Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maggie Laubser-kunsversameling gedigitaliseer
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 28/01/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) Museum het sy aansienlike Maggie Laubser-kunsversameling gedigitaliseer. Dít bied navorsers op enige plek ter wêreld nou toegang tot hierdie ryke versameling van een van Suid-Afrika se voorste kunstenaars via die SUNDigital Collections-platform van die US Biblioteek.

“Die digitalisering van die Laubser-kunswerke verbeter toegang tot die Universiteit se versameling en is 'n opwindende mylpaal in die US Museum se geskiedenis," sê Ulrich Wolff, kurator van die US Museum.

Self Portrait.jpg
 

Bo: Maggie Laubser self portret

Volgens Wolff is die doel van die aanlyn versameling nie om as 'n plaasvervanger te dien vir die persoonlike besigtiging en ervaring van die kunswerke by die museum nie, maar om die publiek se toegang tot en bewustheid van die versameling te verhoog. “Digitale toegang wek bewustheid van die versameling. As ons die versameling nié aanlyn beskikbaar stel nie, sal baie mense gewoon nie van die Maggie Laubser-versameling weet nie. Ek hoop meer lede van die publiek sal nou na die werk kan kyk én dalk 'n besoek aan die US Museum beplan om die Maggie Laubser-versameling persoonlik te kom aanskou," sê Wolff.

Maria Magdalena (Maggie) Laubser (1886–1973) was 'n skilder en afdrukmaker. Daar word algemeen aanvaar dat sy en Irma Stern die eerste ekspressionistiese kunstenaars in Suid-Afrika was. Die SUNDigital Collections-platform bevat 150 van haar kunswerke.

Die US Museum is besig om ook 'n hele aantal van hulle ander kunsversamelings te digitaliseer en op die platform te plaas. “Ons digitaliseer nou al 'n geruime tyd ons versamelings. Dit maak deel uit van die proses om 'n argief of databasis van 'n kunsversameling in stand te hou. Die toeganklikheid van die beelde aanlyn maak dit soveel makliker om na die versamelings te kyk, en sal die publiek hopelik ook nuwe waardering gee vir wat die Universiteit in sy argief bewaar," sê Wolff.

Om na die digitale weergawe van Maggie Laubser se kunsversameling te kyk, klik hier. ​

Daar is ook 'n publikasie wat fokus op Maggie Laubser se 149 skilderye in die kunsversameling van die Universiteit Stellenbosch wat beskikbaar is by African SUN Media.​

Meer oor Maggie Laubser

Maggie (Maria Magdalena) Laubser (1886-1973) was 'n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat aan die Slade Skool vir Skone Kunste in Londen gestudeer en sy aan sy met Duitse ekspressioniste in Berlyn gewerk het.

Sy is op die koringplaas Bloublommetjieskloof naby Malmesbury in die Swartland gebore. Haar verbintenis met Stellenbosch het begin as 'n kosskoolleerling by Bloemhofskool, wat – ironies genoeg – destyds geleë was in die einste gebou in Ryneveldstraat waar die US Museum nou is.

Sy sou mettertyd 'n spesiale band met die Universiteit Stellenbosch vorm. Haar eerste solo-uitstalling is in 1930 in die Ou Hoofgebou aangebied, en sy het in haar testament 134 werke in verskeie media aan die Universiteit bemaak. ​