Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dokter oorkom gesondheidskwessies en word SA se top oftalmologie-student
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 15/12/2020

Wanneer dr Wilna Rautenbach haar MMed (Oftalmologie) in Desember ontvang, is dit nie net cum laude nie, maar sy is ook vanjaar die top oftalmologie MMed-student in die land. 

Dit is ʼn merkwaardige prestasie vir Rautenbach, wie tans in privaat praktyk in Kaapstad werk. 

Die afgelope twee jaar was besonders uitdagend vir haar aangesien sy met ʼn longtoestand gediagnoseer is, en ses weke voor die finale eksamen – wat in Februarie was – het haar toestand versleg, wat die tydperk voor haar eksamen besonder moeilik gemaak het. 

Rautenbach het ʼn medalje van die Kollege van Geneeskunde ontvang vir die beste student in FC Ophth(SA), en sy sê dit was danksy die ondersteuning van familie en vriende, asook ʼn “baie goeie dokter" dat sy goed na omgesien voor en tydens die eksamen. 

Oftalmologie gaan oor die diagnose en behandeling van oogkondisies, en om ʼn oftalmoloog te word moet die spesialis eers ʼn mediese graad ontvang, gevolg deur vier of vyf jaar van oftalmologie kliniese opleiding.

Tydens ʼn onderhoud het Rautenbach gesê dat sy ingenome is met haar prestasie en dat sy “baie gelukkig en bevoorreg" was om by die Universiteit Stellenbosch te kon studeer. “Ons het een van die beste oftalmologie-departemente in die land. Dit was ʼn groot voorreg om saam met professor David Meyer (hoof van die Afdeling Oftalmologie asook uitvoerende hoof van die Departement Chirurgiese Wetenskappe) en ander konsultante in die departement te kon saamwerk. Dit is nie iets wat mens op jou eie bereik nie en dit kom van opleiding en mentorskap van baie senior dokters oor die afgelope paar jaar. Ek moet erken dat ek bly is dat die studies nou verby is," het sy gesê.

Rautenbach het op ʼn plaas tussen Senekal en Marquard in die Vrystaat grootgeword, en het haar mediese graad by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein verwerf. Sy het haar internskap in Bethlehem gedoen en haar gemeenskapsdiens by ʼn hospitaal in QwaQwa in die ooste van die Vrystaat.

Sy het haar passie vir oftalmologie ontdek terwyl sy in die oostelike Vrystaat gewerk het. “Ek het saam met twee ander oogdokters gewerk wat my in kontak gebring het met pasiënte met katarakte en my aan die chirurgiese tegnieke voorgestel het. Van daar af was ek passievol oor oftalmologie.

“Ek het besef dat daar ʼn mediese veld is wat skoon en presies is en wat goeie uitkomste met chirurgie lewer. Dit behels mikrochirurgie en dit is fassinerend en baie lonend om met pasiënte te werk wat so te sê blind is van die katarakte, wat die dag na hul operasie weer duidelik kan sien."

Rautenbach skryf haar akademiese sukses toe aan “baie gebede en genade".

“As jy leer vir ʼn dokter, leer jy nie vir die punte nie maar liewer om genoeg te weet sodat jy jou pasiënte goed kan behandel. Ek het nie vir die akademiese prestasie gemik nie, dit is net ʼn ekstra waarvoor ek baie dankbaar is."

Wanneer sy nie werk nie geniet Rautenbach dit om bergfiets te ry, in die natuur te stap, te draf en om langs die strand te stap “in die pragtige Kaapstad-omgewing". Sy het ook onlangs met ʼn nuwe stokperdjie begin – sweefski. “Ek het op ʼn plaas groot geword en is baie lief vir die natuur," het sy gesê.

Oor haar langtermyndoelwitte sê Rautenbach neem sy dit dag vir dag. “Hierdie jaar het vir my gewys dat niks regtig in ons hande is nie en dat dit nie noodwendig help om langtermyndoelwitte te maak nie aangesien alles so skielik kan verander. Vir nou wil ek net vir elke pasiënt wat ek sien die beste diens moontlik gee."