Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Goedgekeurde kwartaal- en eksamendatums vir 2021
Outeur: Registrar's Division
Gepubliseer: 02/10/2020

​Die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) het onlangs die kwartaal- en eksamendatums vir 2021 goedgekeur.

Verskeie faktore wat die onderwyssektor die afgelope jaar geraak het en 'n impak op die aanvang van 2021 sal hê, is in ag geneem. Dít sluit in die hersiene publikasiedatum van die matriekuitslae, naamlik 23 Februarie 2021, sowel as 'n voorskrif van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) dat hoëronderwysinstellings se akademiese jaar tussen 15 Maart en 15 April 2021 behoort te begin. As 'n instelling, het ons ook die impak van die afhandeling van A4-assesserings, die dekane se vergunningseksamens sowel as verskeie logistieke kwessies met betrekking tot die akademiese program oorweeg. Daarbenewens het ons die werklas van ons akademiese sowel as professionele administratiewe steunpersoneellede in aanmerking geneem, en die behoefte aan 'n behoorlike rustydperk voordat klasse begin.

 Die vernaamste implikasies vir die kalender van 2021 is soos volg:​

  • Klasse vir alle voorgraadse studente op Stellenboschkampus en vir eerstejaars op Tygerbergkampus sal op 15 Maart 2021 'n aanvang neem. Nietemin sal senior voorgraadse klasse wat deur die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op Tygerbergkampus aangebied word in Januarie/Februarie begin, soos wat die betrokke programrooster aandui.
  • Klasse vir gestruktureerde nagraadse programme sal na die goeddunke van die betrokke departemente 'n aanvang neem.
  • Alle ander nagraadse studie sal na die goeddunke van studente en hulle studieleiers 'n aanvang neem (soos wat normaalweg gebeur).
  • Saterdae bly eksamendae gedurende 2021 (soos tans die geval is) om eksamens binne die beskikbare getal dae te kan voltooi.​.
  • Die eksamens vir modules met hoë inskrywingsyfers sal vir die eerste twee weke van eksamentydperke geskeduleer word om dosente voldoende nasientyd te gun.
  • A4-eksamens sal vir die einde van Januarie, begin van Februarie, geskeduleer word om vir dosente se jaarverlof voorsiening te maak.
  • A4-eksamens vir finalejaarmodules sal so vroeg moontlik plaasvind om vir potensiële bykomende toelatings tot honneursprogramme voorsiening te maak.
  • Die gradeplegtigheid vir Maart 2021 sal oor vier dae plaasvind, naamlik 29 Maart tot 1 April.
  • Die gradeplegtigheid vir Desember 2021 sal van 13 tot 18 Desember aangebied word.

Die US se volledige almanak vir 2021 word tans in oorleg met die verskillende institusionele belanghebbendes opgestel, en sal teen die middel van November 2020 gepubliseer word.