Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verstewig akademiese en psigomaatskaplike steun aan studente
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 19/08/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) bied bykomende steun aan voorgraadse studente om op koers te bly met hul studies en beter binne die veranderde konteks van virtuele leer aan te pas namate Suid-Afrika steeds met die COVID-19-pandemie worstel.

“Die COVID-19-pandemie hou vele nuwe uitdagings en risiko's in en die Universiteit werk hard om die gevolge daarvan te probeer verlig. Toe die aktiwiteite op kampus teen die einde van Maart opgeskort is, het ons vinnig na aanlyn leer oorgeskakel. Klasse is op 20 April aanlyn hervat, danksy die onvermoeide pogings van die onderrig- en steundienstepersoneel," sê die US Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers.

“Ons is deeglik bewus van die uitdagings waarmee ons studente te kampe het om by hierdie nuwe en grootliks onbekende leerwyse in die inperkingstydperk te kan aanpas. Daarom doen ons alles in ons vermoë om te verseker dat al ons studente – en veral diegene wat kwesbaar is – die akademiese jaar suksesvol kan voltooi."

Skootrekenaars is op 'n leenbasis beskikbaar gestel aan studente wat sosio-ekonomies benadeel is en databundels is aangeskaf om alle studente toegang tot die internet te bied.

Opleiding aan personeel om onderhoudende inhoud te lewer, was ook 'n belangrike prioriteit. Verder is die kapasiteit van SUNLearn, die Universiteit se studiebestuurstelsel, verbeter om die verhoogde vraag te hanteer noudat die meeste aktiwiteite aanlyn plaasvind. Stelsels is vaartbelyn gemaak om dit vir studente makliker te maak om toegang tot die nodige bronne en inligting te kry.

Daarbenewens bied die Universiteit se Sentrum vir Studentevoorligting en Ontwikkeling nou aanlyn en telefoniese dienste aan diegene wat in hierdie tye akademiese, emosionele of noodhulp benodig.

'n Toekenning deur die Michael & Susan Dell-stigting, 'n filantropiese organisasie sonder winsoogmerk in die VS, word aangewend vir pasgemaakte akademiese en psigomaatskaplike steun aan kwesbare studente wat die gevaar loop om nie na hul volgende studiejaar te vorder nie. Die toekenning verstewig die akademiese steun en help verseker dat elke student op koers bly, ondanks die uitdagings wat hulle dalk ervaar. “Ons is dank verskuldig aan die Michael & Susan Dell-stigting, wie se ondersteuning ons ingrypings versterk sodat ons ons studente kan help slaag," sê De Villiers.

Dr Thashlin Govender, Programdirekteur by die Michael & Susan Dell-stigting, sê: “Daar is 'n behoefte dat organisasies saamspan, meewerk en belê in programme wat universiteitstudente help slaag. Die Michael & Susan Dell-stigting is verbind daartoe om met eendersdenkende vennote, soos die US, saam te werk om studente deurlopend te ondersteun sodat hulle die uitdagings kan oorkom wat langs die pad op hul wag."