Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente sal skakel met wêreldwye eweknieë oor sosiaal-betrokke universiteite
Outeur: Matie Community Service
Gepubliseer: 05/03/2021

​Op 11 Maart 2021 sal studente van die Universiteit Stellenbosch (US) virtueel kan aansluit by hul eweknieë op die Afrika-vasteland en wêreldwyd om te praat oor die rol wat sosiaal-betrokke universiteite kan speel in die gemeenskap. Die Sosiale Impak Colloquium vir studente word aanlyn aangebied deur Maties Gemeenskapsdienste (algemeen bekend as MGD), wat gehuisves word binne die Afdeling vir Sosiale Impak en ondersteun word deur studente-strukture en -gemeenskappe.

Vanjaar se colloquium vervang MGD se in-persoon Sosiale Impak Gemeenskapsoggend wat aan studente die geleentheid bied om meer te leer oor hoe om deel te neem aan sosiale impak-projekte binne die omringende gemeenskappe.

Die colloquium, wat plaasvind tussen 09:30 en 11:00, sal fokus op Neem deel aan Sosiale Impak regoor die Wêreld: Die rol van die universiteit om student-gedrewe sosiale impak moontlik te maak. Studente en personeel kan 'n plek bespreek deur hier te kliek.

Studente sal die geleentheid kry om uit te vind wat dit beteken om 'n sosiaal-betrokke instelling te wees, en watter impak dit het op studente-vrywilligers en die sosiale impak-inisiatiewe wat studente aanpak.

“Die colloquium verskaf aan ons 'n geleentheid om ons begrip van die rol van sosiaal-betrokke universiteite binne 'n wêreld-konteks te verbeter, en om te bespreek wat dit beteken vir die Universiteit Stellenbosch gebaseer op sy Visie 2040 en die Strategiese Raamwerk 2019-2024, sowel as vir ander universiteite wat ook deelneem aan die geleentheid," sê me Reneé Hector-Kannemeyer, Hoof van MGD en Adjunk-Direkteur van die Afdeling vir Sosiale Impak.

Volgens Hector-Kannemeyer sal deelnemers hul ondervindings en kennis van die implementering van student-gedrewe sosiale betrokkenheid binne hul onderskeie instellings deel en die verskillende wyses waarop hul instellings hul doelwitte belyn het om te fokus op die openbare welsyn.

“Die kern-doel van 'n universiteit is die produksie van kennis tot die voordeel van die gemeenskap, daarom is die sleutel-kwessie waarop ons sal fokus hoe ons leiers voorberei wat opkom deur ons universiteite om agente vir verandering te wees en 'n positiewe impak te hê op die gemeenskap," voeg Hector- Kannemeyer by.

Paneellede van US, Ngee Ann Polytechnic in Singapore, Rhodes Universiteit, die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en die Universiteit van Zimbabwe sal die bespreking op 11 Maart afskop met mini-dokumentêre video's as toonvensters vir hul universiteite se student-gedrewe sosiale impak-inisiatiewe. Die paneellede sluit in me Lana Franks, Programleier van Student-Entrepreneurskap en Innovasie by die Sentrum vir Entrepreneurskap en Innovasie aan die Universiteit van Wes-Kaapland; me Anna Talbot, Koördineerder van die Vrywilliger-program aan die Rhodes Universiteit; me Thandi Matyobeni, Programkoördineerder van die Rhodes Sentrum vir Sosiale Innovasie; me Claire McCann, 'n Mandela Rhodes beursstudent wat haar meestersgraad in Ekonomie doen; mnr Hon Maode, Adjunk-Hoof van die Kantoor van Diensleerderskap by Ngee Ann Polytechnic; Me Wamahlubi Ngoma, Ondervoorsitter van die SVR 2019/2020 aan die US; mnr Phil Mlanda, Medestigter en Programbestuurder van die paNhari Program aan die Universiteit van Zimbabwe; en mnr Munashe Nyamukondiwa: Student en Projekkoördineerder van die paNhari Program aan die Universiteit van Zimbabwe.

Ngee Ann Polytechnic (eerste plek) en die Universiteit van Zimbabwe (tweede plek) het die 2020 MacJannet toekennings ontvang van die Talloires Netwerk van Betrokke Universiteite vir hul baanbrekerswerk met onderskeidelik geïntegreerde diens-leerderskap deur hul kern-kurrikulum en om universiteitstudente te bemagtig om “siviel betrokke burgers te word deur sosiale entrepreneurskap en die gebruik van innoverende en besigheidsbeginsels om die wêreld te verbeter."

'n Onlangse voorbeeld van hoe sosiaal-betrokke universiteite 'n gemeenskap-impak het, is teweeg gebring deur die wêreldwye verspreiding van die Covid-19 virus. Verskeie universiteite regoor die wêreld gebruik hul gesamentlike kundigheid, wetenskap en navorsing om oplossings te vind vir 'n verskeidenheid uitdagings weens die pandemie. Dit sluit in om onder andere om die patofisiologie van die Covid-19 virus te verstaan, tot die skep van minder indringende ventilators. Maar Covid-19 is nie die enigste pandemie nie, sê Hector-Kannemeyer, en universiteit moet reageer volgens die kwessies wat uitgelig is by die Wêreldberaad vir Sosiaal-betrokke Universiteite vroeër vanjaar.

Wêreldwye kwessies wat geïdentifiseer is by die beraad sluit in die toenemende ongelykheid tussen en binne nasies; gewelddadige armoede in baie dele van die wêreld, ongebreidelde verbruik, en 'n gebroke mens-aarde-nexus; die agteruitgang van 'n etiese gemeenskap; die eskalasie van politieke geweld, konstruksies van “die ander" en massiewe migrasies; nuwe tegnologie en snelle verandering in die wêreld van werk;  en uitdagings wat betref openbare gesondheid, onder andere.

“Die Universiteit Stellenbosch se visie is om Afrika se leidende navorsing-intensiewe universiteit te wees, om wêreldwyd erken te word as uitstekend, inklusief en innoverend, en om kennis in diens van die gemeenskap te bevorder. Dit is in lyn met die fokus van die Wêreld-beraad, naamlik 'n sosiaal-betrokke universiteit."

Onder die kwessies waarop tydens die colloquium gefokus sal word is:

  • ​​wat universiteite gedoen het om benewens kennisverwerwing ook sosiale behoeftes aan te spreek;
  • watter innoverende idees universiteite geïmplementeer het om hul sosiale impak-strewes tydens die pandemie te implementeer; en
  • h​oe om volhoubare hoop in Afrika te skep deur omstandighede tot stand te bring wat elke student in staat sal stel om die eienskappe en vaardighede te verkry wat hulle benodig om 'n bydrae tot die gemeenskap te maak nadat hul studies afgehandel is.

Tydens die geleentheid sal studente ook metodologie leer soos ontwerp-denke wat hulle kan benut in die konseptualisering en virtuele implementering van hul sosiale impak-projekte, en betrokke raak by probleemoplossing-aktiwiteite gebaseer op 'n probleem ingedien deur die US residensiële gemeenskap.

Die program vir die dag is as volg:

Amptelike Opening:  Mnr Xola Njengele, VSR Voorsitter by Universiteit Stellenbosch

Musiek-uitvoering: NewVoice Sextet

Raamwerk van Colloquium: Me Reneé Hector-Kannemeyer, Hoof van MGD en Adjunk-Direkteur van die Afdeling vir Sosiale Impak

Individuele mini-dokumentêre video's: Universiteit Stellenbosch, Ngee Ann Polytechnic, die Universiteit van Zimbabwe, Rhodes Universiteit en die Universiteit van Wes-Kaapland

Slotopmerkings: Prof Ronelle Carolissen, MGD Beheerraad-voorsitter en Professor in Gemeenskap Sielkunde in die Departement Opvoedkundige Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

Musiekuitvoering:  NewVoice Sekstet

Vir meer inligting, kontak me. Michelle Pietersen van MGD by mpieters@sun.ac.za.​