Deernis-uitputting gedurende abnormale tye soos die COVID-19-pandemie kan daartoe lei dat mense glad nie meer omgee vir ander nie, skryf Prof Dion Forster van die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie in ʼn meningsartikel vir Mail & Guardian (26 Sept).
- Lees die vertaalde weergawe hier onder.
Dion Forster*
Die afgelope klompie weke het ek opgemerk dat selfs die versigtigste lede van my familie, vriendekring en kollegas, hul streng nakoming van COVID-19-veiligheidsmaatreëls begin verslap het. Hulle reël sosiale byeenkomste, reis deur die land, keer terug werk toe, koop met groter vryheid, was minder gereeld hul hande en verlaat selfs hul huise sonder om 'n masker te dra.
Dit is 'n skrille kontras met die waaksaamheid wat ons in die vroeë dae van ons nasionale inperking beoefen het. Onthou jy hoe jy elke produk wat jy van die kruidenierswinkel terugbring het sou was? Of toe nie meer as twee persone in 'n voertuig kon ry nie, en die passasier op die agterste sitplek gesit het? Of toe ons sirkels op ons balkonne en agterplase gehardloop het om te oefen? Om versigtig te wees, het so belangrik en nodig gelyk! Ons het immers onsself en ander beskerm teen 'n dodelike virus.
Toe Suid-Afrika op 26 Maart in ʼn staat van inperking geplaas is, het ons slegs 218 gevalle van koronavirusinfeksies aangemeld. Die eerste twee COVID-19-sterftes is 'n dag later gerapporteer. Dit is te verstane dat ons geskok en bang was. Ek is seker ons almal kan onthou die eerste keer dat ons gehoor het van 'n familielid, vriend of medewerker wat met die koronavirus besmet was? Sommige van ons het ook familie en vriende verloor weens COVID-19. Sommige van ons tel natuurlik onder die byna 585 000 persone wat met die virus besmet is en herstel het (ongeveer 655 000 mense is besmet).
Die pandemie is nie net 'n gesondheidstragedie in Suid-Afrika nie. Dit is ook 'n ekonomiese ramp, wat verder druk op 'n reeds wankelende ekonomie plaas. Die media het gerapporteer oor grootskaalse lyding weens hongerte, die brutaliteit van toenemende geslagsgebaseerde geweld, die verlies aan werksekerheid vir baie Suid-Afrikaners, en die mislukking van ons onderwysstelsel wat onderwysers kwesbaar laat, en leerders wat nog verder agter raak met hul skoolwerk. Dit sal waarskynlik dekades duur om sommige van hierdie probleme aan te spreek. Dit sal byna sekerlik deur voortslepende korrupsie in sowel die regering as die private sektor belemmer word.
Tog lyk dit asof die lewe vir die meerderheid Suid-Afrikaners 'normaal word'. Ons het afgestom geraak vir die beelde van werkers aan die voorpunt geklee in persoonlike beskermende toerusting (PPE) wat sorg vir uiters siekpersone wat in hospitale. Ons merk skaars die daaglikse nuusberigte dat nog ongeveer 100 mense oornag dood is weens COVID-19, en dat die dodetal nou op ongeveer 16 000 staan. Dit is nie meer die gesigte van persone nie – dit is net 'n getal.
Waarom het ons opgehou omgee?
Die kort antwoord is dat ons ly aan 'n toestand wat bekend staan as 'deernis-uitputting'. Deernis-uitputting is algemeen onder mense wat voortdurend blootgestel word aan onoplosbare lyding. Dit word meestal gerapporteer in die sogenaamde 'omgee-beroepe' (byvoorbeeld verpleegsters, dokters, maatskaplike werkers, godsdiensleiers). Navorsing het getoon dat wanneer iemand konstant met lyding gekonfronteer word, hulle mettertyd minder op die lyding reageer. Dit is hoe die liggaam die pyn en trauma wat metdie aanskouing en ervaring van ander se lyding gepaardgaan hanteer.
As ons iemand sien ly, of hoor van iemand wat ly, word 'n deel van ons brein geaktiveer wat veroorsaak dat ons die ervaring van die ander persoon in ons eie verbeelding herskep. Ons voel iets van hul pyn. Dit is 'n pre-kognitiewe reaksie – met ander woorde, dit gebeur in die diep area van ons brein wat reageer op pyn sonder om te dink. Daar word geglo dat hierdie vermoë in alle breine van soogdiere ontwikkel het (in verskillende mate) om die reaksies van sorg en die vermyding van gevaar aan te wakker.
As ons ons die lyding van 'n ander voorstel, word ons instinktiewelik gemotiveer om dit self te vermy. Ons is ook geneig om diegene wat ons versorg, teen skade te beskerm. As ons iemand sien ly, word ons ook instinktiewelik gedryf om hulle te help om hul pyn te verlig. Die voorsiening van sorg en die vermyding van pyn het gehelp om lewe in stand te hou, en daarom het hulle deel geword van hoe ons breine funksioneer.
My navorsing, en dié van ander, toon egter dat hoewel ons breine 'bedraad' is vir oorlewing en die vermyding van pyn en bedreiging, dit ook aanpas om emosionele pyn en sielkundige bedreigings te vermy. Namate ons blootgestel word aan voortdurende pyn en lyding van ander, word ons mettertyd al hoe minder sensitief daarvoor. Ons emosionele reaksie op hul pyn is minder ernstig. Ons rasionaliseer wat ons hoor en sien, en beweeg vanaf die emosionele sentrum van die brein na die kognitiewe en rasionele funksies. Met verloop van tyd is ons nie meer geskok om te hoor dat 100 mense die afgelope 24 uur dood is aan 'n virus waarmee elkeen van ons besmet kon gewees nie het. Ons dink nie meer aan 15 000 individue nie – moeders, vaders, seuns, dogters – wat gesterf het nie; ons dink aan 'n getal, 'n statistiek.
Navorsing toon verder dat deernis-uitputting ook in groepe soos gemeenskappe of nasies kan voorkom. ʼn Gemeenskap kan byvoorbeeld gewoond raak aan sekere vorme van lyding, of misbruik, en dit normaliseer. Geslagsaktiviste wys gereeld op die abnormale hoë aantal verkragtings, vrouemoorde en geslagsgeweld in Suid-Afrika. In Amerika word die gereelde massaskietery, of die moord op swart persone deur die polisie, byvoorbeeld gerasionaliseer en van pynlike ervarings na politieke debatte verskuif.
Op persoonlike en strukturele vlak kan deernis-uitputting tot ʼn verlies aan perspektief lei. Dit kan veroorsaak dat ons die menslikheid van ander nie goed herken nie, wat ons verhinder om voldoende en effektief op lyding en pyn te reageer. Net soos ons nie deur 'n onbesorgde dokter of verpleegster behandel wil word nie, behoort ons ook nie in 'n samelewing te wil woon wat nie omgee vir die lyding van sy medeburgers nie.
In sy roman The Plague van 1947 vertel Albert Camus die verhaal van die aankoms van 'n pes in die Algerynse stad Oran. Nadat hul erge tragedie en swaarkry in die gesig gestaar het, het die burgers van Oran hul lewens begin normaliseer. Camus gebruik egter sy roman om te illustreer hoe abnormaal sommige aspekte van hul normale lewens eintlik is.
Dit is belangrik dat ons besef wanneer deernis-uitputting begin intree. Ons moet daarteen waak in ons engste verhoudinge, en dit ook uitwys as ons dit in ons gemeenskappe en sosiale stelsels sien. Om medelye te betoon, is 'n voortdurende keuse om die menslikheid van diegene wat ly, te erken. Dit verg die moed om pyn en ongemak in die gesig te staar. Om 'n meer medelydende samelewing te skep, moet ons erns maak met die werklikheid van ons gedeelde menslikheid, ons gedeelde broosheid en ons behoefte aan mekaar. Ons sal die instink om dit wat pyn en lyding veroorsaak te onstnap of te vermy, moet ignoreer. In hierdie moeilike tye kan ons almal doen met 'n bietjie meer omgee, 'n menswaardiger en deernisvoller samelewing.
*Prof Dion A. Forster is 'n medeprofessor in Sistematiese Teologie en Etiek en die voorsitter van die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy dien ook as direkteur van die Beyers Naudé-sentrum vir Openbare Teologie aan die US.