Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vennootskappe noodsaaklik vir uitbreiding van digitale leer gedurende pandemie
Outeur: Chris Jones
Gepubliseer: 09/11/2020

Vennootskappe tussen rolspelers in die onderwys en burgerlike organisasies kan help verseker dat meer kinders in Suid-Afrika toegang tot digitale leer het, skryf dr Chris Jones (Eenheid vir Morele Leierskap) in ʼn meningsartikel vir News24 (7 November 2020).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Chris Jones*

Nasionale Kinderdag, wat elke jaar op die eerste Saterdag in November gevier word, is daarop gemik om die vordering wat gemaak is in die bevordering en verwesenliking van kinderregte te herdenk en te beklemtoon. 

In Suid-Afrika wil ons hê elke kind moet vry van mishandeling, verwaarlosing en uitbuiting wees. Kinderregte is dus 'n belangrike deel van ons Grondwet en is ingesluit in Artikel 28 van die Handves van Regte.

Daar is ook ander wetgewing wat ons kinders beskerm, soos die Kinderwet, 2005 (Wet 38 van 2005), wat dit 'n kriminele oortreding maak indien 'n persoon wat 'n kind moet onderhou, nie aan die kind klere, huisvesting en mediese sorg verskaf nie; die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997 (Wet 75 van 1997) wat dit onwettig maak om 'n kind jonger as 15 in diens te neem; die Wet op Gesinsgeweld, 1998 (Wet 116 van 1998) wat verskillende vorme van gesinsgeweld definieer en verduidelik hoe 'n kind 'n beskermingsbevel teen sy of haar mishandelaar kan verkry; en die Wet op Films en Publikasies, 1996 (Wet 65 van 1996) wat kinders teen uitbuiting in kinderpornografie beskerm.

Hierdie artikel fokus egter meer spesifiek op Artikel 29(1)(a) van die Handves van Regte wat met die volgende begin: “Elkeen het die op basiese onderwys …".

Gelukkig is hierdie reg met verstandigheid gedurende die huidige pandemie verseker deur middel van gesprekke, vennootskappe en kreatiwiteit om die ingewikkeldheid waarin die wêreld homself die afgelope maande bevind het, aan te spreek.

COVID-19 het nie net grootskaalse ontwrigting in die sosiale en ekonomiese lewens van samelewings en gemeenskappe teweeg gebring nie, maar ook in skole.

Ons moet tans hierdie onbeheerbare golf van verandering hanteer waarvan ons die aard ten beste net kan probeer verstaan, ten einde dit in die rigting van 'n gunstiger toekomstige uitkoms te stuur. Die aard van die pandemie word deur die Sentrum vir Postnormale Beleids- en Toekomsstudie beskryf as “'n era waarin ou regsinnighede uitsterf, nuwes na vore kom en baie min dinge sin maak".

Die onderwys is nie deur COVID-19 gespaar nie. Daarom word die verdienstelike werk wat UNICEF in Suid-Afrika doen, hier beklemtoon. Dit het in samewerking met verskeie vennote “toegang tot digitale leer uitgebrei … terwyl daar op die lesse wat geleer is, gefokus is en skakels na verwante hulpbronne verskaf is". 

Hierdie pogings, wat in samewerking met die Departement van Basiese Onderwys (DBO) aangewend word, is deurslaggewend vir Suid-Afrika se onderwysreaksie op COVID-19 “om massa e-leer, aanlyn en toepassinggebaseerde toegang tot insette van die private sektor uit te bou … om nuwe digitale leerinhoud vir voorskoolse en laerskoolleerders te ontwikkel".

Strategieë sluit ook radio- en TV-uitsendings in – veral vir die dae waarop die leerders nie skoolgaan nie – om daardie kinders te bereik wat nie toegang tot toestelle en die internet het nie. Die heropening van ons skole, soos ons weet, is landswyd in fases gedoen en weens die fluktuasies in COVID-19 is verskeie stappe vorentoe en agtertoe geneem.

Die DBO moet egter geloof word vir hul hibriede model wat sosiale afstandskepping, ontsmetting en die dra van maskers verseker, terwyl 50% van leerders op 'n rotasiegrondslag skool toe gaan op afwisselende dae.

'n Onlangse nasionale opname deur UNICEF toon dat slegs 11% van alle jongmense in Suid-Afrika toegang het tot 'n skootrekenaar en die internet, terwyl 41% 'n behoefte aan inligting oor vaardigheids- en opleidingsgeleenthede aangedui het. Dit toon die behoefte aan toenemende toegang tot inligting en data. UNICEF ondersteun ook 'n platform waar ons studente met die DBO in gesprek kan tree oor hul leer en algemene welstand.

Vennootskappe was noodsaaklik in Suid-Afrika se suksesse in die uitbreiding van digitale leer gedurende COVID-19. Die Leer deur Speel-stigting (LEGO) het $1 miljoen verskaf om tuisgebaseerde leer van vroeë kinderontwikkeling tot op sekondêre vlak te ondersteun en het 7,8 miljoen Suid-Afrikaners tot voordeel gestrek. Hierdie digitale hulpbronne word steeds gebruik noudat die skole heropen het. Geld wat van die LEGO-stigting ontvang is “het ook die ontwerp, finalisering en aanbied van ECD Mobi, 'n virtuele hulpbronnekamer vir ouers, versorgers en opvoeders moontlik gemaak wat aan hulle idees verskaf om hul kinders se leer deur speel te ondersteun volgens hul ouderdom". Die Tshwagarano Ka Bana-reeks (Kom ons speel, leer en groei saam) en die Active Learning@Home-program fokus onderskeidelik op voorskoolse kinders en laer- en hoërskoolleerders.

UNICEF ondersteun ook winter- en somerskoolprogramme vir meer as 150 000 hoërskoolleerders in wiskunde en wetenskap deur 'n digitale onderrigintervensie en deur leerders in verskeie tegnologieë wat robotika en ander dinamiese innovasies behels, op te lei. Op hierdie manier word digitale geletterdheid en leer geprioritiseer.

WoZa Matric, wat op SABC3, aanlyn platforms en radiostasies uitgesaai word, verskaf bykomende digitale studiemateriaal, tegnieke en psigososiale ondersteuning aan matrikulante terwyl hulle vir hul eindeksamen voorberei.

Ondanks die goeie bedoelings, beklemtoon aanlyn leer ongelukkig ongelykhede. Omdat net 'n klein aantal huishoudings toegang tot rekenaars en die internet het en datakoste hoog bly, is digitale leer vir baie kinders, veral dié in landelike gebiede, moeilik. Alternatiewe strategieë is duidelik nodig om kwesbare gemeenskappe te bereik.

Ten minste herbedink UNICEF die onderwys deur nuwe inisiatiewe wat daarop gemik is om internettoegang en toegang tot digitale leer 'n werklikheid vir alle kinders te maak. Sy “Herbedink Onderwys"-inisiatief stem ooreen met ons regering se Nasionale Jeugbeleid 2020–2030 om adolessente te bemagtig. Dit word deur digitale en ander vaardighede van die 21ste eeu gedoen om nie net deure tot nuwe maniere van leer te help open nie, maar ook tot verbeterde lewensvooruitsigte wat 'n gladder oorgang van skool na tersiêre onderrig en behoorlike werk moontlik maak.

* Dr Chris Jones is die hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.