Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
International Ooptoegang Week: fokus op Oop Data
Outeur: Samuel Simango​
Gepubliseer: 20/10/2020

Internasionale Ooptoegang Week is 'n jaarlikse gebeurtenis in terme van wetenskaplike kommunikasie wat op Ooptoegang en verwante temas fokus en vind jaarliks tydens die laaste week van Oktober plaas. Die tema vir vanjaar is “Open with Purpose: Taking Action to Build Structural Equity and Inclusion". In lyn met hierdie tema het die Biblioteek- en Inligtingdiens vanjaar besluit om die kollig op Oop Data as 'n aspek van Oop Wetenskap te plaas en om die navorsingsgemeenskap bewus te maak van die belangrikheid van Oop Data. Die biblioteek bestuur SUNScholarData, die institutionele navorsingsdatabewaarplek, en wil ook graag die groei van hierdie platform uitlig.

Oop Data is 'n subkomponent binne die breër konteks van Oop Navorsing. Die bestaan daarvan is grootliks te danke aan die toenemend prominente rol wat navorsingsdata speel in die wêreld van wetenskaplike navorsing. Die stukrag agter die oopmaak van navorsingsdata was die begeerte om data te demokratiseer sodat enige persoon toegang tot data kan geniet sonder beperkings soos o.a. koste. Die behoefte is egter breër en word gekoppel aan sekere voordele wat uitvloei na die gemeenskap in geheel. Voorbeelde hiervan sluit die volgende in: Verbetering in die kwaliteit van navorsingsdata; voldoening aan etiese en regsgebaseerde vereistes; vermindering in die duplikasie van dataversameling; 'n toename in die beskikbaarstelling en verspreiding van inligting en uiteindelik kennis in die brëer samelewing.

Die laaste punt hierbo kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die feit dat lede van die gemeenskap nou meer geredelik toegang het tot navorsingsdata as gevolg van ooptoegang kan lei tot meer inklusiewe en regverdige uitkomste. Uitkomste is inklusief in die sin dat dit meer mense as ooit tevoere toegang gee tot navorsingsdata as gevolg van die uitskakeling van toegangshindernisse. Dit maak ook die speelveld gelyk deur individue sonder finansiële hulpbronne 'n gelyke geleentheid te gee vir toegang tot navorsingsdata as diegene wat wel oor die nodige hulpronne beskik. As gevolg van die afwesigheid van toegangskoste word daar voorsien dat die gebruik van navorsingsdata ook sal toeneem. Die toename in produksie en daarstelling van navorsingsdata stryk ook met die toename in die gebruik van navorsingsdata oor dieselfde periode. Met die aanname dat alle ander faktore konstant bly word daar verwag dat beter vlakke van inklusiwiteit en regverdigheid in terme van toegang tot data bereik sal word in die toekoms.

Navorsingsdata kan deur middle van die volgende metodes beskikbaar gemaak word: Publikasie as supplementêre data in akademiese joernale; publikasie as artikels in datajoernale en publikasie deur middle van digitale bewaarplekke.

In die verlede het navorsers meerendeels hul navorsingsdata toegangklik gemaak deur supplementêre data in akademiese joernale te publiseer, hoewel nie alle akademiese uitgewers dit vereis het nie. Daar is dus in die algemeen meer ruimte vir verbetering in terme van graad van ooptoegangklikheid van navorsingdata. Die ontwikkeling van digitale bewaarplekke het die aard van die navorsingspublikasie landskap verander deur die vul van hierdie leemtes.

Herkenning van die belangrike rol wat digitale navorsingsdata bewaarplekke kan speel in die fasilitering van beskikbaarstelling van oop navorsingsdata het gelei tot die ontwikkeling en bekendstelling van 'n institusionele bewaarplek vir die Universiteit Stellenbosch, SUNScholarData, op 12 Augustus 2019.

SUNScholarData is 'n institusionele navorsingsdatabewaarplek wat gebruik kan word vir die registrasie, argiefberging, deel en verspreiding van navorsingsdata wat gegenereer of versamel is vir navorsing gedoen onder die vaandel van die Universiteit Stellenbosch. SUNScholarData het 'n publieke koppelvlak wat gebruik kan word vir die soek en vind van inhoud. Dit beskik ook oor private gebruikersrekeninge wat US navorsers kan gebruik vir die oplaai, deel en publikasie van hul navorsingsdata. Verder laat die stelsel US navorsers toe om met navorsers van ander instansies saam te werk.

Die eerste datastel is op 7 Augustus 2019 in SUNScholarData gedeponeer. Sedertdien het die getal van opgelaaide datastelle teen 'n beskeie tempo toegeneem tot 84 datastelle waarvan 21 gepubliseer en toegangklik is. Hierdie datastelle is sedert Augustus 2019 9,564 keer besigtig en 1,559 kere afgelaai.

Die SUNScholarData stelsel fasiliteer ook die koppeling van supplementêre data wat oorspronklik aan akademiese uitgewers gegee is in grootmaat. Tans is dit slegs moontlik met navorsingsdata geassosieer met die Public Library of Science (PLOS) joernale. Op 16 September 2020 is 3,508 PLOS datastelle aan SUNScholarData gekoppel. Hierdie datastelle dek die periode van 2006 tot 2020 en bied 'n wye blik op navorsingsdata uit verskeie akademiese velde.

SUNScholarData bied verskeie voordele aan US navorsers. Die grootste voordeel wat navorsers wat reeds in SUNScholarData gepubliseer het ondervind het is die verbeterde sigbaarheid wat die bewaarplek hul navorsingsdata bied. As gevolg van die feit dat SUNScholarData aanlyn beskikbaar is, bied dit 'n beter alternatief vir die stoor van navorsingsdata as op eksterne hardeskywe of plaaslike bedieners. Die stelsel bewaar data veilig ingevolge erkende ISO standaarde. Datastelle word voor publikasie beoordeel om kwaliteit en betroubaarheid te verseker. SUNScholar fasiliteer ook voldoening aan befondsingsvoorwaardes wat mag vereis dat data openbaar gedeel word na afloop van navorsingsprojekte. SUNScholardata fasiliteer ook voldoening aan beleid van akademiese uitgewers wat soms vereis dat navorsingdata geassosieer met artikels via navorsingsdata bewaarplekke beskikbaar gemaak word.

Navorsers wat meer wil leer oor SUNScholarData is welkom om die Bestuurder: Navorsingsdatadienste van die Biblioteek te kontak by ssimango@sun.ac.za.

Samuel Simango​