Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Grondwet met nuwe kunswerk by Ou Hoofgebou gevier
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 26/08/2020

'n Kunswerk ter viering van die Grondwet van Suid-Afrika word tans by die Universiteit Stellenbosch (US) se Ou Hoofgebou in Ryneveldstraat op Stellenbosch geïnstalleer.

Die installasie bestaan uit drie afsonderlike metaalplate wat die aanhef tot die Grondwet in drie tale (Afrikaans, Engels en Xhosa) uitbeeld. Die woorde van die aanhef is met lasersnytegnologie uitgesny op die plate, wat tans by die hoofingang na die Fakulteit Regsgeleerdheid aangebring word.

Die Fakulteit Regsgeleerdheid het hierdie projek in 2017 van stapel gestuur as deel van die US se visuele regstellingsproses wat daarop gemik is om kuns en simbole op die Universiteitskampusse aan te bring ten einde uiting te gee aan die Universiteit se visie om 'n inklusiewe instelling te wees wat onder meer tot 'n transformerende studente-ervaring verbind is.  

“Die Grondwet van Suid-Afrika, 1996, is die grondslag vir 'n demokratiese en oop samelewing en die beginsel van transformatiewe konstitusionalisme staan sentraal in kontemporêre regsonderrig. Die aanhef tot die Grondwet bestaan uit 'n verbintenis tot 'n sosiaal regverdige samelewing wat verenig is in ons diversiteit en die uitbeelding van die aanhef by ons fakulteit se ingang word dus as beide toepaslik en inspirerend beskou," sê prof Nicola Smit, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid.

Die projek self is gebore uit 'n omvattende konsultasieproses waarby die US se Visuele Regstellingskomitee, personeel en studente van die fakulteit en die US se bestuur, asook eksterne rolspelers onder andere betrokke was.

Die vermaarde landskapsargitek, Strijdom van der Merwe, is aangewys om die projek te ontwerp.

“Ek is uiters trots daarop dat ek gekies is om aan die ontwerp van die projek te werk, aangesien ek goeie herinneringe aan hierdie gebou het," sê Van der Merwe, wat as student in die tagtigerjare klasse in die gebou bygewoon het. “Omdat die Ou Hoofgebou dikwels as 'n visuele simbool van die Universiteit gebruik word, was ek veral versigtig om nie 'n beeldhouwerk te skep wat sou afbreuk doen aan die vooraangesig van die gebou nie."

Van der Merwe voeg by dat die samewerkende aard van die projek dit spesiaal maak. “Ons het met 'n spesifieke idee begin, maar namate ons insette van verskillende rolspelers ontvang het, het die ontwerp 'n hele paar veranderinge ondergaan om te kom waar ons vandag is."

Volgens hom is nog 'n spesiale kenmerk van die kunswerk dat die teks van elke plaat op die grond geprojekteer word wanneer die son op verskillende tye van die dag teen verskillende hoeke deur die plate skyn. “Hierdeur word 'n dinamiese ervaring tussen die teks en die verbyganger geskep om die aanhef as't ware te 'ervaar'."

“Wanneer iemand die Ou Hoofgebou nader of verlaat, moet hulle 'n fisieke, emosionele en selfs 'n intellektuele reaksie ervaar terwyl hulle deur die kunsinstallasie in die rigting van of weg van die gebou af stap. Die aanhef tot die Grondwet sal dus as 'n fisieke skakel tussen die openbare ruimte buite die Ou Hoofgebou en die fakulteit dien, terwyl dit 'n samelewing simboliseer wat in 'n grondwetlike demokrasie geanker is," sê Smit.

Volgens Smit is die fakulteit se personeel en studente baie opgewonde oor die langverwagte voltooiing van die kunsinstallasie, asook ander visuele projekte in die Ou Hoofgebou wat in verskillende stadiums van beplanning en inwerkingstelling is.

Dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Transformasie en Sosiale Impak het in die reaksie op die werk gesê: “Ons glo kunsinstallasies soos hierdie sal bydra om ons ruimtes verwelkomend, inklusief en al hoe meer divers te maak, soos dit in die Universiteit se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 in die vooruitsig gestel is. Dit skep geleenthede om nadenke en gesprekke oor lesse uit die verlede en die moontlikhede van ons toekoms aan te moedig, soos in ons Grondwet vasgelê is.

“Hierdie proses van nadenke het in die laat negentigerjare begin en het weer as 'n prioriteit na vore gekom ten tye van en ná die #FeesMustFall-protesoptogte," sê Van Rooi.

“Ons wil met hierdie kunsinstallasie die Ou Hoofgebou as deel van ons erfenis kontekstualiseer deur 'n kontemporêre kunswerk, wat die gees van ons tyd verteenwoordig, naas die klassieke argitektuur van die gebou te plaas. Die US wil as deel van ons visuele regstellingsproses 'n gesprek oor kuns op plaaslike en nasionale vlak aan die gang sit."

Die installasie is een van 'n reeks visuele regstellingsprojekte wat tans op die US se kampusse aan die gang is.

Die installasie sa na verwagting teen die einde van September voltooi wees. 'n Openbare bekenstellingsgeleentheid sal afhang van verskeie faktore, insluitende die terugkeer van studente na die kampus.

  • Die Ou Hoofgebou is in November 1886 in gebruik geneem. Dit is reeds sedert die totstandkoming van die Fakulteit Regsgeleerdheid in 1921 die tuiste van die fakulteit, wat in 2021 sy eeufees vier. ​​