Die Universiteit Stellenbosch (SU) het #Action4Inclusion by hul groeiende lys van studentehulp-inisiatiewe gevoeg wat gemik is op akademiese insluiting en die afskryf van historiese skuld vir alle verdienstelike studente.
#Action4Inclusion is deur die US se Studenteraad (SR) en prof Thuli Madonsela, bekleër van die leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid en die Reg aan die US, gestig om te verseker dat geen studente weens hul finansiële omstandighede agterbly nie.
In haar verduideliking van #Action4Inclusion, sê Madonsela dié inisiatief sal “anders as ander bestaande inisiatiewe by die Universiteit as 'n skarebefondsinginisiatief bedryf word wat aksies gebruik om aandag op studente se benarde posisie te vestig, en om Suid-Afrika en hopelik die res van die wêreld aan te spoor om tot die skarebefondsininisiatief by te dra.
“Ons sal 'n staptog reël, of Tafelberg en die Drakensberg gaan uitklim. Die skarebefondsing is gemik op die private sektor, maar eerder as om vir miljoene te vra, is ons benadering om eerder te vra dat hulle moet bydra wat hulle ook al kan.
“Ons kyk ook daarna om na ander instellings uit te brei, aangesien die situasie van studente wat van universiteite uitgesluit word weens nie-akademiese redes 'n nasionale krisis is. Wat die naaste lê, moet egter die swaarste weeg en daarom vra ons Stellenbosch se alumni om saam met ons hande te vat," sê Madonsela.
Die voorsitter van die US se SR, Lewis Mboko, het sy opgewondenheid uitgespreek oor hul planne om die #Action4Inclusion-inisiatief na die res van die land uit te brei.
“Om die probleem op te los, glo ek almal moet deel wees van die oplossing – van die SR tot die studente, tot by die bestuur."
Volgens Arrie Hanekom, Adjunkdirekteur en hoof van die Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings, sal die befondsing handig te pas kom, veral vir internasionale studente wat nie in enige van die twee kategorieë val van studente wat finansiële bystand benodig nie.
Hanekom sê afgesien van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) wat spesifiek bedoel is vir die kategorie studente wat uit huishoudings met 'n inkomste minder as R350 000 per jaar kom, het die US ook 'n aantal beurse vir die “verlore middel"-kategorie – studente uit huishoudings met 'n jaarlikse inkomste van tussen R350 000 en R600 000 kom – beskikbaar.
“Die US is sedert die begin van verlede jaar daartoe verbind om die finansiële gaping te vul wat deur NSFAS gelaat word vir studente wie se studiegelde nie ten volle deur die hulpskema gedek word nie," voeg Hanekom by.
Hy sê al is finansiële hulpskemas soos NSFAS, die Thuthuka-beurs en die Ikusasa Finansiële Hulpfonds vir Studente (ISFAP) beskikbaar, het die US ook 'n nuwe rentevrye leningskema bekendgestel wat daarop gemik is om die verlore middel by te staan.
Hy sê die grootte van die lenings is gelykstaande aan die klasgelde van studente en word rentevry gedurende die studietydperk verskaf. Dit is dan teen 'n vaste prima-rentekoers per jaar terugbetaalbaar ná voltooiing van studies.
“Ons het besluit om op die verlore middel-kategorie te fokus omdat hierdie studente net so finansieel behoeftig is soos diegene wat deur NSFAS befonds word. In die meeste gevalle kan hierdie groep studente nie bekostig om sonder finansiële bystand te studeer nie, aangesien hul ouers beperkte toegang tot krediet by finansiële instellings het," sê hy.
Vir meer inligting oor die tipe befondsing wat vir studente beskikbaar is, klik hier.