Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US sosiale impak-aktiwiteite in reaksie op COVID-19-pandemie
Outeur: Corporate Communication and Office of the Senior Director: Social Impact and Transformation.
Gepubliseer: 22/06/2020
​Die afgelope twee maande het doelgerigte vennootskappe tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en vele ander verligting aan duisende mense gebring wat weens die nasionale staat van inperking en die COVID-19-pandemie nood ondervind. Hierdie tyd is gekenmerk deur deernis om mense te help en die US het deur middel van sy Afdeling Sosiale Impak die instelling se prosesse vinnig aangepas om steeds 'n invloed op die samelewing te kan hê.

Ons reaksie op die COVID-19-pandemie stem ooreen met ons Visie 2040 en ons aspirasie om 'n allesomvattende invloed op die maatskaplike, finansiële en omgewingswelstand van die dorp, die streek, die land en die vasteland te hê. As 'n Universiteit, dien ons Suid-Afrika en Afrika met oorgawe. Ten einde te inspireer en geïnspireer te word, skakel en werk die US op 'n plaaslike, streeks-, kontinentale en wêreldvlak saam met belanghebbers, die gemeenskap wat ons dien, die bedryf, die regering en ons universiteitsvennote. Ons benadering tot samewerking en skakeling stem ooreen met ons waardes, met spesifieke verwysing na respek, deernis en billikheid.

Ons instelling se geïntegreerde reaksie op COVID-19, insluitende die verskillende sosiale impak-inisiatiewe, word deur die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) bestuur. Hierdie dokument gee 'n oorsig oor die US se sosiale impak-reaksie gedurende die COVID-19-pandemie. Ons sosiale impak-inisiatiewe word deur die kantoor van die Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie bestuur.

Studentevrywilligers
'n Groep van 360 Matiestudente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe werk as vrywilligers by die Tygerberg-hospitaal om te help in die stryd teen COVID-19. Sewentig studente werk in die hospitaal se siftingsarea, 20 studente is by die hospitaal se ingang gestasioneer om handreiniger aan besoekers te verskaf, terwyl 15 studente help om positiewe COVID-19-gealle telefonies na te speur. Nog 115 studente doen diens by die Nasionale Covid-19-hulplyn en

70 studente help met die dag-tot-dag funksionering van die hospitaalsale. Studente versamel ook data en verwerk statistiek vir die Afdeling Epidemiologie en Biostatistieke, terwyl ander data by die Afdeling Mediese Virologie versamel. Klik hier om meer te lees.

Skenkings van matrasse en komberse
Sover is 60 matrasse en 50 komberse geskenk aan die tydelike skuiling vir haweloses wat in die Van der Stel-saal ingerig is. Die munisipaliteit se Afdeling Gemeenskapsontwikkeling verskaf daaglikse etes, en sy Afdeling Maatskaplike Dienste en verskeie ander nieregeringsorganisasies (NRO's) van Stellenbosch verleen bykomende hulp waar nodig. Aan die einde van Mei is sowat 59 mense by die skuiling gehuisves. Die verskaffing van tydelike behuising aan hawelose inwoners duur voort gedurende vlak 3 van die inperking.

Voedselpakkies
Ons het verskeie sosiale impak-aktiwiteite ondersteun wat deur sakeondernemings, geloofsgroepe, NRO's en private organisasies onderneem is.

  • ​Die Universiteit Stellenbosch het onder die oorkoepelende #StellenboschUnite-organisasie 'n vennootskap met die breër Stellenbosse gemeenskap gesluit. Deur middel van hierdie vennootskap werk ons daaraan om op 'n weeklikse grondslag ten minste 2 500 pakkies met voedsel en ander voorrade aan kwesbare lede van die gemeenskap te verskaf.
  • ​Die kantoor van die Vise-dekaan vir Sosiale Impak en Kliniese Opleiding op ons Tygerberg-kampus het 'n voedselkoepon- en kruideniersware-inisiatief ondersteun wat deur die TygerMaties-klusterkantoor georganiseer word. Studente het deur hierdie inisiatief toegang tot voedselkoepons of hulle kan kruideniersware deur die Universiteit se verskaffers aankoop.
MFM Radio se noodsaaklike kommunikasie aan personeel, studente en die gemeenskap
Ons kampus- en gemeenskapsradiostasie, MFM, speel 'n sentrale rol om die US se kommunikasie met die gemeenskap, studente en personeel te fasiliteer. Die radiostasie saai toepaslike inligting uit oor gesondheidsorg, belangrike telefoonnommers en leefstylwenke om die koronavirus te beheer. MFM, wat by die Universiteit gelisensieer is, saai ook kommunikasie uit wat van die nasionale regering, die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement en die Stellenbosch Munisipaliteit ontvang word ten einde gemeenskappe in en rondom Stellenbosch ingelig te hou. 

Kampusgesondheidsdiens bied ondersteuning aan Stellenbosch Munisipaliteit
Ons Kampusgesondheidsdiens (KGD) voorsien telefoniese siftingsdienste aan die Stellenbosch Munisipaliteit. Munisipale werknemers het deur hierdie diens toegang tot KGD-personeel wat hulle evalueer en verwysings na plaaslike hospitale verskaf indien toetsing vir COVID-19 of raad oor selfafsondering benodig word.

Daaglikse inligtingsdokument

Personeel en studente by ons Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe stel 'n “een-stop-dokument" saam wat hoofsaaklik toepaslike COVID-19-inligting en kliniese bewyse aan klinikusse en openbare gesondheidskenners verskaf. Hierdie inligting sal mediese personeel in hul behandeling van pasiënte en ook beleidsformulering help. Die daaglikse inligtingsdokument bevat die jongste wêreldwye en Suid-Afrikaanse data, asook 'n verskeidenheid artikels uit wetenskaplike publikasies wat van belang is. 


Finansiële ondersteuning aan fakulteite
Die Afdeling Sosiale Impak en Transformasie het finansiële ondersteuning aan verskeie inisiatiewe wat met die COVID-19-pandemie verband hou, verskaf. Befondsing is aan die volgende fakulteite verskaf:

Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe: Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het R480 810 ontvang, wat vir die volgende inisiatiewe aangewend word:

  • Opgradering van die Ortopediese Mediese 3D-druklaboratorium

    Hierdie projek is 'n samewerking tussen die Fakulteit Ingenieurswese en die FGGW. Die Ortopediese Mediese 3D-druklaboratorium sal opgegradeer word om die grootskaalse ontwerp en vervaardiging van persoonlike beskermende toerusting (PPE) en ander verbruiksartikels in reaksie op die COVID-19-pandemie te fasiliteer. Meer as 1 500 3D-skerms is reeds deur hierdie laboratorium vervaardig. Klik hier om meer te lees oor hierdie inisiatief.
  • Prototipe vir intubasiehouers

    Toetse word tans op 'n prototipe intubasiehouer gedoen. Daar word gehoop dat hierdie houers deur dokters in waakeenhede gebruik sal word wat pasiënte behandel wat positief vir COVID-19 getoets het en wat ventilasie benodig. Afhangende van die uitkoms van die toetse, sal produksie van die intubasiehouers versnel word om vinnige verspreiding aan al die hoë-risiko areas in die Tygerberg-hospitaal te verseker.
  • Maskervervaardigingsprojek in Avianpark, Worcester

    Ons het 'n opheffingsprogram in Avianpark, 'n arm gemeenskap op Worcester, van stapel gestuur. Baie inwoners sukkel met voedselsekerheid en toegang tot maatskaplike toelae. Die COVID-19-pandemie en die staat van inperking het die nypende nood in die gemeenskap verder vererger. Gemeenskapslede word deur die program bemagtig om handgemaakte maskers te vervaardig en te verkoop.

Ukwanda-sentrum van Landelike Gesondheid bied samewerkende sorg op Worcester
Die Breedevallei-subdistrik gaan gebuk onder 'n groot las van pasiënte wat naby aanmekaar woon en beperkte toegang tot hulpmiddel het. Om pasiënte te help, verskaf ons gedurende die COVID-19-pandemie opvolg-gesondheidsorg tuis.

  • ​Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe: Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe het R129 800 ontvang wat vir die volgende inisiatief aangewend sal word:Virtuele aanbieding van die Sertifikaatprogramme in Musiekgeletterdheid
  • Die Sertifikaatprogramme in Musiekgeletterdheid is die Musiekdepartement se grootste sosiale impak-program. Dit verskaf sedert 2009 formele musiekopvoeding aan gemeenskappe met geen of baie min toegang tot formele musiekopleidingsprogramme het. Danksy die befondsing, kan die kursus voortgesit word en sal dit studente wat vir die 2021-toelatingseksamens voorberei, in staat stel om aanlyn-klasse by te woon en toegang tot mentorprogramme te hê. Klik hier om meer te lees oor hierdie program.


US-hulpfonds
Ons het die #COVID-19-hulpfonds in die lewe geroep om met vyf prioriteite te help: Digitale toegang vir US-studente; #Move4Food; Ondersteuning vir US-gesondheidswerkers; Reageer met Navorsing en Innovasie; en #StellenboschUnite. Klik hier om meer te lees oor hierdie fondsinsamelingsinisiatief.

Vestiging van nuwe netwerke en versterking van bestaande samewerking
Gedurende hierdie tydperk het 'n uitgebreide samewerkingsnetwerk tussen die US en belanghebbers soos hulpaksiegroepe, rampbestuureenhede, nieregeringsorganisasies (NRO's), plaaslike en provinsiale regering, vaklui, sakeondernemings, hospitale, geloofsgroepe en niewinsgewende organisasies ontwikkel. Ons is ook 'n lid van die Gesamentlike Operasionele Komitee (GOK) van die Stellenbosch Munisipaliteit en die provinsiale regering wat uit verskeie openbare en private belanghebbers op die gebiede van gesondheid, veiligheid en rampbestuur bestaan.