Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opvoedkunde Studentekomitee gee terug vir Mandeladag
Outeur: William Sezoe
Gepubliseer: 23/07/2020

Die Opvoedkunde Studentekomitee (OSK) in samewerking met die Beyond Education-span en Messiah Industries het maskers en handsaniteerders by vyf plaaslike laerskole oorhanding om Mandeladag te vier. Die skole sluit in Kayamandi Primêr, Rietenbosch Primêr, Matroos Holy Trinity R.K Primêr, Elnor Primêr en C.L Wilmot Primêr.

Die behoefte is raakgesien om uit te reik na minderbevoorregte skole wat nie al die basiese behoeftes aan leerders en onderwysers kan voorsien nie. Hierdie inisiatief was daarop gemik om 'n bydrae te lewer tot die voorsiening van nuwe basiese behoeftes soos maskers en handsaniteerders om sodoende die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Volgens Lindie Fortuin, 'n onderwyser van Holy Trinity R.K Primêre Skool in Elsiesrivier, is die skenking 'n merkwaardige bydrae wat met ope arms verwelkom word. “Ons leerders het die maskers met dankbaarheid ontvang. Ons het dit oorhandig aan leerders wat dit die nodigste het. Die entoesiasme van die Matie-studente is verblydend en ons waardeer die feit dat ons skool een van die skole op hulle harte was vir hierdie jaar se Mandeladagvieringe. Ons as skoolgemeenskap hoop dat die OSK se vlam van welwillendheid altyd hoog in hul harte sal brand."