Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US en Paul Roos Gimnasium ontwikkel binnenshuise krieketfasiliteit, veeldoelige sportveld
Outeur: Operations and Finance
Gepubliseer: 03/02/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) en Paul Roos Gimnasium het 'n ooreenkoms onderteken om 'n selfonderhoudende binnenshuise krieketfasiliteit op die skool se eiendom, oorkant die hoofkrieket-ovaal, ontwikkel. Die US gaan ook 'n veeldoelige sportveld op 'n aangewese gedeelte van sy eiendom langs die nuwe binnenshuise fasiliteit ontwikkel.

“Befondsing van Remgro, die US en Paul Roos Gimnasium het hierdie ooreenkoms moontlik gemaak en die bou van die nuwe fasiliteit ter waarde van byna R15 miljoen het vroeg in 2021 begin. Die US is opgewonde oor die rol wat hierdie fasiliteit sal speel om die gehalte van krieketopleiding in Stellenbosch te verhoog," het prof Stan du Plessis, Uitvoerende Bedryfshoof van die US, gesê. Die fasiliteit sal deur alle betrokke partye gebruik word.

Andre van Staden, die Rektor van Paul Roos Gimnasium, het gesê hy is opgewonde dat hulle hierdie binnenshuise krieketfasiliteit kan ontwikkel. Dit gaan baie waarde tot die skool se krieketprogram toevoeg. Ons sien daarna uit om in samewerking met die US 'n nuwe fasiliteit te skep wat studente en die breër gemeenskap in Stellenbosch kan benut."​