Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TygerMatie se data ‘skeem’ help dat studente nie agter raak nie
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 27/05/2020

TygerMaties snoer saam in ʼn tyd van nood. Die vyfde jaar mediese student, Sibongumezi Mtshali, het ʼn veldtog begin om minderbevoorregte studente te help om data te koop sodat hulle hul studies aanlyn kan voortsit tydens die inperking.

Tot dusver het die Connecta Skeem-veldtog meer as R3000 ingesamel en 17 studente van verskeie instansies oor Suid-Afrika gehelp om data te koop vir die maand.

Mtshali, wie oorspronklik van Newcastle in KwaZulu-Natal kom, het met die veldtog vorendag gekom nadat sy met vriende by ander kampusse in Suid-Afrika gesels het.

“Hulle het my vertel van klasmaats wat in diep landelike gebiede woon wat sukkel om hulle studies aanlyn voort te sit omdat hulle ouers werkloos is."

Sy het deur middel van sosiale media na klasmaats en vriende uitgeryk om die nuus van die veldtog verder te versprei.

“Die projek verskaf data aan behoeftige studente en word befonds deur donasies. Die minimum bedrag wat geskenk kan word, is R10 en word bygelas tot ʼn student se data vir ʼn maand."

Sy het gevind dat daar ʼn oorweldigende behoefte is. “Die eerste student wat ons gehelp het, was die seun van ʼn skoonmaker wat nie tydens die inperking kon werk nie.

“Ek het al meer as 100 versoeke vir hulp ontvang van studente reg oor die land. Elke dag ontvang ek omtrent 20 nuwe boodskappe van behoeftige studente," het Mtshali gesê.

Sy het gesê dat die studente ʼn siftingsproses deurgaan voordat hulle hulp ontvang. “Hulle moet inligting verskaf, insluitende bewyse van registrasie by ʼn tersiêre instansie, bewyse van hul woonplek, agtergrond inligting en ʼn motiveringsbrief vir hoekom hulle data benodig.

“Sodra ons die geld ingesamel het, verduidelik ek aan studente die data-promosies by hulle spesifieke netwerk en dra ek genoeg lugtyd oor na hulle selfoon sodat hulle kan data koop vir die maand.

“Alternatiewelik kan skenkers die student se nommer aanvra en die gelde direk aan hulle oorplaas. Baie skenkers verkies hierdie metode."

Tot dusver het die veldtog studente van die Universiteit van Kaapstad, die Nelson Mandela Universiteit, die Universiteit van Pretoria, Durban Universiteit van Tegnologie, die Universiteit van die Weskaap, en die Universiteit van Zululand gehelp.

Mtshali het gesê sy was oorweldig deur mense se positiewe reaksie op die veldtog. “Dit voel regtig goed om so ʼn groot verskil aan iemand se lewe te maak. Ek is toegewy daaraan om ander te help. Ek het die veldtog begin om te verseker dat geen student agtergelaat word weens faktore buite hulle beheer nie. Die realiteit van ons land is dat baie mense onder die broodlyn lewe en die families maak staat op die kinders op universiteit vir ʼn beter lewe. Baie universiteite kon tot dusver nie studente help met data nie. Hierdie is slegs noodbefondsing totdat die probleem opgelos kan word."

​Hierdie voormalige hoofmeisie is van plan om vir ʼn paar jaar lank ʼn landelike dokter te wees sodra sy gekwalifiseer het, en dan in die een of ander chirurgiese veld te spesialiseer. Sy is ook van plan om ʼn mentorskap-program vir skoolgaande meisies te begin, asook ʼn stigting om gesinne met geestelike gesondheidsprobleme te help. ​