Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Omgee vir kollegas lei tot PhD
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 20/05/2020

ʼn Liefde vir die mense saam met wie sy werk en 'n behoefte om hulle gesonde keuses te sien maak om chroniese siektes te voorkom en beheer, was die motivering vir dr Darcelle Schouw se PhD-studie oor 'n gesondheidsbevorderingsprogram by haar werkplek, 'n kommersiële kragaanleg in die Wes-Kaap.

Die resultate was baie lonend en sy het onlangs aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch gegradueer.

Schouw, wat die afgelope 20 jaar as 'n biokinetikus in die aanleg se mediese sentrum werk, het die program – Healthy Choices at Work (HCW) – vier jaar gelede in werking gestel. Volgens haar het dit die lewe van deelnemers verander.

Deur gesonde eetgewoontes, oefening en bewustelike lewenstylbesluite aan te moedig, het die program die gesondheidsrisikofaktore onder werk nemers aansienlik verlaag. En omdat die projek voortgesit word, sal dit verdere gesondheidsvoordele inhou.

Volgens die opsomming van Schouw se PhD met die titel “How to transform the workplace environment to prevent and control risk factors associated with non-communicable chronic diseases", is nie-oordraagbare siektes hoofoorsake van premature sterftes in Suid-Afrika.

Die studie het die ontwerp, ontwikkeling, inwerking-stelling en evaluasie van die HCW-program behels.

“Die program het gefokus op gesonde voedsel-voorsiening, geleenthede vir liggaamlike aktiwiteite, individuele gesondheidsrisiko-assessering en gedrags-veranderingberading, asook die betrokkenheid van die leierskorps. Die studie gebruik nuwe metodes en die lesse wat geleer is kan na soortgelyke werkplek-omgewings oorgedra word," lui haar opsomming.

Talle sterftes was wekroep

Schouw het die HCW-program tussen November 2015 en Desember 2017 by die aanleg in werking gestel. Die inspirasie daarvoor was die afsterwe van agt werknemers in opeenvolgende maande aan nie-oordraagbare siektes (NOS).

“Ek het hulle geken. Van hulle was so oud soos ek. Aan die einde van die jaar het ons 'n collage gemaak van almal wat gesterf het. Dit was die eerste keer dat iemand elke maand gesterf het. Dit was 'n wekroep vir aksie."

Schouw het 11 gerespekteerde, invloedryke werknemers in bestuurs- en sleutelposte uitgenooi om by 'n ondersoekgroep aan te sluit om die HCW-program te ontwerp en implementeer en ander aan te moedig om 'n gesonde lewenstyl te volg. “Ek het hulle my droomspan genoem."

Haar voorstel aan die bestuur om die program te implementeer is goedgekeur en die gesonde keuse is die maklike keuse gemaak deur die werkplekomgewing te transformeer.

Gesondheidsrisiko-assesserings is onderneem, wat cholesterol-, bloeddruk- en ander toetse op personeellede ingesluit het. Die toetse is aan die einde van 2015, 2016 en 2017 herhaal.

“In aansluiting daarby het ons die gesubsidieerde maaltye in gesonde opsies verander. Ons het die sout verwyder en dit met behulp van 'n dieetkundige op gesonder maniere voorberei.

Ons het vrugte gratis beskikbaar gestel, wat groter vrugte- en groente verbruik meegebring het. Ons het praatjies oor gesondheid gereël en liggaamlike aktiwiteite soos hardloop-, stap-, fietsry- en tafeltennisbyeenkomste gereël."

Bevindings

Oor haar bevindings het Schouw gesê die HCW-program is geassosieer met “klinies betekenisvolle verbeteringe in gedrags-, metaboliese en psigososiale risikofaktore vir nie-oordraagbare siektes.

“Hierdie studie toon laer alkohoverbruik, groter vrugte- en groente-inname, 'n toename in liggaamlike aktiwiteitsvlakke, asook 'n verlaging van metaboliese risikofaktore vir bloeddruk en cholesterol oor twee jaar. Dit illustreer voorts die potensiaal van gesondheidsbevordering in die werkplek om intervensies in die gesondheidsdienste en die gemeenskap aan te vul. Intervensies by die werkplek kan 'n betekenisvolle bydrae lewer om die las van nie-oordraagbare siektes in Suid-Afrika te verlaag. Die studie dra by tot navorsing in lae- en middelinkomste lande (LMIL'e) oor die doeltreffendheid van gesonde keuses by die werk om risikofaktore vir nie-oordraagbare siektes te verminder.

“Die studie toon voorts die program is 'n hoogs bekostigbare intervensie. Dit dui op 'n betekenisvolle verbetering in risikofaktore vir nie-oordraagbare siektes, met 'n minimale styging in koste vir die maatskappy. Die implementeringskoste was sowat

$1 per individu, wat belangrik is vir LMIL'e met beperkte hulpbronne."

Spanwerk lonend

Volgens Schouw was die inspirerendste aspek van haar werk om saam met 'n uiteenlopende groep beroepslui uit verskillende agtergronde te werk. “Ons het van begin tot einde as 'n span gewerk. Die span het hul persoonlike tyd gratis opgeoffer en ons was daartoe verbind om lewens te sien verander.

“Die span het die voorbeeld gestel met gesonde voedselkeuses, oefening en gesonde gewoontes. Individuele lewens is verander en dit was duidelik uit werknemers wat tou vir gesonde etes gestaan het en aan liggaamlike aktiwiteite deelgeneem het. Die verandering is sigbaar by die aanleg. Die NOS-profiel van individue het verander. Dit was so bevredigend! En dit was pret om dit te doen!"

Schouw, 'n ma van drie tieners wat mal is oor kampeer, die natuur en die skryf van poësie, is 'n gereelde motiveringspreker by vrouekonferensies.

Sy sou haar program in ander werkplekke en die gesondheidsektor geïmplementeer wou sien, “veral die nasionale Departement van Gesondheid".