontvang het. “Dit voel baie goed om erkenning te kry. Dit is baie belangrik dat vroue in die wetenskap ondersteun word," het sy gesê.

Simba, wie se PhD studie met die titel “The role of genetic and environmental factors in the aetiology of oesophageal cancer", was een van 11 ontvangers in 2020 van die Margaret McNamara Education- toekenning met 'n waarde van $7000 (ongeveer R120 000). Dit sal haar daartoe in staat stel om hierdie siektetoestand in groter detail te bestudeer. 

Kanker van die slukderm, 'n dodelike siekte, word nie genoegsaam bestudeer onder die bevolking van Afrika nie. “Dit beteken dat die epidemiologie van die siekte, asook die genetiese- en omgewingsverwante faktore wat die siekte veroorsaak, nie behoorlik begryp word nie," het Simba gesê.

Sy het bygevoeg dat die studie belangrik was omdat dit sou bydra tot die kennis in verband met die etiologie van orale plaveiselselkarsinoom [(oral squamous cell carcinoma (OSCC)], wat nie ten volle verstaan word nie. Dit sou ook kennis verbreed met betrekking tot die onderskeie rolle wat blootstelling aan omgewingsfaktore, asook geneties faktore, speel in die ontwikkeling van die siekte.

Simba het gesê dat die geld van die toekenning gebruik is om te betaal vir haar klasgelde, lewensonkostes en werkswinkels en kursusse wat gemik is daarop om kapasiteit te bou. “Ek beplan ook om die geld te gebruik vir reiskostes sodat ek by konferensies aanbiedings kan doen, wanneer dit weer moontlik raak." 

Simba, wat oorspronklik van Zimbabwe afkomstig is, en nog altyd in die wetenskap belanggestel het, was vir die afgelope nege jaar nou betrokke daarby om jong meisies te mentor deur middel van klasse by skole, en ook die organisering van kampe en werkswinkels.

Sy is die streeksleier van die Working to Advance STEM education for African Girls (WAAW), 'n organisasie wat hom beywer vir die bevordering van onderrig onder swart meisies in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde.

In uitbreiding oor die belangrikheid van vroue in die wetenskap, het Simba gesê dat vroue 'n beduidende deel van die bevolking vorm, en dat hulle beslis op alle vlakke van leierskap en die wetenskappe verteenwoordig moet word.

“Die wetenskap speel 'n baie belangrike rol, veral met betrekking tot navorsing oor die verbetering van gesondheid, en vroue moet goed verteenwoordig word om daardie besluite op die gebied van gesondheid te kan neem. Tans vorm vroue slegs 'n kleinerige deel van die navorsers in Afrika suid van die Sahara (31%), dus is dit baie belangrik om erkenning en ondersteuning te gee aan vroue wat betrokke is by wetenskaplike navorsing."

Simba het gesê dat sy hoop, dat as gevolg van haar sukses, ander jong vroue geïnspireer sou word om die voortou te neem in verband met navorsing wat gemik is daarop om gesondheid in Afrika te verbeter.

Oor haar doelstellings vir die jaar wat voorlê, het Simba laat blyk dat haar hoofoogmerk die voltooiing van haar PhD is. “Ek het baie geleer, en vestig nou my hoop op 'n goeie nadoktorale betrekking."

“Wanneer ek my tesis voltooi het, gaan ek Tafelberg uitklim. Ek bou tans die stamina op om dit te kan doen!"

Foto-erkenning: Wilma Stassen