Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wiskunde en geslag, nanovesels en immuniteit teen COVID-19
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 07/08/2020

Die US se Fakulteit Natuurwetenskappe bied in volgende week 'n paar interessante gesprekke aan ter viering van Nasionale Wetenskapsweek wat vanjaar vanaf 27 Julie tot 31 Augustus plaasvind.

Suid-Afrika se Nasionale Wetenskapsweek is 'n jaarlikse viering van wetenskap, ingenieurswese en tegnologie, en bereik duisende leerders en lede van die publiek met werkswinkels, wetenskapsaanbiedings en lesings, wat landwyd deur universiteite, skole en wetenskapsentrums aangebied word. Die inisiatief word gelei deur die Departement van Wetenskap en Innovasie.

Hieronder is 'n opsomming van die Fakulteit Natuurwetenskappe se aanbiedings:

Internasionale spreker oor geslag en wiskunde – Maandag 10 Augustus 2020, 12:00-13:00

Dr Eugenia Cheng is die gasspreker vir die Afrika-vroue in Wiskunde-seminaar op Maandag 10 Augustus 2020. Dr Cheng is 'n vooraanstaande wiskundige, pianis en skrywer van verskeie boeke, waaronder A Mathematician's manifesto for rethinking gender (2020), How to bake Pi (2015), Beyond Infinity (2017) en The Art of Logic in an Illogical World (2018). Cheng is verbonde aan die School of the Art Institute of Chicago, en is 'n genoot by die Universiteit van Sheffield en besoekende genoot by City University in London. Kom meer te wete van haar in hierdie in-diepte biografiese onderhoud op BBC's Life Scientific. Die doel van die aanlyn Afrika-vroue in Wiskunde-seminaar is om vroue wiskundiges in Afrika aan mekaar en aan internasionale sprekers bloot te stel en geleentheid te bied vir samewerking. Die jaarlikse seminaar word deur die US se Departement Wiskundige Wetenskappe aangebied. Enigiemand met 'n belanstelling in wiskunde en geslag is welkom om die aanlyn seminaar by te woon.

Registreer by https://forms.gle/ZSHRuYyqNVukCM7i9

Kommersialisering van nanovesels – Dinsdag 11 Augustus 202, 17:30-18:30

Die Universiteit Stellenbosch se Launchlab en die Fakulteit Natuurwetenskappe bied met trots aan: "From invention to commercialization: an entrepreneurial journey with nanofibers", 'n webinar aangebied deur BSc-alumnus Dr Eugene Smit, hoofuitvoerende beampte van die Stellenbosch Nanovesel-maatskappy. Hy sal gesels oor sy ervarings as wetenskaplike en uitvinder, tot dié van entrepreneur en sakeman.

Registreer byhttps://bit.ly/2PgtYjm

Opbou van immuniteit teen COVID-19

Is teenliggame ons liggame se enigste verweer vir die opbou van weerstand teen die reïnfeksie met COVID-19? Glad nie, voer emeritus-professor Dirk Bellstedt, 'n biochemikus en immunoloog van die Universitei Stellenbosch aan. In hierdie aanlyn Science Café, praat hy oor die verskillende stategieë wat ons immuunsisteem kan inspan teen infeksies, sowel as onlangse navorsing wat toon dat daar inderdaad 'n goeie indikasie is van sellulêre immuniteitsopbou na 'n COVID-19-infeksie. In teenstelling met vorig berigte, beteken dit dat ons immuunstelsel in staat is om die virus te beveg, en dat hierdie meganismes beskerming sal bied teen herinfeksie. Dit is dus tyd om doemprofete van hel en vuur stil te maak, en  is goeie nuus vir diegene wat veg teen tyd om 'n nuwe entstof te ontwikkel.

Meer oor die spreker

Dirk Uwe Bellstedt is 'n emeritus professor in die Departement Biochemie by die Universiteit Stellenbosch. Vir die afgelope 35 jaar het hy in die veld van evolusionêre biologie,  wat virale evolusie insluit, gewerk. Sy navorsing oor die ontwikkeling van metodes vir die  opsporing van immuunresponses op entstowwe in eksperimentele diere en volstruise het aanleiding gegee tot optimale inentingskedules teen die virus wat Newcastle se siekte veroorsaak en 'n teenmiddel  teen mikoplasma-infeksies.  Hierdie navorsingsveld word voortgesit onder die leierskap van een van sy voormalige doktorale studente, Dr Annelise Botes. Sedert die 1980s het immunologie as studieveld op groot skaal uitgebrei, met Nobel Pryse wat in 1984, 1987, 1996 en 2018 toegeken is vir deurbrake op hierdie navorsingsgebied. Hierdie ontwikkelings het immunoloë  betekenisvolle  insig gegee in die huidige COVID-19 epidemie.

Formaat: MS Teams Meeting

Registreer hier: Join Microsoft Teams Meeting

Science Café Stellenbosch is 'n inisiatief van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe om gesprekke oor wetenskaplike kwessies in die openbare sfeer aan te moedig.