Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW betreur die verlies van uitsonderlike klinikus en navorser
Outeur: FMHS Management / FGGW-bestuur
Gepubliseer: 14/08/2020

Lede van die bestuur van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het hul diep hartseer uitgespreek in reaksie op die nuus dat prof Lungile Pepeta, die Uitvoerende Dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Nelson Mandela-universiteit, op Vrydag 7 Augustus gesterf het.

Prof Pepeta was besig met sy PhD in pediatrie aan die Departement Pediatrie en Kindergesondheid by die FGGW toe hy oorlede is. Sy akademiese toesighouer, prof Mariana Kruger, het gesê die hele departement is geskok en hartseer oor sy heengaan. “Prof Pepeta het baie belangrike en vernuwende navorsing gedoen oor die bestuur van patent ductus arteriosus (PDA) by kinders en hy het internasionale erkenning vir sy unieke bydrae tot hierdie veld geniet.

“Hy was hoog geag in ons mediese gemeenskap en het ʼn passie gehad om veral die kinders van die Oos-Kaap deur sy gekose sub-spesialiteit, pediatriese kardiologie, te dien."

Die FGGW-dekaan, prof Jimmy Volmink, het ook die aansienlike bydrae wat prof Pepeta tot die Suid-Afrikaanse mediese veld gemaak het, beklemtoon. “Professor Lungile Pepeta was ʼn uitsonderlike klinikus en vernuwende navorser. Hy het nooit sy wortels vergeet nie en het ná sy opleiding aan die Universiteite van die Witwatersrand en KwaZulu-Natal na die Oos-Kaap teruggekeer. Ons voel geëerd dat hy gekies het om by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe te registreer vir sy PhD," het Volmink gesê.

Die FGGW deel die sentimente wat deur die Suid-Afrikaanse Komitee van Mediese Dekane (SACOMD) uitgespreek is in 'n verklaring wat verlede week uitgereik is.

 

VERKLARING DEUR DIE SUID-AFRIKAANSE KOMITEE VAN MEDIESE DEKANE

 

Die Suid-Afrikaanse Komitee van Mediese Dekanse (SACOMD) het met skok en hartseer gereageer op die nuus dat Covid-19-verwante komplikasies op 7 Augustus 2020 die lewe geёis het van prof Lungile Pepeta, hul kollega en vriend en Uitvoerende Dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Nelson Mandela-universiteit.

Die gevoel van skok en hartseer talm steeds en prof Pepeta sal vreeslik gemis word deur die komitee, maar die ervaring om saam met hom te werk, ons verbintenis met hom en al die huldeblyke wat vir hom instroom, verg van ons om sy vol lewe en sy nalatenskap te vier.

Prof Pepeta was ʼn hoogs gekwalifiseerde en deurwinterde mediese praktisyn wie se ervaring in openbare en private gesondheidsfasiliteite in stedelike en landelike omgewings die noodsaak by hom tuisgebring het om gesondheidsberoepslui op te lei wat toegerus is om die gemeenskappe te dien waarin hulle gaan praktiseer. Hierin het hy die visie gedeel van die Nelson Mandela-universiteit om die fokus van sy Fakulteit Gesondheidswetenskappe, wat binnekort gaan open, op primêre gesondheidsorg te plaas, d.w.s. op voorkoming eerder as genesing. Prof Pepeta het die Fakulteit drie en ʼn half jaar lank met oortuiging, toewyding en onbeperkte energie gelei om hierdie visie te verwesenlik.

Prof Pepeta was terselftertyd ʼn treffende voorbeeld van ʼn akademikus wat by sy plaaslike gemeenskap betrokke was. Hy was aktief betrokke by die Oos-Kaap se reaksie op die Covid-19-pandemie en het sy universiteit gelei om ook op praktiese maniere betrokke te raak, soos om die nodige mediese toerusting te verskaf en sy mobiele kliniek vir toetsing beskikbaar te stel. Hy het op sy eie en saam met ander oor die pandemie geskryf en in die openbaar daaroor gepraat – oor hoe om dit in verstaanbare, praktiese terme aan te pak, met voortdurende inagneming van die geleenthede wat hierdie krisis geskep het om gesondheidsorg in die provinsie te verbeter.

Die komitee wil sy innige meegevoel met prof Prof Pepeta se familie betuig en wens hulle die sterkte en steun toe wat hulle nodig het om hierdie tragiese verlies te verwerk. Ons vertrou die familie sal vertroosting vind in die wete dat sy eweknieë hul geliefde gerespekteer, innig waardeer en hoog geag het.

Die SACOMD betuig ook sy innige meegevoel met die uitvoerende leierskorps van die Nelson Mandela-universiteit en die personeel en studente van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe. Die komitee dink aan die Fakulteitsbestuur, wat die Fakulteit deur hierdie groot, onverwagse terugslag moet stuur en wens hulle die wysheid en sterkte toe om die aflosstokkie oor te neem om die Universiteit se visie vir die Fakulteit te realiseer en op prof Pepeta se nalatenskap in hierdie verband voort te bou.

Ons is bedroef dat prof Pepeta nie daar sal wees om die eerstejaars van die nuwe Fakulteit van Gesondheidswetenskappe volgende jaar te verwelkom en hulle te lei en inspireer op hulle reis om bekwame, deernisvolle en betrokke gesondheidsberoepslui te word nie.

Prof Pepeta sal voortleef in die innige herinneringe van alle SACOMD-lede.

Mag sy siel in vrede rus.

*SACOMD bestaan uit die leierskap van Suid-Afrikaanse mediese skole. ​