Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
R150m Universiteitstegnologiefonds ’n eerste vir Afrika
Outeur: Innovus
Gepubliseer: 12/02/2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit Kaapstad (UK) gaan saam belê in die nuut-gestigte R150 miljoen Universiteitstegnologiefonds (UTF) wat deur die SA SME-fonds opgestel is as deel van sy voorneme om vennootskappe te vorm met Suid-Afrikaanse universiteite vir die kommersialisering van tegnologieë en besigheidsidees wat op hierdie kampusse ontwikkel word. Stocks & Strauss is as fondsbestuurders aangestel.

Anita Nel, Hoofdirekteur Innovasie en Besigheidsontwikkeling, wat aan hoof staan van Innovus, die US se interaktiewe bedryfsplatform vir die kommersialisering van die instelling se bates, sê: “Die UTF is 'n eerste vir die kontinent van Afrika en ons is geweldig trots daarop om deel te wees van iets wat ons glo 'n merkwaardige spelbreker gaan wees vir universiteite wat hul tegnologie op die mark wil kry.

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, sê Innovus het 'n noemenswaardige bydrae gelewer in die opbou van 'n groep indrukwekkende maatskappye vir die universiteit. Innovus het ook die LaunchLab tot stand gebring wat entrepreneurs van binne en buite die Universiteit ondersteun.

“Hierdie besigheidsinkubator het die US help vestig as 'n internasionale erkende entrepreneuriese Universiteit. Entrepreneurskap is een van ons strategiese fokusareas en daarom is die UTF vir ons geweldig belangrik. Ons finansiële belegging in die UTF is ons verbintenis om die innoverende navorsers wat intellektuele eiendom met sterk kommersiële potensiaal geskep het, te ondersteun en te beloon," sê De Villiers.

Nel en haar span werk al vir 'n geruime tyd aan 'n ontwikkeling van 'n finansiëringsmodel wat vroeë saadkapitaal bied vir uitvindings van universiteite en om ondersteuning daarvoor te kry. Sulke befondsing is uiters belangrik vir die aanvanklike ontwikkelingsfase van vroeëfase-tegnologieë en om jong besighede (start-ups) van die grond te kry. Wêreldwyd is daar 'n oplewing van fondse wat slegs  fokus op beleggings in universiteitstegnologieë, maar die UTF is die eerste beleggingsfonds in Afrika wat spesifiek vir universiteitsuitvindings geskep is.

Die fonds is geskoei op 'n unieke model wat voorsiening maak vir vooraf-befondsing wat instellings se tegnologie-oordragskantore in staat stel om vroeëfase-tegnologieontwikkeling te ondersteun. Sodoende bou hulle 'n soliede pyplyn van belêbare tegnologie vir die UTF. “Ons is baie dankbaar  vir

Tom Hockaday, wat hoof is va die tegnologie-oordragskantoor by Oxford Universiteit, en dr Tony Raven, die Uitvoerende Hoof van Cambridge Enterprise, vir baie ure wat hulle spandeer het om hul uitgebreide kennis in vroeëfase universiteitsfondse met ons te deel en vir die onskatbare advies wat hulle in hierdie verband gegee het. Dit was 'n voorreg om met sulke ervare mense te werk," het Nel gesê.

“Gebaseer op beste praktyk, is die fonds van uiterse belang in ons doel om 'n kennisstreek rondom die Universiteit te skep waar entrepreneurs finansieël en intellektueel ondersteun sal word."

Die dryfveer agter die initiatiewe, Ketso Gordhan, Uitvoerende Hoof van die SA SME-fonds, het gesê hy is baie opgewonde oor die vooruitsig om met Suid-Afrikaanse universiteite saam te werk om tegnologieë en besigheidsidees wat regoor SA kampusse ontstaan, te kommersialiseer. Die volgende stap is dat die fonds uitgebrei word om meer universiteite in te sluit. ​


Meer oor Innovus

Innovus is 'n afdeling van die Universiteit Stellenbosch wat verantwoordelik is vir tegnologie-oordrag, entrepreneur-ondersteuning en ontwikkeling, en innovasie by die Universiteit. Innovus bestuur die kommersialisering van die Universieit se innoverende en intellektuele eiendomsportefeulje deur sogenaamde uitspin-maatskappye te patenteer lisensieër en te formuleer.

Deur die LaunchLab-inkubator bied Innovus verskeie dienste en geleenthede aan entrepreneurs. Daarbenewens is hul aandele in die Innovus-groep van maatskappye 'n waardevolle bate vir die Universiteit.

Innovus huisves ook die afdeling vir Kort Kursusse, Kopiereg en Handelsmerke, asook SunCom, wat 'n reeks kommersiële dienste van die Universiteit bestuur.

Innovus se webtuiste (ww.innovus.co.za) is die vertoonvenster vir 'n indrukwekkende portefeulje patentee n bied advies vir uitvinders wat hulle idees wil kommersialiseer en beleggers wat hulle wil help om van hulle wonderlike idees 'n werklikheid te maak.

 

Meer oor die SA SME-fonds

Die SA SME-fonds is geskep deur lede van die CEO Initiative – 'n samewerking tussen die regering, arbeid en besighede om van die grootste uitdagings vir ekomiese groei in die land aan te spreek – 'n steunpunt vir die klein- en mediumgrootte besigheidsektor. Die SA SME-fonds ken beleggingskapitaal toe aan geakkrediteerde fondsbestuurders – waagkpitaal of groei-georiënteerde aandelefondse – wat direk belê in skaalbare klein- en medium-ondernemings met die beste potensiaal vir groei en volhoubare werkskepping in die Suid-Afrikaanse ekonomie.