Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Covid-19: Digitalisering van ISE verbeter pasiëntsorg en beskerm gesondheidspersoneel
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 23/06/2020

ʼn Ambisieuse digitaliseringsprojek wat nie net die versorging van ernstig siek Covid-19-pasiënte sal verbeter nie, maar ook die risiko van die besmetting van hospitaalpersoneel sal verklein, word by die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad van stapel gestuur.

Die digitalisering van die hospitaal se Covid-19-intensiewesorgeenheid (ISE) sal meebring dat weggedoen word met papiergebaseerde pasiëntrekords wat met die hand by hospitaalbeddens aangeteken moet word. Dit sal vervang word deur ʼn nuwe digitale stelsel wat van kameras en rekenaartablette gebruik maak om pasiënte se lewensfunksies te monitor.

“Die projek is gebou op die sterk vennootskap tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en die Wes-Kaapse departement van gesondheid en sal beter sorg vir pasiënte met Covid-19 meebring, asook ʼn veiliger omgewing vir gesondheidsorgwerkers in die ISE-omgewing. Hierdie is ʼn belegging waarvan die voordele sal voortduur lank nadat die huidige pandemie bedaar het," sê prof Jimmy Volmink, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die US. Die FGGW is ʼn sterk vennootorganisasie van die Tygerberg-hospitaal en het ʼn deurslaggewende rol in die konseptualisering en finansiering van die projek gespeel.

“Hierdie is ʼn opwindende, innoverende voorbeeld van hoe die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die spits van die stryd teen Covid-19 is deur sorg van gehalte te lewer en uitkomste te verbeter. Dit is ook ʼn wesentlike vergestalting van die US se maatskaplike impak en relevansie," sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US.

“Met die naderende golf van Covid-19-gevalle sal die Tygerberg-hospitaal se hulpbronne ongetwyfeld onder groot druk wees en klinici en verpleegpersoneel sal deur ʼn hoër risiko van infeksie in die gesig gestaar word," sê prof Nico Gey van Pittius, Visedekaan: Navorsing en Internasionalisering van die FGGW.

Die Tygerberg-hospitaal was die eerste aangewese Covid-19-hospitaal in die Wes-Kaap en het tans ʼn hoë lading van Covid-19-infeksiegevalle, met inbegrip van pasiënte wat intensiewe sorg nodig het. Gevolglik het relatiewe hoë infeksiekoerse onder die hospitaal se personeel voorgekom en meer as 200 gesondheidswerkers van die hospitaal het al positief vir Covid-19 getoets.

“Om na ons personeel om te sien is ʼn top-prioriteit vir die hospitaalbestuur. Hierdie tegnologie sal ons vermoë verder versterk om die risiko's vir personeellede in die kritiekesorgomgewing (ISE en hoësorg) te verklein en is ʼn betekenisvolle stap vooruit," sê dr Dimitri Erasmus, uitvoerende hoof van die Tygerberg-hospitaal.

Ventilasie van Covid-19-pasiënte verg gespesialiseerde kennis van ventilasiefisiologie en ervaring in kritieke sorg. Net ʼn klein getal intensiewesorgspesialiste by die Tygerberg-hospitaal beskik daaroor. Die hospitaal is ook verantwoordelik vir die ISE-behoeftes van distriks- en streekshospitale, insluitende dié in die Paarl, Khayelitsha, Helderberg en Worcester. ISE-sorg vereis voortdurende bywerking van pasiënte se lewenstekens, wat tans ʼn arbeidsintensiewe proses op ʼn papiergebaseerde stelsel behels en moontlike risiko van infeksie by siekbeddens vir gesondheidswerkers inhou.

Die Tygerberg-hospitaal het onlangs twee “infeksiebestande robotverpleegkundiges" aangeskaf. Quintin en Salma help IS-spesialiste reeds met saalrondes in die Covid-19-waakeenheid. Die digitaliseringsprojek sal ʼn uitbreiding van Quintin en Salma se werk wees en sal die risiko van infeksie verder verklein, asook die vermoë, reikwydte en doeltreffendheid van mediese en verpleegpersoneel verhoog.

“Die veiligheid van hospitaalpersoneel is ons top-prioriteit en al word personeel van persoonlike beskermingstoerusting voorsien, is dit net vir 45 minute gemaklik om te dra. Dit is lomp en tydrowend om aan en uit te trek. Deur die papierwerk te verminder sal verpleegkundiges kan fokus om sorg van hoë gehalte aan pasiënte te verskaf," verduidelik dr Brian Allwood, ʼn IS-spesialis wat in die Tygerberg-hospitaal se Covid-19-kritiekesorgeenhede werk en ook een van die leiers van die digitaliseringsprojek is. “Na raming sal personeelbesmettingsbeheer met tot 50% verbeter as papier deur digitale rekordhouding vervang word."

Die nuwe digitale stelsel sal pasiënt- en spesialisdata deur die gebruik van kameras, rekenaartablette en stem- en elektroniese notas op ʼn sentrale databasis vasvang, wat spesialiste en verpleegkundiges in staat sal stel om pasiënte van ʼn afstand te monitor (pleks van by die siekbed) en dus potensieel vir meer pasiënte te sorg. Met hierdie tegnologie kan die kapasiteit van dokters in effek verhoog word deurdat IS-spesialiste pasiënte selfs van die huis af kan monitor, wat hulle in staat stel om hierdie kritieke werk te doen terwyl hulle self-isoleer of om afgetrede dokters met die nodige vaardighede aan te stel om pasiënte en ventilatorlesings van ʼn afstand te monitor.

In die toekoms kan hierdie stelsel uitgebrei word vir die monitering van pasiënte in eksterne of landelike hospitale wat nie oor die nodige personeelvaardigheid of kapasiteit hiervoor beskik nie en dit kan ná die pandemie voortduur.

Nog ʼn newevoordeel van die installering van kameras by Covid-19-ISE-beddens is dat dit moontlik video-oproepe tussen pasiënte en hul gesinne kan fasiliteer. “Pasiënte in Covid-19-sale is heeltemal van hulle geliefdes afgesonder en hulle kan eensaamheid ervaar. Video-oproepe met vriende en familie wanneer pasiënte stabiel en op die herstelpad is, kan ʼn groot hupstoot vir hulle welstand en veggees wees," sê Allwood.

Hierdie noodsaaklike projek is moontlik gemaak deur ʼn skenking van die Michael & Susan Dell-stigting. Hierdie filantropiese organisasie sonder winsbejag het $100 miljoen bewillig om gemeenskappe wêreldwyd te help om Covid-19 te beveg.

“Covid-19 het ʼn mediese noodtoestand geskep wat van gesondheidsorginstellings vereis om vinnig nuwe en innoverende maniere te ontwikkel om hulle personeel, pasiënte en families veilig te hou. Ons is dankbaar om sy-aan-sy met ons vennote te werk terwyl hulle elke dag nuwe uitdagings die hoof bied en die virus onvermoeid beveg," sê dr Thashlin Govender, programdirekteur van die Michael & Susan Dell-stigting Suid-Afrika.

Ofskoon die R1,8 miljoen-skenking van die Michael & Susan Dell-stigting die kritieke eerstevlak-digitalisering van die Covid-19-ISE by die Tygerberg-hospitaal moontlik gemaak het, kort ʼn verdere R2,9 miljoen vir die tegnologie-opgradering in die saal en die geïntegreerde afstandsonderrig- en -leerplatform.