Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Hester Klopper ontvang gesogte genootskap
Outeur: Wayne Muller
Gepubliseer: 04/12/2020

​Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering aan die Universiteit Stellenbosch (US), het nog ʼn eerbewys ontvang. Op 14 Desember 2020 word sy ingehuldig as ʼn Genoot Ad Eundem van die Fakulteit Verpleegkunde en Verloskunde van die Royal College of Surgeons in Ierland (RCSI).

Die Genootskap Ad Eundem is ʼn gesogte toekenning wat deur die Fakulteit van die RCSI toegeken word aan individue as erkenning vir hul werk en prestasies in verpleegkunde en verloskunde, asook hul bydraes tot verpleegkunde, verloskunde, gesondheidsorg, onderwys en navorsing.

Prof Klopper, wat ook ʼn hoogleraar in die US se Departement Globale Gesondheid in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe is, is benoem, waarna ʼn beoordelingsproses gevolg is deur ʼn oorsigkomitee en die Skool, tot die uiteindelike goedkeuring deur die Fakulteitsraad vir Chirurgie en Nagraadse Studie. Hierdie genootskap is veral gesog in Europa, en prof Klopper sal die eerste uit Suid-Afrika wees wat in hierdie genootskap aangestel word.

As internasionale akademiese leier dien prof Klopper in die raad van die Consortium for Universities in Global Health (CUGH) en is ʼn genoot van die American Academy of Nursing (FAAN) en die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAf). In 2016 is ʼn eredoktorsgraad van die Oxford Brookes Universiteit aan haar toegeken vir haar bydrae tot verpleegonderrig en navorsing wêreldwyd.

Tydens die RCSI se virtuele toekenningseremonie sal prof Klopper haar verklaring en bevestiging as Genoot aflê in die teenwoordigheid van die president van die RCSI en die dekaan van die Fakulteit Verpleegkunde en Verloskunde.

“Ek voel bevoorreg om hierdie genootskap te ontvang. Dit is altyd ʼn groot eer as jy deur jou eweknieë erken word vir jou werk. As viserektor is ʼn groot deel van my portefeulje om die US se internasionale profiel te ontwikkel en bevorder, en ek is seker dat hierdie genootskap my ook die geleentheid sal bied om ons saak te bevorder om die US se internasionale voetspoor voortdurend uit te brei," sê prof Klopper.

Die US-raad het op Maandag 30 November ook bevestig dat prof Klopper van 1 Augustus 2021 weer as Viserektor: Strategie en Internasionalisering vir ʼn tweede termyn van vyf jaar aangestel word.