Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wat die vlak 3 risiko-aanpassing vir die US behels en betalingsverligtingmaatreëls
Outeur: Prof Wim de Villiers​: Rector and Vice-Chancellor
Gepubliseer: 25/05/2020
​25 Mei 2020

Beste Student

Die afgelope agt weke het ons as Universiteitsgemeenskap eerstehands ervaar hoe ons daaglikse aktiwiteite na die virtuele wêreld verplaas word – ’n werklikheid wat in alle waarskynlikheid kenmerkend van die hoëronderwyslandskap van die toekoms gaan word. As instelling moes ons alles uithaal om te verseker dat ons studente nie deur hul omstandighede gepootjie word nie. Ons studente het nou grootliks suksesvol na aanlyn-leer oorgeskakel.

Ná president Cyril Ramaphosa se aankondiging gisteraand dat die risiko-assessering vanaf 1 Junie 2020 na vlak 3 aangepas word, sal ons ons scenario-beplanning vir die volgende fase in werking stel. Met die oog op hierdie aankondiging het die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap, Tegnologie en Innovasie, dr Blaze Nzimande, Saterdag belangrike riglyne oor die onderskeie risiko-assesseringsvlakke verskaf (lees sy volledige verklaring hier).

As deel van die beheerde hervatting van kampusaktiwiteite, mag instellings in vlak 3 ’n maksimum van 33% van die studenteliggaam toelaat om na kampusse terug te keer. Dit is aan die streng nakoming van nasionale regulasies onderhewig. Dit sal op baie spesifieke groepe studente van toepassing wees – hoofsaaklik finalejaarstudente of nagraadse studente wat kliniese opleiding, praktiese sessies in laboratoriums en gespesialiseerde toerusting benodig om hul akademiese jaar suksesvol te voltooi.

Soos alle universiteite, sal ons aan streng gesondheids- en higiëniese vereistes moet voldoen, soos die voorsiening van handreiniger en gesigsmaskers, die neem van koors, sifting en toetsing van personeel, studente en besoekers, voorbereiding van afsondering- en kwarantyngeriewe indien infeksies sou voorkom en persoonlike beskermende toerusting vir mediese personeel by die kampusgesondheidsdiens. Neem asb kennis van die volgende belangrike riglyne:

  • Geen studente mag nie na die kampus of koshuise terugkeer alvorens hulle nie deur die Universiteit ingelig is om dit te doen nie. Gegrond op die riglyne wat deur die regering verskaf is, sal studente wat mag terugkeer, deur hul onderskeie fakulteite in kennis gestel word.
  • Met vlak 3 wat op 1 Junie in werking tree, sal ons kampusse tyd nodig hê om voor te berei om te verseker dat dit veilig is vir personeel en studente om terug te keer.
  • Onder vlak 3 sal die Universiteit reispermitte aan terugkerende studente moet uitreik.
  • Die eerste en tweede eksamengeleenthede soos vir Junie en Julie geskeduleer is, sal alles as aanlyn-assesserings afgelê word soos in ons vorige kommunikasie aangedui is.
  • Sommige studente wil moontlik boeke en akademiese materiaal in hul koshuise gaan haal. Eenmalige toegang sal toegelaat word, maar slegs indien dit vooraf met die koshuishoof gereël is. Toegang tot koshuise sal ter wille van sosiale afstandskepping en gesondheidsredes verantwoordelik bestuur moet word.

Sosiale kontak as leergeleenthede is vir ons waardevol. Om onder die huidige omstandighede nie die volle studente-ervaring aan ons studente te kan bied nie, is maar een van die talle ongelukkige gevolge van hierdie wêreldwye pandemie wat baie groot onvoorsiene uitdagings vir ons instelling en finansiële ontberings vir baie mense, insluitende ons studente en ouers, meegebring het. Daarom sal die volgende betalingsverligtingmaatreëls toegepas word:

  • Vir diegene wat nie die Mei- en September-betaaldatums kan haal nie, kan ’n reëling vir maandelikse paaiemente vir die res van 2020 getref word. Hierdie alternatiewe afbetalingsreëling sal slegs op 2020 van toepassing wees en alle finalejaarstudente se gelde moet voor die 2020-gradeplegtighede betaal wees en vir ander studente voor registrasie vir 2021.
  • Normaalweg word rente teen primakoers op agterstallige rekenings gehef, maar geen rente sal betaalbaar wees vir die vier-maande tydperk van 1 April tot 31 Julie 2020 nie.
  • Geen heffings word tans vir parkering, verenigings, sportklubs en koshuis- en PSO-aktiwiteite gehef nie, aangesien dit volgens werklike gebruik bepaal en gehef sal word wanneer daar meer sekerheid hieroor is.
  • Gegewe die situasie wat die COVID-19-pandemie geskep het en die ontruiming van studente vanaf die kampus, asook die finansiële druk op studente en hul borge, het die US ’n toepaslike kleiner paaiement vir koshuisgelde bepaal wat einde Mei 2020 betaalbaar is. Die verminderde tweede paaiement, tesame met die finale paaiement wat in September betaalbaar is, sal verseker dat US-studente slegs vir die weke wat hulle werklik vanjaar in die koshuis was, betaal.

Nie die hoëronderwyssektor óf individuele instellings kan voorspel hoe die situasie gedurende die res van die akademiese jaar gaan ontvou nie: of alle studente uiteindelik sal kan terugkeer; of ons somerskole sal moet aanbied en bykomende assesseringsgeleenthede moet byvoeg; of ons weer sal moet sluit, afhangende van die nasionale omstandighede en voorskrifte; en of ons selfs die akademiese jaar tot in vroeg 2021 sal moet verleng. In die belang van ons studente oorweeg ons verskillende scenario’s en die moontlike praktiese en finansiële implikasies daarvan. In die lig van die regering se totale finansiële verpligtinge weens COVID-19, sal universiteite waarskynlik beperkte bykomende finansiële ondersteuning ontvang.

Aangesien ons maar al te bewus is van die uitdagings van aanlyn-leer, die sosio-ekonomiese situasie en die moontlike uitwerking daarvan op ons studente se welstand, stel ons ons kundigheid en hulpbronne beskikbaar om ons wye verskeidenheid ondersteuningsdienste aan ons studente uit te brei om hulle die beste geleentheid moontlik te bied om die akademiese jaar suksesvol te voltooi. Raadpleeg asb die spesiale COVID-19-webblad gereeld vir die jongste nuus en inligting oor die verskillende ondersteuningsdienste wat vir studente beskikbaar is.

Terwyl ons nou vir die gefasseerde terugkeer en herintegrasie van personeellede en studente gereedmaak, besef ons die lewe gaan ná die algehele inperking nie dieselfde wees nie. ’n Gids en gereedskapskis is voorberei om almal se gesondheid te verseker. Daar sal van alle terugkerende studente en personeel verwag word om ten alle tye sonder uitsondering aan die beginsels vir persoonlike higiëne en die voorgeskrewe veiligheidspraktyke gehoor te gee. Op hierdie manier sal ons almal se gesondheid en veiligheid verseker.

Ons wens julle alles van die beste toe vir die komende assesserings.

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier