Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Saam vorentoe teen geslagsgebaseerde geweld
Outeur: Prof Wim de Villiers​: Rector and Vice-Chancellor
Gepubliseer: 14/10/2020

​Beste lid van die Universiteitsgemeenskap

Dit is vir my aangenaam om aan te kondig dat die gesamentlike werkgroepe wat verlede jaar op die been gebring is om geslagsgebaseerde geweld by ons instelling uit te roei, hul werk voltooi het en 'n finale verslag uitgebring het. Dit lê die grondslag vir alle belanghebbers om saam vorentoe te beweeg teen hierdie plaag op ons kampusse en in die breër samelewing.

Die verslag herbeklemtoon die Universiteit Stellenbosch (US) se zero-toleransie benadering tot geslagsgebaseerde geweld en dat ons daartoe verbind is om 'n omgewing en institusionele kultuur sonder geslagsgeweld te skep wat gelyke regte en sosiale geregtigheid vir almal bevorder. Ons veroordeel geslagsgebaseerde geweld en sal dit nie duld nie, en daarom werp ons alle beskikbare hulpbronne in die stryd om dit uit te roei.

Kom ek skets vinnig die agtergrond. Ná landswye protes teen geslagsgebaseerde geweld in 2019, het die beweging teen geslagsgebaseerde geweld by die US 'n versoekskrif aan die bestuur oorhandig waarop ons gereageer her. In daaropvolgende vergaderings is ses gesamentlike werkgroepe op die been gebring om sistemies op te tree om geslagsgebaseerde geweld te uit te roei en om die kwessies wat in die versoekskrif asook in die US-bestuur se antwoord geopper is, aan te spreek.

'n Lid van die Rektoraat het in elk van die ses werkgroepe gedien, wat voorts bestaan het uit verteenwoordigers van Universiteitstrukture wat met die onderwerpe onder bespreking gemoeid is, sowel as lede van die studentegemeenskap. Die werkgroepe het via dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Studentesake, aan die Rektoraat verslag gedoen.

Die onderskeie groepe se werk het gehandel oor (1) waardes en beginsels, (2) prosedures en prosesse, (3) koshuise en strukture, (4) geestesgesondheid en alkohol- en middelmisbruik, (5) opleiding en bewusmaking, en (6) veiligheid en sekuriteit. Die groepe het opdrag ontvang om die kwessies te ondersoek en aan te dui hoe dit die Universiteitsgemeenskap nadelig raak wat geslagsgebaseerde geweld betref. Hulle is ook versoek om spesifieke en werkbare aanbevelings te doen wat met lynfunksies verband hou.

Die werkgroepe het inligting ingesamel deur vergaderings en gespreksforums op die Stellenbosch- en Tygerbergkampus te hou en vraelyste te versprei. Die proses is ook uitgebrei deur alle studente en personeellede te nooi om skriftelike insette te lewer.

'n Voorlopige verslag is aan die Rektoraat voorgelê, waarop ons terugvoer gegee het, gevolg deur die finale verslag wat sedertdien tot 'n konsep-aksieplan verwerk is met die doel om geslagsgebaseerde geweld sistemies regoor die Universiteit in die kort- tot mediumtermyn aan te spreek.

Die finale verslag en konsep-aksieplan sal in die komende weke met institusionele liggame en ander betrokke rolspelers bespreek word sodat die spesifieke detail oor inwerkingstelling, insluitende tydsraamwerke, gefinaliseer kan word. Albei dokumente sal dan op die US-webwerf gepubliseer word.

Hierdie werk sal deur verskillende verantwoordelikheidsentrums by die Universiteit gedoen word en sal by die verskillende bedryfsfasette van ons instelling geïntegreer word. Gereelde vorderingsverslae sal aan die Rektoraat voorgelê word.

Ek moet egter beklemtoon dat die bekamping van geslagsgebaseerde geweld die gesamentlike verantwoordelikheid van die hele Universiteitsgemeenskap is. Soos dr Makhetha in haar inleiding tot die verslag sê, is hierdie stryd nie een wat enige groep op sy eie of afsonderlik van ander kan stry nie.

Die inwerkingstelling van die aksieplan sal op 'n deurlopende grondslag gemonitor word en die Universiteitsgemeenskap sal op hoogte gehou word van vordering.

 Die breër konteks van ons stryd teen geslagsgebaseerde geweld word deur die Grondwet van Suid-Afrika, die Wet op Hoër Onderwys, ander toepaslike wetgewing en die huidige US-statuut (wat in 2019 gepubliseer is) verskaf. Die Suid-Afrikaanse regstelsel is verantwoordelik vir die hantering van kriminele prosedures ingevolge toepaslike wetgewing.

Die US het opvoedkundige en veiligheidsmaatreëls om geweld sover as moontlik te bekamp. Die Universiteit het die mandaat om in ooreenstemming met ons Dissiplinêre Kode vir Studente, die Beleid op Onbillike Diskriminasie en Teistering, die Beleid oor die Gebruik van Alkohol, asook ons dissiplinêre kodes en prosesse op te tree. Dit sal alles hersien word met betrekking tot die voorstelle en tekortkominge wat in die verslag van die gesamentlike werkgroepe uitgewys is, asook die sleutelbeginsels van die 'Beleidsraamwerk om Geslagsgebaseerde Geweld aan te spreek in die Naskoolse Onderwys- en Opleidingstelsels' wat onlangs verskyn het.

Al ons aksies is ingebed in ons institusionele waardes van uitnemendheid, deernis, verantwoordwaarheid, respek en billikheid. Ons is gekant teen alle vorms van skade aan die waardigheid en welstand van individuele lede van ons Universiteitsgemeenskap.

Terwyl ons kontekstuele verskille erken, sal die US daarna streef om gelykwaardigheid op al ons kampusse te verseker deur die inwerkingstelling van verskeie maatreëls wat uit die aksieplan voortspruit ten einde alle vorms van geslagsgebaseerde geweld en ongelykheid uit te roei.

Ek wil by dr Makhetha aansluit deur my dankbaarheid teenoor al die personeellede en studente wat in die werkgroepe gedien het, uit te spreek. Ons waardeer die werk wat deur al die betrokkenes gedoen is om nie net kwessies en griewe te lug nie, maar ook opbouende voorstelle aan die hand te doen.

Ons bly daartoe verbind om met al ons studente en personeellede saam te werk om ons institusionele pogings teen geslagsgebaseerde geweld te versterk, en om onaanvaarbare gedrag en praktyke uit te roei.


Vriendelike groete
Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier​