Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Politici moet nie xenofobiese geweld aanhits
Outeur: Callixte Kavuro
Gepubliseer: 23/07/2020

Politici behoort hulle te weerhou van uitlatings wat xenofobiese geweld aanhits, en moet eerder die gepaste bestaande regsmeganismes gebruik om immigrasie- en vlugtelingverwante probleme te hanteer, skryf dr Callixte Kavuro (Publiekreg) in ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (22 Julie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Callixte Kavuro*

In 'n onlangse voorval van xenofobiese geweld in Suid-Afrika het vragmotorbestuurders daarop aangedring dat die bedryf slegs plaaslike mense in diens neem. Immigrante wat in informele nedersettings op Vredenburg in die Wes-Kaap woon, het óók onder 'n aantal aanvalle deurgeloop – hulle lewens is bedreig en hulle is aangesê om die dorp te verlaat. 

Indien die Suid-Afrikaanse regering enige impak op xenofobie in die land wil hê, sal hulle moet aandag skenk aan die faktore wat hierdie tipe geweld teen immigrante van ander Afrikalande veroorsaak.

Drie immigrantkategorieë – ekonomiese migrante, vlugtelinge en asielsoekers – word dikwels (in sowel die hoofstroom- as sosiale media) as ongewens beskou. Dít is vanweë die oortuiging dat hulle 'n swaar las op die staatskas plaas omdat hulle staatsteun nodig het om hulle lewensgehalte te verbeter. Baie van hulle dra ook nie tot ekonomiese groei by nie.

Hierdie opvatting van ongewenstheid spruit daaruit dat die wettige toelating van immigrante tot die land op selfversorging en ekonomiese onafhanklikheid berus. Dít impliseer dat almal wat nié hulleself en hulle gesinne kan onderhou nie, wetlik ongewens is as immigrante, en slegs vir toelating tot die land oorweeg kan word indien hulle asielsoekers is wat van vervolging of onderdrukking in hulle geboortelande wegvlug.

Tog is dit belangrik dat Suid-Afrikaners weet dat immigrante op regmatige wyse tot die land toegelaat kan word om hier te werk of 'n onderneming te begin. In sulke omstandighede ontvang hulle visums of permitte vir hetsy algemene werk, kritieke vaardighede of sake. Daarbenewens word algemene werksvisums slegs aan immigrante toegestaan indien Suid-Afrikaners self nie oor die betrokke vaardighede beskik om aangestel te word nie.

Let egter daarop dat hierdie beperking nie van toepassing is op vlugtelinge en asielsoekers nie. Ingevolge die regulasies oor vlugtelinge geniet hierdie groepe 'n outomatiese reg om te werk sodat hulle hulleself kan onderhou.

Daar ís egter diegene wat nie asielsoekers is óf aan die immigrasiewetsvereiste van selfversorging voldoen nie, maar wat die land se asielbestuurstelsel misbruik om hulle verblyf hier te regulariseer. Ekonomiese migrante wat nié aan die vereistes vir 'n werks- of sakevisum voldoen nie, wend hulle in sommige gevalle tot asiel omdat hulle weet dat die groot agterstande in die stelsel die ondersoek na die geldigheid van hulle aansprake nog lank sal vertraag. En terwyl hulle op die besluit oor hulle asielaansoeke wag, mag hulle aanbly en aan ekonomiese aktiwiteite deelneem.

Hierdie spesifieke immigrasieprobleem is 'n bron van groot kommer vir politici, wat sukkel om dit te hanteer. Nietemin regverdig dít nie uitlatings wat xenofobiese geweld aanhits en -stook soos ons al telkemale gesien het nie.

Baie van ons politici verwys na immigrante, veral dié in townships of wat in die informele sektor werk, as “onwettige buitelanders". Hulle gebruik ook die instroming van ekonomiese migrante as 'n verskoning vir die regering se versuim om die belofte van 'n “beter lewe vir almal" gestand te doen, veral vir diegene wat steeds in volslae armoede, werkloosheid en ondraaglike lewensomstandighede vasgevang is.

Immigrante kry maklik die skuld vir alle euwels in die samelewing, en word daarvan aangekla dat hulle geweldsmisdade pleeg en plaaslike mense se werk steel, selfs al is daar geen bewyse om hierdie aantygings te staaf nie.

Sulke gesindhede stook xenofobie aan en stuur 'n boodskap aan Suid-Afrikaners dat geen immigrant 'n reg het om in die land te woon, te werk of sake te doen nie.

Ons is maar alte bekend met die gevolge – immigrante se winkels word geplunder, en onskuldige mense word vermink, beseer of selfs vermoor. Daar word weinig indien enigiets gedoen om diegene te vergoed wie se winkels gestroop word, of om skadevergoeding te betaal vir pyn en lyding waar immigrante fisies en ernstig beseer word of hulle geliefdes verloor. Daar word weinig gedoen om hierdie misdade te ondersoek en die oortreders aan die pen te laat ry. Daar is ook geen politieke wil om diegene wat hulle aan diskriminasie, haatspraak en xenofobiese geweld skuldig maak, tot verantwoording te roep nie. Dít onderstreep die regering se weiering om die bestaan van xenofobie te aanvaar en te erken.

Dit help ook nie dat immigrante altyd weggelaat word uit politieke gesprekke en debatte waar burgers hulle kommer teenoor die regering uitspreek, waar die regering rekenskap gee of tot verantwoording geroep word vir immigrasie, of waar burgers deelneem aan besluitneming oor die verbetering van immigrante se welstand nie. Gevolglik het immigrante geen politieke mag nie, want besluite wat hulle raak, word in hulle afwesigheid geneem.

'n Voorbeeld hiervan was toe die regering in 2017 sy vlugtelingwette verskerp het om perke te stel aan asielsoekers se reg om te werk en te studeer. Volgens die Wysigingswet op Vlugtelinge van 2017 verdien asielsoekers nie om in gemeenskappe te woon nie, maar moet hulle in asielsentrums bly, wat nieregeringsorganisasies al met aanhoudingsentrums vergelyk het. Die argument is dat so 'n reëling glo die behoefte aan werk of studie uitskakel.

Beperkings op die reg om te werk en te studeer is selfs strenger gemaak in die konsepregulasies van die wysigingswet wat in 2018 gepubliseer is.

Ons het ook die gevolge van 'n gebrek aan politieke mag gesien in die COVID-19-regulasies, wat vlugtelinge en asielsoekers nie net uitgesluit het van die meeste sosio-ekonomiese bystandspakkette nie, maar hulle ook belet het om ná die inperking aan die ekonomie deel te neem. Dít het 'n verdere boodskap aan gemeenskappe gestuur dat vlugtelinge en asielsoekers nie hier hoort nie, en het ongetwyfeld tot die toename in die huidige xenofobiese aanvalle bygedra.

Suid-Afrika se reg op selfbehoud word nie in twyfel getrek nie. Nietemin impliseer dít ook 'n plig om immigrante of asielsoekers toe te laat of weg te wys slegs in daardie gevalle en op daardie voorwaardes wat die staat ingevolge immigrasie- en vlugtelingereg bepaal.

Die voortdurende xenofobiese aanvalle kan voorkom word. Maar dáárvoor sal mense anders moet begin dink oor ekonomiese migrante, vlugtelinge en asielsoekers, wat gewoon vir hulle en hulle kinders 'n beter toekoms in Suid-Afrika probeer skep.

Veral politici behoort hulle deel te doen deur hulle te weerhou van uitlatings wat xenofobiese geweld aanhits, en deur op die gepaste bestaande regsmeganismes te steun om immigrasie- en vlugtelingverwante probleme te hanteer. Die regering beskik oor genoeg polisiëringsentiteite wat sy regulasies op 'n niegewelddadige manier kan afdwing.

  • Foto: Mense in Johannesburg hou ʼn optog teen xenofobie. Krediet: Wikimedia Commons.

*Dr Callixte Kavuro is 'n nadoktorale genoot in die Departement Publiekreg aan die Universiteit Stellenbosch.