Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-student ontwikkel waardevolle graderingsisteem vir heuningbostee
Outeur: Faculty of Agrisciences
Gepubliseer: 14/12/2020

Teeliefhebbers herken 'n goeie koppie heuningbostee wanneer hulle dit proe: Dit het net die regte kombinasie van aroma, kleur en smaakeienskappe.

 Maar hoe onderskei 'n mens tussen keurgraadtee en middelmatige infusies? En hoe omskryf en kwantifiseer jy die verskille op 'n manier wat gehaltebeheer in die voorsieningsketting daarvan help verbeter?

Brigitte du Preez het in haar doktorale studie op hierdie vrae gefokus. Sy het haar graad van die Universiteit Stellenbosch se  departement Voedselwetenskap ontvang by die Fakulteit AgriWetenskappe se gradeplegtigheid wat Maandag, 14 Desember gehou is.​

Du Preez se proefskrif is getiteld Development of a quality grading system for the honeybush (Cyclopia spp.) tea industry. Haar studie is deel van die Landbounavorsingsraad (LNR) se navorsing oor heuningbostee waaraan US-navorsers meewerk.

Du Preez het met haar haar navorsing 'n sisteem ontwikkel om 'n sensoriese 'gehaltestempel' aan verskillende produksielotte toe te ken. Die sensoriese gehalte van heuningbostee — die aroma, voorkoms en smaak daarvan — is deurslaggewend om tussen gehalte-tee en swak produkte te onderskei, sê sy

“Heuningbostee het 'n herkenbare blomagtige, appelkoos-, karamel- en fynbos-soet aroma en soet smaak," verduidelik Du Preez. “Die kenmerkende sensoriese profiel daarvan is gekarteer en kan gebruik word om kwaliteitsgradering van verskillende produksielotte mee te doen."

Die heuningbosteebedryf het die afgelope twee dekades gegroei van 'n plaaslike bedryf tot 'n rolspeler in die internasionale kruieteebedryf, een van die snelgroeiendste onderafdelings in die sektor vir warm drankies. Mededinging in dié mark is egter volop en en daar is heelwat uitdagings vir die bedryf om sy markaandeel te vergroot.

Tot dusver was daar geen gestandaardiseerde maatreëls om die sensoriese aspekte van heuningbostee mee te beoordeel nie. Kommersiële prosesseerders, verpakkers en bemarkers gebruik verskillende maniere om die sensoriese gehalte van heuningbostee te bepaal en dit oor te dra. Regeringsregulasies in Suid-Afrika bevat ook nie spesifieke sensoriese kwaliteitstandaarde hieroor nie. Tee van wisselende gehalte beland gevolglik in die markplek.

Du Preez se navorsing kan help om van hierdie uitdagings die hoof te bied. Sy het 'n vinnige en betroubare kwaliteitgraderingstelsel ontwikkel met insette van rolspelers in die bedryf. Dié stelsel bied 'n wetenskaplik begronde manier om die sensoriese eienskappe van verskillende teelotte mee te bepaal en te beskryf.

Du Preez het 'n omvangryke datastel as vertrekpunt hiervoor gebruik. Die datastel is gegrond is op die sensoriese ontledings, kleur en troebelheid (turbiditeit) van 585 produksielotte wat tee van goeie sowel as van 'n mindere gehalte verteenwoordig. Sy het gefokus op drie heuningbosspesies van kommersiële belang (C. intermedia, C. subternata and C. genistoides).

Du Preez het universele chemiese verwysingstandaarde geïdentifiseer om voedselgebaseerde

verwysingstandaarde te vervang wat in die aromaleksikon van heuningbostee aangedui word. Hierdie leksikon is 'n gestandaardiseerde, beskrywende woordeskat wat gebruik word om die sensoriese eienskappe daarvan te beskryf. Die chemiese verwysingstandaarde verteenwoordig die spesifieke aromakenmerke van die tee. Dit kan gebruik word om teeverwerkers en bemarkers te help om heuningbos se sensoriese woordeskat, waaronder beskrywings soos 'fynbos-soet' en ongewenste smake soos 'medisinaal' en 'rokerig', te begryp en oor te dra.

Du Preez het voorts verskillende klasse van sensoriese gehalte en spesifikasies vir 'hoë', 'gematigde', 'lae' en 'swak' kwaliteitsklasse ontwikkel, deur verskillende eienskappe van die tee te integreer. 'Hoë' gehalte verwys na tee van top-gehalte en 'gematigde' na die gehalteklas wat as die minimum-aanvaarbare standaard vir hierdie produk beskou word. 'Lae' gehalte verwys na die minimum-aanvaarbare standaard om te gebruik indien produksielotte tee voor verpakking gemeng moet word, en 'swak' gehalte verteenwoordig die klas tee wat die industrie behoort af te keur.

“Hoë-gehalte heuningbostee het 'n rooierige bruin kleur, 'n hoë intensiteit van blomagtige, vrugtige en soet aromas, met 'n effense soet smaak en 'n vrank mondgevoel," verduidelik Du Preez. “Tee van swak gehalte word gekenmerk deur 'n oorwegend smaaklose sensoriese profiel en hoë intensiteit van ongewenste smake, waaronder 'rookagtig', 'medisinaal' en 'muwwerig'."

Du Preez se nuwe graderingstelsel en hulpmiddels vir gehaltebeheer kan nou regdeur die voorsieningsketting gebruik word. Die hulpmiddels sluit in 'n hersiene aromaleksikon en aromawiel wat die kenmerke van heuningbostee en die intensiteit daarvan visueel aandui, asook 'n tellingkaart en 'n kleurverwysingskaart wat in roetine-gehaltebeheer gebruik kan word. Sy het ook twee vinnige metodes vir sensoriese gradering getoets wat gebruik kan word om 'n groot aantal produksielotte van wisselende sensoriese kwaliteit, doeltreffend te beoordeel.

Die nuwe manier waarop Du Preez sensoriese gehaltebeheermetodes toegepas het, kan gebruik word deur maatskappye om produksielotte vinnig te beoordeel om sodoende die regte hoeveelhede waarin teelotte van verskillende kwaliteitsklasse gemeng word te bepaal, asook deur navorsers gemoeid met heuningbosplantteling.

Die aromaverwysingstandaarde kan teeverwerkers en bemarkers help om heuningbos se sensoriese woordeskat (soos 'fynbos-blomagtig') en die terminologie vir ongewenste smake daarvan soos 'medisinaal' en 'rookagtig' beter te begryp. Dit kan hulle help om ondubbelsinnig oor heuningbos te kommunikeer met behulp van gestandaardiseerde begrippe, asook die roetine-sensoriese gehaltebeheerproses te vereenvoudig.

Laastens kan die nuwe stelsel en hulpmiddels ook as vertrekpunt dien vir beheerregulasies hieroor wat betref sertifisering en uitvoerbeheermaatreëls.

Sensoriese kwaliteitsbeheer is van sleutelbelang om die volhoubare groei van die bedryf te verseker, meen Du Preez. “Dit is ook nodig om te verseker dat goeie teegehalte nie ingeboet word in die teel van plantmateriaal as deel van navorsing nie.

“Soos wat die aanvraag na heuningbostee toeneem, moet alle produksielotte aan die beste gehaltestandaarde voldoen. Net gehalte-teelotte behoort die markplek te bereik," sê sy.

Haar studieleiers was prof. Lizette Joubert van LNR Infruitec-Nietvoorbij en dr. Erika Moelich en Nina Muller van SU.

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het die navorsing gefinansier in samewerking met die Suid-Afrikaanse Heuningbostee-vereniging en die Departement van Wetenskap en Innovasie (DSI).

Meer oor heuningbostee

Heuningbostee is 'n eg Suid-Afrikaanse kruietee afkomstig van die gefermenteerde blare en stamme van die heuningbosteeplant (Cyclopia spp.). Dit is genoem na die heuningagtige aroma van die plant se helder geel blomme. Hierdie endemiese fynbosstruik groei natuurlik in 'n gebied wat strek van Piketberg in die Wes-Kaap tot Port Elizabeth in die Oos-Kaap.

Die inheemse Khoi-San-inwoners van die Wes-Kaap was waarskynlik die eerste mense wat tee afkomstig van die heuningbosteeplant gemaak het, waarskynlik vir medisinale doeleindes. Kommersiële heuningbosboerdery was beperk tot in die vroeë negentigerjare.

In Suid-Afrika is 23 heuningbosspesies wat reeds beskryf is. Elkeen van hierdie spesies het 'n tipiese natuurlike verspreidingsgebied — party verkies sanderige kusvlaktes, ander floreer aan koel, klam berghange. Die verskillende spesies het verskillende geurprofiele en teeprosesseerders meng dikwels twee of meer spesies om deurlopend smaaklike produkte te verseker.

Heuningbos is kafeïenvry en bevat min tannien, asook hoë vlakke van natuurlike oksidante.

Sowat 350 ton heuningbostee wat plaaslik verwerk is, is in 2019 uitgevoer, onder meer na lande soos Suid-Korea en Japan.