Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe US-jaarboekdele slegs aanlyn beskikbaar
Outeur: Registrar's Division
Gepubliseer: 26/11/2020

​Al 13 dele van die Universiteit Stellenbosch-almanak (jaarboeke) wat tot 2020 nog jaarliks in gedrukte en digitale vorm verskyn het, sal in die toekoms slegs in digitale formaat op die Universiteit se webwerf beskikbaar wees. Hierdie reëling sal vanaf die verskyning van die 2021-uitgawes geld. 

In oorleg met die Akademiese Beplanningskomitee (ABK) het die Rektoraat op 4 November 2020 ooreengekom dat die US nie meer gedrukte eksemplare van die jaarboeke gaan verskaf nie. Die webgebaseerde 13 dele van die publikasie – Algemene Jaarboek (deel 1), Beurse en Lenings (deel 2), Studentegelde (deel 3) en een deel elk per fakulteit – asook bygewerkte addenda sal as die gesaghebbende weergawes van die jaarboeke beskou word.

Sedert die staat van algehele inperking weens die COVID-19-pandemie in Maart vanjaar begin het, het die US daarop gefokus om die akademiese jaar op koers te hou, asook op 'n nog groter oorgang na die digitale wêreld en institusionele volhoubaarheid. Namate die land van die een risikovlak na die volgende beweeg het, moes daar weens die veranderinge om weg van die kampus af te funksioneer en die geleidelike heropening verskeie aanpassings aan die 2020-akademiese programme gedoen word.

Hoewel hierdie veranderinge onder die aandag van die US-gemeenskap gebring is en ook op die US-almanak se webblad verskyn het, was daar steeds 'n risiko dat studente of personeel van die veranderinge kon misgekyk het en kon aangeneem het dat die gedrukte jaarboekdele die jongste inligting bevat. Met die onsekerhede en moontlike veranderinge wat na verwagting in 2021 sal voortduur, laat die digitale weergawes baie meer buigbaarheid toe en kan dit onmiddellik bygewerk en aangepas word, wat die risiko van verkeerde en verouderde inligting in die “harde kopie"-weergawes verminder.

Om maklike toegang tot die digitale weergawes van die jaarboek-dele te verseker, sal die volgende in werking gestel word:

  • Skakels na die US-almanak se webblad sal duidelik sigbaar wees op die US se tuisblad en webblaaie van die fakulteite en die biblioteek, asook personeel- en studenteportale.
  • Alle studente sal in kennis gestel word van die beskikbaarheid van die digitale Almanak-webblad met die toepaslike skakels na die jaarboekdele.
  • 'n Kennisweging oor die aanlyn jaarboekdele sal op die US se sosialemediaplatforms verskyn.

Hoewel al die jaarboekdele op die US se sentrale webruimte vir eksterne en interne besoekers beskikbaar is, sal dit ook op die SUNStudente-platform wat tans ontwikkel word, ingesluit word om omvattende inligting oor die volle akademiese aanbieding in 'n interaktiewe katalogus aanlyn beskikbaar te stel. Die beplande inwerkingstelling van die hierdie aanlyn katalogus is geskeduleer vanaf 2022.

Die kampusgemeenskap sal in kennis gestel word sodra die 2021 jaarboekdele op die webwerf beskikbaar gestel is.