Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nobelpryswenner tree as hoofspreker op by Departement Ekonomie se eeufeesviering
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 11/10/2020

Die Nobelpryswenner Abhijit Banerjee was die hoofspreker by 'n aanlyngeleentheid op Vrydag, 9 Oktober 2020, ter viering van die eeufees van die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Banerjee, hoogleraar in ekonomie aan die Massachusetts Institute of Technology, en twee kollegas, Esther Duflo en Michael Kremer, het verlede jaar die Nobelprys in Ekonomiese Wetenskappe ontvang vir "hul eksperimentele benadering om wêreldwye armoede te verlig".

In sy toespraak getiteld Good Economics in Hard Times – dieselfde titel as dié van die boek wat hy in 2019 saam met Duflo gepubliseer het – het Banerjee verwys na die belangrike ekonomiese kwessies waarmee die wêreld vandag te kampe het.

“Ons boek het teen die einde van 2019 verskyn en sedertdien gaan dit nie veel beter nie; ons beleef nou selfs moeiliker tye," het Banerjee gesê. “Die wêreld sukkel met 'n verskeidenheid prominente kwessies in die vorm van Brexit, handel, immigrasie, groei, ongelykheid, klimaatsverandering, COVID-19 en die gepaardgaande ekonomiese kwessies, asook rassisme en diskriminasie."

Teen die agtergrond van dié belangrike kwessies vaar ekonome nie juis goed om die openbare mening te beïnvloed nie, het hy bygevoeg.

Hy het verwys na 'n meningsopname wat in Brittanje gedoen is en wat die publiek se vertroue in kundiges in hul onderskeie velde gemeet het. Die resultate het getoon dat die menings van verpleegkundiges (84%), dokters, wetenskaplikes en historici as meer waardevol beskou word as dié van ekonome (25%) en politici.

Banerjee het gesê een van die redes waarom mense ekonome nie vertrou nie, is dat hulle dikwels foute maak met ekonomiese voorspellings.

“Dit toon dat ekonome beter daaraan toe is om nie ekonomiese voorspellings te maak nie. Maar die rede waarom ons dit doen, is omdat dit iets is wat baie sigbaar is en baie televisietyd daaraan gewy word. Mense hou daarvan om te weet wat die toekoms inhou.

“Maar daar is 'n dieperliggende probleem. Ons het 'n lang tradisie van mense wat reken dat maatskaplike kwessies wat nie gerig is op maksimum BBP (bruto binnelandse produk) nie, 'n fout is. Ek dink die algemene beskouing dat, om BBP te maksimeer as die enigste moontlike maatskaplike kwessie, aan die kern lê van een van die belangrikste meningsverskille tussen ekonome en ander."

Hy sê ekonome sukkel om in voeling te kom met mense se werklikheidsgevoel; daarom word hulle nie vertrou nie.

“Ekonome het bygedra tot die sienswyse dat regerings 'n probleem is. Maar die een ding wat die Covid-19-krisis ons geleer het, is dat ons regerings − wat ons dwing om maskers te dra of entstowwe en ventilators voorsien aan diegene wat dit nodig het − broodnodig het en dat ons versigtig moet wees wanneer ons die regering kritiseer. As daar 'n tydstip is vir die herbevestiging van die belangrike rol wat regerings speel, sou ek sê dis nou."

Banerjee meen ook dat die tyd aangebreek het om ekonomie en ekonomiese beleid te heroorweeg.

“Hierdie pandemie het ons geleer dat die natuur magtiger is as ons, dat dit van kritieke belang is dat ons klimaatsverandering bestry, en dat ons die regering en beleid daarvoor nodig het. Ons moet ook ons Victoriaanse babelaas te bowe kom – die idee dat armoede ons forte is, van minagting vir die armes. Ons moet waardigheid die middelpunt van sosiale beskerming maak. COVID-19 het bewys dat baie dinge wat met ons gebeur, nie ons fout is nie. Ons moet maatskaplike welsynstelsels ontwerp wat die onsekerheid in mense se lewens respekteer."

Prof Stan du Plessis, ekonomieprofessor en bedryfshoof van US, het die Departement Ekonomie gelukgewens met  sy honderste verjaarsdag en gesê hy hoop dat die toekoms nog rooskleurgier sal wees.

Dié voormalige president van die Ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika is al 'n kwarteeu lank by die departement betrokke, eers as student en later as personeellid.

“Ek bedank my huidige en voormalige kollegas vir die akademiese en kollegiale omgewing wat hulle oor die jare geskep en onderhou het. Dit het my en baie ander gehelp om ons belangstelling in ekonomie te ontdek en, met aanmoediging, te koester," het hy gesê.

Die aanlyngeleentheid het ook 'n paneelbespreking met die Minister van Finansies (en US-ereprofessor), mnr Tito Mboweni, oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse ekonomie ingesluit. Onder die paneellede was prof Rachel Jafta (ekonomieprofessor van US); mnr Sizwe Nxedlana (ekonoom); en dr Monique Nsanzabaganwa (adjunk-president van die Rwandese reserwebank en US-alumnus). Prof Nicola Theron was die gespreksleier.

  • Vir verdere inligting oor die Departement Ekonomie se eeufees, besoek die Departement se eeufees-webtuiste.​

  • Foto: Bryce Vickmark​