Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Indringer- uitheemse spesies word groter bedreiging, waarsku wetenskaplikes
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 26/06/2020

Indringer- uitheemse spesies word vandag as een van die vyf belangrikste bedreigings vir biodiversiteit en ekosisteme wêreldwyd gereken, tog beskou slegs 'n handjievol lande biosekuriteitsmaatreëls as prioriteit.

So waarsku 'n span internasionale navorsers in 'n nuwe oorsig van omgewingsveranderinge wat wêreldwyd aan indringer- uitheemse spesies toegeskryf kan word. Die artikel, wat op 26 Junie 2020 in die vaktydskrif Biological Reviews  gepubliseer is, maak deel uit van die World scientists' warning to humanity: a second notice initiative* wat vra vir 'n dringende verandering in ons benadering tot rentmeesterskap van die aarde en die lewe daarop. 

Professor David Richardson, Direkteur van die Sentrum vir Indringerbiologie (S∙I∙B) by die Universiteit Stellenbosch (US), Suid-Afrika en een van die hoofouteurs van die artikel, sê: “Terwyl Suid-Afrika grootliks belê het in 'n nasionale program om die negatiewe impak van wydverspreide indringers op ekosisteemdienste te beperk, moet ons baie meer aggressief optree. Dringende intervensies is nodig op beide nasionale en internasionale vlak ten einde die uitdagings meer effektief die hoof te kan bied."

Uitheemse spesies sluit plante, diere en mikrobes in wat per abuis, of doelbewus deur mense ingebring word in gebiede waar dit nie natuurlik voorkom nie. Baie van hulle floreer, versprei wyd en het nadelige effekte op die omgewing, ekonomie of menslike gesondheid.

Hierdie studie wat gedoen is deur 'n internasionale span navorsers van 13 lande, versprei oor Afrika, Asië, Australasië, Europa, Noord- en Suid-Amerika, meld dat die aantal indringerspesies vinnig toeneem, met meer as 18 000 wat tans wêreldwyd as sodanig gelys is.

In Suid-Afrika het 'n onlangse bepaling 1 422 indringerspesies gelys wat genaturaliseer is of indringers geword het, waarvan sommige 'n ernstige negatiewe impak op Suid-Afrikaanse ekosisteme het, so byvoorbeeld, “dorstige" uitheemse boomspesies wat groot hoeveelhede water uit opvangsgebiede onttrek.

Die span navorsers skryf die toename in biologiese indringers toe aan die toename in die aantal en verskeidenheid maniere waarvolgens spesies versprei, en aan die toenemende volumes verkeer wat met hierdie maniere geassossieer word. Hulle bespreek die rol van nuwe maniere waarop spesies versprei,  soos die aanlyn handel in ongewone troeteldiere en plante vir tuinbou, en die vervoer van spesies oor oseane op stukkies plastiekrommel.

Die studie toon ook hoe ander drywers van globale verandering, soos klimaatsverandering, die verandering in hoe en waarvoor grond gebruik word, tesame met internasionale handel besig is om die impak van biologiese indringing te vererger. Byvoorbeeld: spesies wat deur middel van skepe vervoer word, kan nou in nuwe streke floreer as gevolg van klimaatsverwarming; en die permanente opening van die Arktiese Oseaan met globale verwarming, stel mariene spesies in staat om tussen die Atlantiese en Stille Oseane te beweeg.

Die outeurs beklemtoon dat biologiese indringing bestuur en hul impak getemper kan word. Hulle verwys na benaderings wat elders in die wêreld werk en maak aanbevelings ten opsigte van beter bestuur. Byvoorbeeld: die instel van strenger grensbeheer wat X-straalmasjiene en opsporingshonde insluit, het gelei tot 'n progressiewe afname in die tempo waarteen swamplantpatogene Nieu-Seeland binnegekom het.   

Professor Petr Pyšek van die Tsjeggiese Akademie vir Wetenskappe en die Charles Universiteit in Praag,  asook navorsingsgenoot by die Sentrum vir Indringerbiologie, en hoofouteur van die artikel, sê: “ Namate ons  meer oor indringer- uitheemse spesies  te wete kom, word die probleme wat met biologiese indringing geassosieer word al hoe duideliker. Die bedreiging wat indringerspesies vir ons omgewings, ons ekonomieë en ons gesondheid inhou, is baie ernstig en word al hoe erger. Beleidmakers en die publiek moet aksies om indringing en hulle impak teen te werk,  prioritiseer.

Op die foto's bo:

Denindringing in die berge van Suid-Afrika se Kaapse Blommeryk veroorsaak 'n drastiese afname in stroomvloei vanaf wateropvangsgebiede. Foto: Andrew Turner

Die harlekynliewenheersbesie, 'n indringerspesie inheems aan Asië, veroorsaak skade aan ekosisteme deur die verkleining van inheemse liewenheersbesiepopulasies. Hulle is ook 'n groot ergernis wat ekonomiese verliese veroorsaak deurdat hulle wyn bederf met hulle bitter sekresies en skade aanrig aan vrugte-oeste. (Fotokrediet: Ingrid Minnaar)

Lees die artikel in Biological Reviews

Pyšek P., Hulme P. E., Simberloff D., Bacher S., Blackburn T. M. Carlton J. T., Dawson W., Essl F., Foxcroft L. C., Genovesi P., Jeschke J. M., Kühn I., Liebhold A. M., Mandrak N. E., Meyerson L. A., Pauchard A., Pergl J., Roy H. E., Seebens H., van Kleunen M., Vilà M., Wingfield M. J. & Richardson D.M.: Scientists' warning on invasive alien species. Biological Reviews doi: 10.1111/brv.12627 - https://onlinelibrary.wiley.com/doi/full/10.1111/brv.12627

* Wêreldwetenskaplikes se waarskuwing aan die mensdom

Die artikel maak deel uit van die World scientists' warning to humanity: a second notice, 'n inisiatief wat vra vir 'n dringende verandering in ons hantering van die natuurlewe.

In 1992 het 'n aantal prominente wetenskaplikes van oor die wêreld hulle name gevoeg by 'n dokument wat gewaarsku het dat die mensdom afstuur op 'n botsing met die res van die natuurlewe (Union of Concerned Scientists, 1992). Vyf-en-twintig jaar later het Ripple et al. (2017) die menslike respons geëvalueer en in 'n “tweede waarskuwing" tot die slotsom gekom dat die mensdom gefaal het om daadwerklike vordering te maak met die manier waarop ons omgewingsuitdagings hanteer. Hulle het gevind dat die meeste van hierdie probleme vererger het.

Die oorspronklike oproep in 1992 is ondersteun deur meer as 1 700 wetenskaplikes, terwyl meer as 15 000 wetenskaplikes in 2017 hulle handtekeninge by die verklaring gevoeg het.

Wat is die omvang van die probleem?

'n Onlangse analise van uitsterwings wêreldwyd in die IUCN Rooi Lys-databasis (IUCN, 2017) het getoon dat uitheemse spesies bygedra het tot 25% van plantuitsterwings en 33% van uitsterwings van diere wat op land en in vars water voorkom. Intussen word die jaarlikse omgewingsverliese wat veroorsaak word deur spesies wat in die Verenigde State van Amerika, die Verenigde Koninkryk, Australië, Suid-Afrika, Indië en Brasilië ingebring word, op meer as 100 biljoen Amerikaanse dollar bereken.

Aksie teen indringer- uitheemse spesies

Die belangrikheid om aksie te neem teen indringer- uitheemse spesies wêreldwyd, geniet wye erkenning (Millennium Ecosystem Assessment, 2005). Die onlangse wêreldwye bepalingsverslag oor biodiversiteit en ekosisteemdienste deur die Interregeringsplatform vir Wetenskapsbeleid oor Biodiversiteit en Ekosisteemdienste (IPBES), het indringer- uitheemse spesies vyfde geplaas op die lys van drywers van omgewingsverandering wat die grootste impak het. Dit volg naas veranderinge in die gebruik van land en see, die uitbuiting van organismes, klimaatsverandering, en besoedeling.

Oor die Sentrum vir Indringerbiologie (S·I·B)

Die S·I·B is 'n interinstitusionele navorsingsentrum met sy hoofkantoor by die Universiteit Stellenbosch. Sy lede doen navorsing oor die gevolge van biologiese indringing in Suid-Afrika se varswater, mariene en land-ekosisteme. Die doel van die sentrum se werk is om die tempo en impak van biologiese indringing te verminder deur die bevordering van wetenskaplike begrip en die ontwikkeling van navorsings- en bestuurskapasiteit deur middel van nagraadse student-opleiding.

In 2020 het hulle 'n ensiklopediese bepaling gedoen oor die stand van biologiese indringing in Suid-Afrika. Hierdie vryetoegangsboek is beskikbaar by: https://tinyurl.com/y82qygud

Vir inligting oor die Sentrum vir Indringerbiologie, besoek http://blogs.sun.ac.za/cib/