Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-koor sing voort gedurende COVID-19-pandemie
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 26/05/2020

Met Suid-Afrika wat steeds in 'n staat van inperking is en streng sosiale afstandskepping moet toepas, het die bekroonde Stellenbosch Universiteit (US) koor besluit om deur musiek hoop te bring gedurende die COVID-19-pandemie.

Die koor het onlangs 'n nuwe virtuele musiekprojek, 'Die Donker', op sy YouTube-kanaal bekendgestel. Al 119 koorlede het deelgeneem deur individuele tuisvideo's saam met 'n metronoom-klankbaan op te neem om gesinchroniseerde opnames te verseker.

Die US-koor se dirigent, André van der Merwe, sê die musiekprojek het aan die koor die geleentheid gegee om in hierdie tyd waar hulle nie fisiek saam kan wees nie, weer as 'n span te funksioneer.

“Die wêreldwye pandemie het die samelewing oornag baie ingewikkelder gemaak. Ek en die koor was aanvanklik baie hartseer oor die gebeure. Ons het 'n groot geleentheid misgeloop om in Julie vanjaar aan die Wêreldkoorspele in België deel te neem. Hierdie videoprojek is 'n klein troosprys en dit het ook die koorlede die geleentheid gegee om alles wat regtig vir hulle belangrik is, te heroorweeg."

Die musiek vir 'Die Donker' is 'n verwerking van twee ikoniese Afrikaanse liedjies, 'Die Gang' (Christopher Tor en uitgevoer deur Laurika Rauch) en 'Klein Tambotieboom' (Die Heuwels Fantasties).

Gerhard Roux het die klankvermenging vir die koor behartig en Regardt Visser het die 119 saam geredigeer.

Volgens Van der Merwe, is die virtuele musiekprojek 'n interessante medium waardeur die koor steeds met hul gehore kan kommunikeer.

“Ek glo kunstenaars moet hulleself oor en oor vernuwe en moet hulleself gereeld binne 'n sosio-politiese konteks heroorweeg. Die projek gaan nie daaroor om met organiese koorsang mee te ding nie en dit sal dit ook nooit vervang nie. Ons het nog steeds 'n stem en ons wil dit steeds met ons bewonderaars deel," sê Van der Merwe.

Die Universiteit Stellenbosch-koor het al verskeie oorsese toere onderneem en het al groot lof ingepalm. Die koor is die oudste en meesgevierde universiteitskoor in Suid-Afrika. Dit is in 1936 deur William Morris gestig.

Ten minste drie van die US-koor se liedjies is al meer as 'n miljoen keer op YouTube gekyk. Dit sluit in:

  • Say Something (Pentatonix) met 5,5 miljoen kyke,
  • Baba Yetu (Christopher Tin) met 2,6 miljoen kyke, en
  • All of Me (John Legend) met 2 miljoen kyke.

Klik hier vir nog uitvoerings van die US-koor op hul YouTube-kanaal. ​