Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe studie ondersoek impak van COVID-19 op vroue-akademici
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 30/09/2020

Die bevindings van 'n studie oor die impak van die COVID-19-grendeltydperk op vroulike akademici was die kern van 'n aanlyn-werksessie vir geslagsverryking wat op 28 September 2020 deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangebied is.

Die werkswinkel is deur prof Pregala (Solosh) Pillay, vise-dekaan: Sosiale Impak en Transformasie gereël en die gasspreker was prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in die Fakulteit Opvoedkunde.

Die nuwe studie, getiteld Geslagsongelykheid in die skadu van COVID-19, is die werk van prof Jansen en sy span. Dit is die eerste keer dat dié studie – wat 'n meningsopname  onder 2 029 akademiese vroue aan Suid-Afrikaanse universiteite gedoen het – openbaar gemaak word.

Die belangrikste bevindings van die studie, wat deur Jansen bespreek is, het die volgende beklemtoon:

  • ​In die grendeltydperk het akademiese werk vir vroue toegeneem (addisionele onderrig en ondersteuning) en meer intensief geraak (meer van dieselfde ding). Al die vroue in die studie het aangevoer dat hul werklas met akademiese administrasie dramaties toegeneem het. Dit het allerlei intellektuele en gesondheidsuitdagings meegebring.
     
  • Vroue wat van die huis af werk, sê die eise van hierdie nuwe werksomgewing (huiswerk, kindersorg) het 'n negatiewe uitwerking op hul akademiese uitsette gehad. Dié ruimte is dikwels oorbevolk en mededingend met almal wat toegang tot breëband wil hê. Dit het 'n groot impak op hierdie vroue se produktiwiteit gehad.
     
  • Die ontwrigting van vroue se akademiese werk het die voortbestaan van posisies en loopbane meer onseker gemaak as voorheen (dit sluit proeftydperke en bevorderings in). Dit het baie angs en spanning veroorsaak.
     
  • Die meeste vroue in heteroseksuele verhoudings het aangevoer dat hulle teruggeval het op tradisionele gesinsrolle, selfs al was 'n man teenwoordig of bereid om te help. Dit het die druk op hul akademiese werk verhoog en daartoe gelei dat hulle harder moes werk om verlore tyd in te haal.
     
  • Al die vroue het saamgestem dat die akademiese produktiwiteit van manlike akademici steeds floreer ondanks die pandemie. Alhoewel hierdie bevinding in ooreenstemming is met COVID-verwante navorsing in ander wêrelddele, hou dit verreikende gevolge in vir geslagsgelykheid.
     
  • Die belangrikste faktor wat die akademiese werk van vroue beïnvloed, is die teenwoordigheid van jong kinders in die huis. Dit was veral kommerwekkend tydens die vroeë grendeltydperk toe skole gesluit en huishoudelike hulp onbeskikbaar was. Die skuldgevoelens wat met die balansering van albei rolle gepaard gaan, lei tot 'n diep gevoel van hulpeloosheid wat allerlei emosionele probleme kan veroorsaak.
     
  • Vroulike akademici neem omgee- en ondersteuningsrolle in om angstige en behoeftige studente te ondersteun, en werk dikwels selfs tot laat in die nag om op e-posse te reageer. Dit het 'n vernietigende impak op vroue se akademiese werk, veral hul navorsing.
     
  • Ondanks die pandemie vereis die universiteitsbestuur steeds akademiese prestasie asof niks noemenswaardigs gebeur het nie.

Jansen het gesê dat die studie uniek is omdat dit 'n navorsingsbasis bied vir anekdotiese bewerings en dat dit “nie net hierdie bewerings ondersteun nie, maar ook kompleksiteit en nuanse daaraan verleen".

Hy het gesê dat hy besig is om 'n beleidstuk vir universiteite op te stel waarin aanbevelings gemaak word oor die vermindering van akademiese en gesondheidsrisiko's vir vroulike akademici. Dit sluit die beskikbaarstelling van befondsingshulp in, asook hoe om die akademiese kalender met betrekking tot proeftydperke en bevorderings aan te pas.

Volgens Jansen beoog hulle om die studie teen die einde van 2020 te voltooi. Dit sal dan aan 26 universiteite voorgelê word.

In haar toespraak het Pillay gesê dat vroue 'n onderverteenwoordigde groep in die akademie is wat aan diskriminasie in onderrig, navorsing, salarisse en bevordering blootgestel word.

“Die pandemie het tot meer verantwoordelikhede vir vroue gelei wat alreeds professionele verpligtinge en loopbaanvooruitsigte moet balanseer."

Sy het bygevoeg dat dit nodig is om institusionele en individuele rassisme en seksisme op direkte en sigbare maniere aan te pak. Daardeur word institusionele kulture ontwikkel wat anti-rassisties en anti-seksisties is.

“Universiteite moet probeer vasstel hoe institusionele kulture en tradisionele praktyke omgewings skep wat tot opsetlike of onbedoelde uitsluiting lei," het sy verduidelik. “Proaktiewe maatreëls moet ingestel word om dit teen te werk. Universiteite se leierskap en -bestuur moet die voortou neem en, waar nodig, die nodige opleiding ontvang om dit te doen."