Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Oonsie Biggs ontvang A-evaluering van NNS
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 15/02/2021

Prof Reinette (Oonsie) Biggs, die bekleër van die DWT/NNS Navorsingsleerstoel in Sosio-ekologiese Stelsels en Veerkragtigheid, het onlangs 'n A-evaluering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang, 'n eerste vir die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

NNS se A-evaluering is net navorsers beskore wat onomwonde deur hul eweknieë as toonaangewende internasionale vakkundiges op hul gebied erken word vir die hoë gehalte en impak van hul onlangse navorsingsuitsette.

Dis hoofsaaklik op Biggs se navorsingsuitsette oor die afgelope agt jaar gebaseer en het die evaluering wat deur haar plaaslike en internasionale eweknieë gemaak is, in ag geneem.

Biggs het voorheen ook 'n P-evaluering van die NNS ontvang vir haar uitstaande navorsing oor die interaksie tussen sosiale en ekologiese stelsels, en die implikasies wat dit inhou vir die bou van veerkragtigheid en die bereiking van volhoubaarheid.

“Dis 'n bietjie intimiderend, maar is terselfdertyd 'n wonderlike bekragtiging van die werk wat ons doen om die oorgang na volhoubaarheid te ondersteun, en 'n geleentheid om in die toekoms selfs groter en meer ambisieus te dink.

"As 'n relatief jong vrou in 'n senior leierskapsomgewing wat deur mans oorheers word, voel dit soms moeilik om ernstig opgeneem te word en gevolglik om in jouself te glo. Hierdie evaluering gee my vertroue in my intellektuele leierskap 'n geweldige hupstoot. Dit dien ook as aansporing om verder nuwe weë te baan," het Biggs gesê.

Sy het egter bygevoeg dat dié prestasie nie moontlik sou wees sonder die wonderlike samewerking van die span by die Sentrum vir Komplekse Stelsels in Transisie (CST) by die Universiteit Stellenbosch en in die buiteland nie. 

“Daar behoort meer erkenning te wees vir die belangrikheid van samewerkende spanne en om ondersteunende omgewings te skep om baanbrekersnavorsing met impak te genereer. Dié erkenning sal die blootstelling van ons werk verhoog en hopelik deure help oopmaak om saam met meer rolspelers in die samelewing te werk om volhoubaarheidsverwante veranderings in die streek te ondersteun. Ek hoop ook dat dit tot nuwe befondsingsgeleenthede ter ondersteuning van ons werk sal lei."

Sy is ook dankbaar dat sy op die emosionele krag en ondersteuning van haar persoonlike "tuisspan" kan staatmaak.

“Om die eise van 'n jong gesin met dié van navorsing en studente te balanseer, kan moeilik wees, en 'n ondersteunende lewensmaat en gesin kan 'n groot verskil maak. Die COVID-pandemie het nie net belangrike genderongelykhede uitgelig nie maar ook nuwe moontlikhede vir buigsaamheid ten opsigte van die manier waarop ons werk, uitgewys. Dit kan groter betrokkenheid van vroue in senior navorsings- en leierskapsposisies fasiliteer," het sy gesê.

Volgens Biggs is haar langtermynvisie om 'n bydrae te maak tot daarstelling van 'n internasionaal erkende sentrum van uitnemendheid in die volhoubaarheidsveld in Suid-Afrika. So 'n sentrum moet konteksrelevante wetenskaplike en beleidsinsigte kan verskaf ter ondersteuning van dringende volhoubaarheidstransformasie in die streek en wêreldwyd.

“Hierdie droom word nou vinnig 'n werklikheid deur die ontwikkeling van die CST wat, soos ander toonaangewende volhoubaarheidsentrums wêreldwyd, nuwe inter- en transdissiplinêre institusionele strukture inisieer. Dit help ook om die Universiteit Stellenbosch as 'n nasionale en internasionale leier in die vinnig opkomende volhoubaarheidsarena te posisioneer."

Een van die opwindendste werksvelde waarby sy die afgelope vyf jaar betrokke was, is die “Seeds of Good Anthropocenes"-inisiatief, wat daarop gemik is om radikaal alternatiewe, volhoubare toekomste voor te stel.

“Om maniere te vind om by sodanige toekomste uit te kom, is een van die opwindendste en belangrikste navorsingsgebiede in die volhoubaarheidsveld. Dis ook die fokus van 'n groot gedeelte van my en die groter CST-span se toekomstige werk."

​Biggs is ook verbonde aan die Stockholm Resilience Centre in Swede. Sy is tans medevoorsitter van die wetenskapkomitee van die internasionale Program on Ecosystem Change and Society, lei die Southern African Programme on Ecosystem Change and Society en dien in die Suid-Afrikaanse Global Change Science Committee. Sy dien ook in die direksie van die Beijer Institute of Ecological Economics in Swede en die wetenskaplike raad van die internasionale Resilience Alliance. Sy was 'n koördinerende hoofskrywer van die onlangse Intergovernmental Platform on Biodiversity and Ecosystem Services Assessment.