Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch se BioCODE eerste ontvanger van UTF-fondse
Outeur: Innovus
Gepubliseer: 25/05/2020

​Terwyl jy hierdie artikel lees, sal daar volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie minstens 4 500 mense weens kanker sterf en 8 000 weens kardiovaskulêre siektes. Hierdie statistiek word vererger deur die omstandighede en tekort aan gesondheidsorg vir baie van hierdie slagoffers in ontwikkelende lande. 

Prof Resia Pretorius, hoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Fisiologiese Wetenskappe in die Fakulteit Natuurwetenskappe, en haar span navorsers, ingenieurs en wetenskaplikes hoop om hierdie uitdagings die hoof te bied deur die patentering en ontwikkeling van die BioCODE 2-in-1 nanosensor om siekterisiko's in pasiënte te bepaal. 

Pretorius sê kanker en kardiovaskulêre siektes word dikwels gekenmerk deur tipe 2-diabetes, beroerte, hartaanval en trombose, en die goue draad wat al hierdie toestande verbind, is sistemiese inflammasie. “Hierdie inflammasie is die resultaat van verhoogde sirkulerende inflamatoriese biomerkers, insluitende serumamyloïed A, P-selektien en abnormale bloedproteïne vou. Hierdie biomerkers is die oorsaak van klewerige bloed en hulle teenwoordigheid verhoog die moontlikheid van 'n beroerte, hartaanval of diep-aartrombose."

Anita Nel, Hoofdirekteur: Innovasie en sake-ontwikkeling en hoof van  Innovus, die US se kantoor vir tegnologie-oordrag vir die kommersialisering van die instelling se bates, het die span byeengebring: Pretorius, prof Anna-Mart Engelbrecht, 'n kankernavorser, ook van die Departement Fisiologiese Wetenskappe, en prof Willie Perold van die US se Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, het 'n protokol vir 'n klein draagbare en koste-effektiewe nanosensor ontwikkel. 

Die BioCODE-span was die eerste ontvangers van befondsing uit die nuutgestigte Universiteitstegnologiefonds (UTF).

Innovus was instrumenteel in die samewerking met navorsers om befondsing te verkry vir die eerste fases van die BioCODE se ontwikkelingswerk, die patentering daarvan en die stigting van 'n maatskappy wat tans by die US se LaunchLab geïnkubeer word.

Die sensor is relatief goedkoop om te vervaardig en klein genoeg dat 'n geneesheer dit in sy of haar spreekkamers en verpleegkundiges dit in mobiele klinieke kan gebruik. 'n Tweede deel van die sensor bespeur spontaan gevormde klewerige bloedklonte in omloop met behulp van slimfoon-gebaseerde tegnologie. 

Perold sê dit is baie opwindend om deel te wees van hierdie multidissiplinêre span kundiges. “Ek glo wel dat baie van die oplossings van huidige probleme in hierdie benadering lê."

Pretorius het gesê die BioCODE bespeur inflammatoriese biomerkervlakke van 'n druppel bloed. “Die serumamyloïed A- en P-selektienmolekules in die sirkulasie van 'n persoon word opwaarts gereguleer indien daar 'n risiko is vir kanker of kardiovaskulêre siektes. Om hierdie molekules te meet, gebruik ons teenliggaampies wat ons op 'n toetsstrook vir die BioCODE immobiliseer," sê Pretorius, wat reeds in 2018 fondse verkry het om die teenliggaampies in alpakkas te produseer. Hulle is nou in die proses om dié teenliggaampies met kommersiële teenliggampies te vergelyk.

In die praktyk sal 'n geneesheer gewoonlik bloed na patologielaboratoria stuur vir biomerker-ontleding. Met die 2-in-1 nanosensor hoef die geneesheer nie meer die bloedmonsters weg te stuur nie. Deur druppels bloed van die pasiënt op stroke wat serumamyloïed A en P-selektien bevat, te plaas, kan die geneesheer self die vlakke van die biomerkers in die pasiënt bepaal. “Alhoewel 'n mens nie kan bepaal watter soort kanker 'n pasiënt per se kan hê nie, kan 'n verhoogde serumamyloïed A in die sirkulasie daarop dui dat 'n soort kanker teenwoordig is en dat verdere toetsing gedoen behoort te word. “As die serumamyloïde A-vlakke byvoorbeeld baie hoog is by 'n manlike pasiënt, kan 'n mens toets vir prostaatkanker, of in die geval van 'n vroulike pasiënt, vir borskanker." Hierdie biomerkers is ook aansienlik opwaarts gereguleer in kardiovaskulêre siektes. Die klinikus sal steeds die finale diagnoses moet maak op grond van die gewone kliniese diagnostiese prosesse.

“Ons beoog om die sensors voortdurend te verbeter om uiteindelik spesifieke kankers na te speur. Ons werk tans ook aan 'n sensor vir die vroeë opsporing van kanker in die pankreas; aangesien dit gewoonlik op 'n baie laat stadium waargeneem word en dus 'n swak prognose vir hierdie pasiënte beteken. Die sensor stel ons in staat om hierdie kanker op 'n baie vroeëre stadium op te spoor, wat 'n groot verskil sal maak aan die lewensverwagting van hierdie pasiënte wat tans 'n  lewensverwagting van slegs drie tot ses maande het," sê Engelbrecht.

Pretorius het gesê die nanosensor kan selfs gebruik word om verhoogde sitokienaktiwiteit te voorspel wat kenmerkend is van die sitokienstorm tydens COVID-19.

Die prototipe van die elektroniese deel van die nanosensor word tans gefinaliseer. Die eerste werknemer van BioCODE, Este Burger, wat onlangs as ingenieur aan die US afgestudeer het, is besig met die ontwikkeling van die slimfoon-sensor vir die onderneming.

Dr Andre du Toit (na-doktoraat-navorser) en Greta de Waal (PhD-student), albei van die Departement Fisiologiese Wetenskappe, help die span om die teenliggaampies op die toetsstroke te immobiliseer.

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, ('n gastroënteroloog, met 'n spesiale belangstelling in serumamyloïed A in kolorektale kanker), is ook deel van die BioCODE-span en hou saam met Pretorius, Engelbrecht en Perold, die patent vir die BioCODE. Hy deel ook  toesig van 'n PhD-student met Pretorius.

“BioCODE is die regte produk vir die regte tyd in Suid-Afrika vandag," sê De Villiers. “Dit is nie net koste-effektief om te produseer nie, maar dit sal mediese praktisyns ook in staat stel om mense in ons landelike gebiede toegang te gee tot waardevolle mediese keuring wat tans nie moontlik is nie. Vir my is dit 'n eer om deel te wees van 'n jong en toegewyde span wat 'n tuisgemaakte produk skep wat deur mediese praktisyns regoor die wêreld gebruik sal kan word."

Pretorius spreek haar dank uit aan die UTF vir die befondsing van die navorsing. Dit sal die span in staat stel om die mylpale suksesvol te bereik wat die hefboom vir verdere befondsing sal bied. “Ons sal tien BioCODE 2-in-1-sensors moet vervaardig en 'n onafhanklike onderneming moet betrek wat bloed sal trek en toetse op die BioCODE doen om te bepaal of dit konsekwente en vergelykbare goudstandaard-resultate sal lewer. Dit sal uiteindelik lei tot proto-proewe teen die einde van die derde mylpaal aan die einde van 2020, wat BioCODE op koers sal sit om 'n kommersieel lewensvatbare produk te word. "

Stocks & Strauss, wat as fondsbestuurders vir die UTF-fonds aangestel is, glo dat BioCODE 'n unieke beleggingsgeleentheid is, sê Wayne Stocks, vennoot. “Ons is van mening dat die wetenskap nuut is, dit 'n opwindende markgeleentheid is, en die BioCODE-span die kundigheid, ervaring en passie het om die mylpale te bereik wat geïdentifiseer is om die tegnologie op 'n wêreldwye skaal te bewys en te kommersialiseer."

Agtergrond inligting:

Meer oor Innovus

Innovus is 'n afdeling van die Universiteit Stellenbosch wat verantwoordelik is vir die oordrag van tegnologie, entrepreneuriese ondersteuning en ontwikkeling en innovasie aan die Universiteit. Innovus bestuur die kommersialisering van die Universiteit se portefeulje vir innovasie en intellektuele eiendom deur patentering, lisensiëring en die vorming van uitspin-ondernemings.

Innovus bied, deur middel van die LaunchLab-inkubator, verskillende dienste en geleenthede vir entrepreneurs. Daarbenewens is hul aandele in die Innovus-groep ondernemings 'n waardevolle bate vir die universiteit.

Innovus se webwerf (www.innovus.co.za) bevat 'n indrukwekkende portefeulje patente en bied gereedskap en advies aan uitvinders wat hul idees wil kommersialiseer, en beleggers wat wil help om van wonderlike idees, werklikhede te maak.

Meer oor Innovus en die UTF

Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Kaapstad het saam belê in die nuutgestigte Universiteitstegnologiefonds (UTF) van R150 miljoen ('n eerste vir die kontinent van Afrika) wat deur die SME-fonds opgerig is om saam te werk met Suid-Afrikaanse universiteite om die tegnologieë en sake-idees wat uit hierdie universiteite voortspruit, te kommersialiseer.

Anita Nel, hoofdirekteur van innovasie en sake-ontwikkeling by Innovus, werk al 'n paar jaar en haar span aan die ontwikkeling van 'n finansieringsmodel vir vroeë saadkapitaal vir die uitvindings van universiteite en om ondersteuning daarvoor te kry. Sulke befondsing is van kardinale belang vir die aanvanklike ontwikkelingsfase van vroeëfase-tegnologieë en vir die oprigting van opstartondernemings. Fondse wat uitsluitlik op belegging in universiteitstegnologie fokus, pluk in die buiteland, maar die UTF is die eerste beleggingsfonds in Afrika wat vir universiteitsuitvindings toegewy is. Dit het 'n unieke model wat voorsiening maak vir 'n toekenning van vooraf-befondsing wat instellings se tegnologie-oordragkantore bemagtig om vroeëfase-tegnologie-ontwikkeling te ondersteun, met die opbou van 'n stewige pyplyn van belêbare tegnologieë vir die UTF.