Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US navorsing in hernubare energie baat by groot Britse befondsingsprojek
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 31/07/2020

Die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (African Research Universities Alliance – ARUA) se Sentrum vir Uitnemendheid in Energie aan die Universiteit Stellenbosch (US) gaan baat by groot finansiële toekennings wat 'n nie-regeringsorgansisasie in die Verenigde Koninkryk, UK Research and Innovation (UKRI), gemaak het aan universiteite wat deel van ARUA uitmaak.

Die program is daarop gemik om wêreldwye uitdagings soos siektes, armoede, klimaatsverandering, brose state en voedselonsekerheid te takel.

Die toekennings wat deur hierdie navorsingsprogram gemaak word, vorm 'n belangrike deel van die UKRI se drie-jaar-vennootskap met ARUA, wat deur die Global Challenges Research Fund (GCRF) ontwikkel is om samewerking tussen Afrika en die Verenigde Koninkryk oor alle dissiplines te versterk, uitnemendheid te mobiliseer en robuuste navorsingsekosisteme regoor Afrika te bou.

ARUA, wat in 2015 gestig is, is 'n netwerk van 16 navorsingsintensiewe Afrika-universiteite uit verskillende lande en verskillende historiese agtergronde, met die gemeenskaplike visie om navorsing en nagraadse opleiding in lid-universiteite deur middel van 'n aantal kanale te verbeter, insluitend die oprigting van Sentra vir Uitnemendheid wat deur lid-universiteite gehuisves word.

Die US se ARUA Sentrum vir Uitnemendheid in Energie ontvang R12 miljoen oor 'n twee-jaar-tydperk.

Dr Neill Goosen van die US Departement Prosesingenieurswese en direkteur van die ARUA Sentrum vir Uitnemendheid in Energie sê: "Die ARUA Sentrum vir Uitnemendheid in Energie aan die Universiteit Stellenbosch is verheug om hierdie toekenning te ontvang. Dit sal die Sentrum in staat stel om talentvolle Afrika-akademici in hul vroeë loopbaan te identifiseer en te betrek, en dit sal help om 'n multidissiplinêre Afrika-gemeenskap van medewerkers rondom kwessies oor hernubare energie te vestig. Namate Afrika ontwikkel en toenemende hoeveelhede energie benodig om sy ekonomieë en samelewings aan te dryf, sal hernubare energie al hoe belangriker word. Deur 'n sterk gemeenskap van navorsers op te bou en samewerking tussen dissiplines aan te moedig, sal dit verseker dat Afrika die nuwe kennis kan skep wat nodig is om sy sektor vir hernubare energie op te bou."

Prof Wikus van Niekerk, dekaan van die US Fakulteit Ingenieurswese, voeg by: "Die toekenning is gepaste erkenning van die uitgebreide kundigheid en navorsingsfasiliteite aan die Universiteit Stellenbosch wat die ARUA Sentrum vir Uitnemendheid in Energie sal ondersteun. Die ARUA Sentrum vir Uitnemendheid in Energie word gehuisves in die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies, wat waarskynlik die produktiefste navorsingsentrum aan 'n universiteit op die Afrika-kontinent is wat op hernubare energie fokus."

Die ARUA Sentrum vir Uitnemendheid in Energie het ten doel om oplossings vir hernubare energie te ontwikkel om uitdagings wat met water- en voedselvoorsieningstelsels in Afrika verband hou, aan te spreek.

Een deel van die projek sal wees om jong Afrika-navorsers se vermoëns te versterk deur gestruktureerde kursusse wat deur die US se bekroonde Afrika Doktorale Akademie aangebied word, terwyl die ander deel die geleentheid skep om probleme wat in die werklike wêreld voorkom, aan te pak deur gesamentlike navorsingsprojekte met die US se navorsingsvennote.

Skakel met dr Neill Goosen, direkteur van die ARUA Sentrum vir Uitnemendheid in Energie, by arua@sun.ac.za