Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Toekenning baat vernuwende geletterdheidsintervensie
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 24/07/2020

Professor Daleen Klop en Monique Visser, dosente by die Afdeling Spraak-Taal- en Gehoorterapie, is deel van ʼn internasionale navorsingspan wat onlangs ʼn toekenning van £265 732 (ongeveer R5.7 miljoen) ontvang het van die Britse Akademie om ʼn vroeë geletterdheidsintervensie wat die geletterdheidsgaping in Suid-Afrika sal aanspreek, te ontwikkel en te beproef. 

Hierdie samewerkende projek – wat The Effects of Story-based Activities on Early Language and Literacy in SA pre-schools genoem word – word gelei deur die hoogs aangeskrewe professor Jane Oakhill van die Universiteit van Sussex en sal nog ʼn kenner, professor Kate Cain van Lancaster Universiteit insluit. Albei vroue is internasionale kenners in die veld van lees-begrip. 

Die projek sal die doeltreffendheid ondersoek van ʼn benadering wat deur Wordworks, ʼn plaaslike organisasie sonder winsbejag, gebruik word. Wordworks se direkteur, dr Shelley O'Carroll, maak ook deel uit van die navorsingspan. 

Klop het gesê dat die samewerking ontstaan het nadat Oakhill vir O'Carroll ontmoet het tydens ʼn besoek aan Suid-Afrika. Sy was so beïndruk met O'Carroll se werk dat sy aansoek gedoen het vir 'n navorsingstoekenning om dit te ondersoek. 

"Wordworks werk al die afgelope 15 jaar in minderbevoorregte gemeenskappe in die Wes-Kaap. Dit is ʼn wonderlike organisasie," het Klop gesê. "Ek werk my hele loopbaan al in vroeë taal- en geletterdheidsvaardighede en dit is een van die beste benaderings wat ek nog gesien het vir die bevordering en verbetering vroeë taal- en geletterdheidsvaardighede in voorskoolse kinders."

Volgens Klop fokus Wordworks op die opleiding van kinderversorgers in minderbevoorregte gemeenskappe deur programme wat hulle die basiese beginsels van taal en geletterdheid leer. Hulle ontvang goed vervaardigde leermateriaal wat op inheemse stories gebaseer is en veeltalige storieboeke, en hulle ontvang ondersteuning in die implementasie daarvan.

"Hierdie versorgers is nie opgeleide onderwysers nie, maar werk met kinders in gemeenskapsentrums.

"Ek is regtig mal oor hierdie program – tot so ʼn mate dat ons dit nou by ons akademiese program ingesluit het. Ons gebruik Wordworks om ons tweedejaar studente op te lei om op ʼn kultuur-sensitiewe wyse met versorgers te werk en hoe om hulpbronne te ontwikkel wat versorgers kan gebruik. Ons hoop die studente implementeer dit in hulle kliniese opleiding en veral tydens hulle gemeenskapsdiensjaar, want dit is die soort benadering wat ons in landelike gemeenskappe wil gebruik om versorgers te ondersteun.

"Sonder bewyse is die suksesse egter net staaltjies. Dit is waar die navorsers ʼn rol kan speel om bewyse te lewer van die doeltreffendheid van hierdie benadering met die verbetering van vroeë taal en geletterdheid."

Klop het bygevoeg dat die intervensienavorsing "baie duur" is. "Sonder ʼn toekenning soos hierdie kan ons dit nie doen nie."

"Dit is hoekom dit so wonderlik is dat ons nou hierdie toekenning van die Britse Akademie het."

Klop het gesê dat die navorsing beoog om 30 versorgers en sowat 500 voorskoolse kinders in die groter Kaapstad-streek te betrek uit Engelse, Afrikaanse en isiXhosa-gemeenskappe. "Dus moet al die materiaal en assesserings in al hierdie tale ontwikkel word.

Volgens Klop is die navorsing betekenisvol aangesien geletterdheidsvaardighede uiters belangrik is. "Geletterdheidsvaardighede hou verband met positiewe uitkomste in terme van werksgeleenthede, gesondheid, produktiwiteit en rykdomsontwikkeling, maar in Suid-Afrika sukkel baie kinders met geletterdheid. Ons program sal die geletterdheid- en taalvaardighede van alle kinders in voor-Graad R (4- tot 5-jarige ouderdom) teiken, en is ontwerp om die Wêreldgesondheidsorganisasie se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit 4 aan te spreek deurdat dit kinders in staat stel om hulle ontwikkelingspotensiaal te bereik sodra hulle met skool begin." 

Klop het gesê dat die navorsers gelukkig is om die navorsingspan van die VK aan boord te hê vir hulle kundigheid en insette in die program.

"Ek kan nie wag om hieraan te begin werk nie," het sy gesê.

Foto-erkenning: Stefan Els