Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: Bevordering van geslagsgelykheid en 'n gelyke speelveld vir vroue in die werkplek
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 06/08/2020

Vroue trek aanhoudend aan die kortste ent in die werkplek. Prof Anita Bosch, bekleër van die navorsingsleerstoel oor vroue in die werkplek aan die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool, gebruik haar navorsing om geslagsgelykheid in die werkplek te bevorder en die speelveld vir vroue gelyk te maak.

As deel van Suid-Afrika se Vrouemaandvieringe, vertel sy ons hoe haar werk 'n verskil in vroue se lewens maak.

Kan jy ons meer oor jou navorsing vertel?

My navorsing konsentreer op die kruispunt tussen gender en werk, en ek probeer ook die gaping tussen die akademie en die praktyk oorbrug. Ek beskou werkplekverskynsels deur 'n vrouelens om nuwe maniere te ontdek om gelykheid na werkplekke te bring – of die ondergeskiktheid van vroue uit die weg te ruim – en vernuwing te bewerkstellig. As ons werk uit 'n vrou se oogpunt beskou, word ander aspekte van die lewe, soos 'n gesin en versorging, maklik ingesluit, want die samelewing verbind hierdie kwessies gewoonlik met vroue.

Dít geld nie altyd vir mans nie. In daardie opsig baat my navorsing nie net vroue in die werkplek nie, maar ook mans. Dit is ook so dat vroue in die werkplek as 'n anomalie beskou word, of dat hulle sosiale reproduksieverantwoordelikhede nie by die werk aanvaar word nie. Kwessies soos moederskap, versorging, emosionaliteit en vroulike eienskappe word nie sommer maklik met betaalde werk vereenselwig nie. Joan Acker, 'n vooraanstaande werk-en-organisasie-feminis, het eenmaal gesê die werkplek verkies “ideale" werkers – liggaamlose individue wat voltyds beskikbaar is en geen versorgingspligte het nie. Natuurlik kan geen mens aan hierdie definisie voldoen nie, en dit is gewis nie 'n lewenstoestand wat vroue kan bereik nie. Nietemin is dit 'n onuitgesproke ideaal wat ons vir ons werknemers koester. Dit impliseer dan ook dat vroue nie “ideale" werkers is nie.

My navorsing beoog om algemene aannames oor betaalde werk, soos oor die “ideale" werker, te bevraagteken en sodoende sosiaal gekonstrueerde hindernisse of onopsigtelike en onbillike werkplekpraktyke teenoor vroue bloot te lê. Die afgelope tyd konsentreer my navorsing veral op beleidsintervensies, soos vergoedingsdeursigtigheid tussen genders, wat geslagsgelykheid in die werkplek kan help fasiliteer sodat werkgewers en die regering beperkende oortuigings, praktyke en strukture kan heroorweeg en vervang.  

Waarom of hoe is jou belangstelling in hierdie spesifieke navorsingsgebied aangewakker?

Ek is in die handelswetenskap opgelei, in die besonder in menslikehulpbronbestuur en organisatoriese gedrag. Die funksionering van ondernemings en hoe mense geld maak, het my nog altyd geboei. In die vroegste fases van my loopbaan was ek gelukkig genoeg om 'n aantal poste te beklee wat my 'n geleentheid gebied het om deel te wees, en later ook aan die hoof te staan, van 'n span. Trouens, ek beklee reeds meer as 22 jaar leiersposte en geniet die opwinding daarvan om my werk goed te doen, te leer en doelwitte te bereik.

Vroeg in my loopbaan het ek nie in diskriminasie teen vroue of in hindernisse vir hulle vordering in die werkplek geglo nie. Ek het gedink ek moet net hard werk, my tyd insteek en die nodige ondervinding opdoen, dan sal ek erkenning in die vorm van werksbevordering ontvang. My mening hieroor het verander toe ek voor die besluit te staan gekom het om met 'n gesin te begin. Ek het skielik besef dat ek my besluite op ander kriteria as my manlike eweknieë moes grond, en dat die samelewing beslis ander verwagtinge van my as vrou koester.

Terselfdertyd het ek by die werk opgelet dat ek aan dieselfde kriteria, strukture, praktyke en standaarde as my manlike eweknieë moes voldoen, selfs al was hulle lewens geheel en al anders as hulle vroulike eweknieë s'n gestruktureer. Dít het my kognitief vasgevang laat voel: Ek het immers nog altyd gedink dis regverdig om mans en vroue dieselfde te hanteer, want ek het geglo die manier waarop ondernemings en organisasies funksioneer, is grootliks vas en onveranderlik. Omdat my sosiale reproduksierolle van my manlike eweknieë s'n verskil het, het ek begin wonder of ek hoegenaamd in die werkplek hoort en of ek veronderstel was om die werk te doen wat mans doen.

Gelukkig het my siening verander toe ek begin nalees om my ervarings te verstaan. Ek het op die werk van onder andere Joan Acker, Sandra Bem, Alice Eagly, Oyèrónké Oyĕwùmí, Amanda Gouws, Dorit Posel, Evangelina Holvino en die uiters spitsvondige Gloria Steinem afgekom. My bewustheid het toegeneem namate ek besef het dat werkplekke deur mense gestruktureer word, en dat werksorganisasie inderdaad kan verander sonder om die onderneming se finansiële lewensvatbaarheid in gevaar te stel. Om navorsing te doen oor gender en werk om nuwe maniere van werksorganisasie aan die hand te doen, het 'n ideaal geword wat my moeite en aandag werd was.

Waarom dink jy is dit so 'n belangrike navorsingsgebied vir Suid-Afrikaanse vroue?

Daar's heelwat retoriek oor gelykheid tussen mans en vroue in die Suid-Afrikaanse werkplek, en 'n aansienlike lot verkeerde inligting. So, vir Suid-Afrikaanse vroue in die besonder is dit die regte tyd én belangrik om werk te doen wat bewyse oplewer en begrip verbeter. Ons sal Suid-Afrikaanse vroue 'n ondiens bewys as ons nie hulle ervarings by die werk intellektueel bestudeer nie. Onwaarhede wat in die media versprei word en beperkte sienings in die akademie polariseer net die twee geslagte en saai onmin. Dít is dan ook wanneer mans hulle gewoonlik aan die diskoers onttrek.

So, oor die algemeen is my navorsingsgebied belangrik, want ek wil nie vroue en mans met onakkurate inligting polariseer nie. Boonop wil ek nie mense polariseer deur nié die duidelike verskille in die samelewing en die impak daarvan op vroue se loopbane te erken nie. Ter samevatting wil ek dus erkenning verleen aan die belang van vroue in die ekonomie, en hulle kernrol in sowel sake as die samelewing, selfs al verskil hulle samelewingsrolle van mans s'n. Ek wil sorg dat vroue ten volle aan die ekonomie kan deelneem, sonder dat enige vorm van diskriminasie in hulle pad staan.

Wat dink jy is die grootste impak van jou navorsing op vroue in die land?

Ek het al 'n hele aantal openbare verslae geskryf om bestuurders, leiers, werknemers en die algemene publiek in te lig oor hoe die werkplek geslagsgelykheid kan bewerkstellig. Hierdie verslae bereik konsultasiefirmas, maatskappye en raadsale. Deur my klasse het ek ook verskeie studente bereik wat self belangrike poste in die privaat sektor beklee. Die Nasionale Raad van Provinsies in die Parlement het my onlangs genooi om 'n aanbieding oor meganismes vir vergoedingsdeursigtigheid tussen genders te lewer. Ek hoop dat die beleidsriglyne wat ek daar voorsien het goed te pas sal kom in toekomstige wetswysigings. Nietemin is geslagsgelykheid 'n lewenstaak, so die grootste impak kom nog.

Wat is jou boodskap vir die volgende generasie vrouenavorsers?

As jy van plan is om die terrein van werkplekgenderstudies te betree, moet jy teenstand te wagte wees. Wanneer jy moedeloos voel, soek skuiling, tree effens terug en probeer dan weer. Jy sal druk en afkeuring uit vele oorde ervaar; nietemin sal baie vroue jou ook ondersteun. Jou boodskap sal nie noodwendig verwelkom word nie. Erken ook dat jy nie alles weet nie, en dat daar dalk dinge is wat jy miskyk. Wanneer dít gebeur, tree terug, luister na, besin oor en ondersoek die ontwrigting, en vertrou dan jouself. Sodra jy dít regkry, is dit maklik om uiteenlopende menings te respekteer en ander én jouself met waardigheid te behandel.