Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US chemikus ontvang R6,9 miljoen FLAIR-beurs vir navorsing op ontwikkeling van malaria-teenmiddel
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 11/05/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Dr. Prinessa Chellan is een van 30 jong wetenskaplikes in Afrika wat tot £300 000 (nagenoeg R6,9 miljoen) oor die volgende twee jaar sal ontvang as deel van die Afrika Akademie vir Wetenskappe (AAS) en die Koninklike Vereniging van Londen (RSL) se jaarlikse FLAIR-genootskappe wat vandag, Maandag 11 Mei 2020 aangekondig is.

Die doel van die program, Future Leaders – African Independent Research (FLAIR) is om jong navorsers in Afrika te ondersteun om onafhanklike navorsingsloopbane by Afrika-instellings te ontwikkel, en uiteindelik hulle eie navorsingsgroepe te lei. Hierdie inisiatief word deur die Verenigde Koninkryk se Global Challenges Research Fund (GCRF) ondersteun.

Dr. Chellan, 'n dosent in die US se Department  Chemie en Polimeerwetenskap, onderneem navorsing op die gebruik van metaalkomplekse in die ontwikkeling van nuwe malaria-teenmiddels om middelweerstandige malaria hok te slaan. Malaria hou 'n groot bedreiging vir die inwoners van ontwikkelende lande in. In 2015 het 429 000 mense aan malaria gesterf, waarvan 71% kinders jonger as vyf jaar oud. Die ysterbevattende middel, Ferroquine, ondergaan tans kliniese toetsing as potensiële behandeling vir malaria-infeksies.  

Dr. Chellan se navorsing fokus daarop om ander metaalkomplekse met dieselfde potensiaal te probeer vind. Sy beplan om kruisdissiplinêre projekte te ontwerp waarin studente vaardighede sal aanleer wat na ander dissiplines in die akademie en industrie oorgedra kan word.

Sy sê die FLAIR-genootskap sal verreikende voordele vir haar navorsingsgroep sowel as die Universiteit inhou: “Ek kan nou nuwe toerusting vir my laboratorium aankoop wat my navorsingsgroep kan gebruik om meer bioanalitiese studies mee uit te voer. Ek sal ook toegang hê tot 'n senior mentor en verskeie opleidingsslypskole oor effektiewe leierskap en kommunikasie. My studente sal die geleentheid hê om saam met nuwe medewerkers in die Verenigde Koningkryk te werk en opgelei te word en sodoende sal ons navorsingskapasiteit vergroot word".

 “Ek hoop om 'n groot bydrae tot Suid-Afrika, sowel as Afrika te lewer deur middel van innoverende wetenskaplike navorsing," sluit sy af.

Volgens Prof. Nelson Torto, uitvoerende direkteur van AAS, is nadoktorale programme uiters belangrik in die opleiding en ontwikkeling van jong navorsers wat aan die begin van hul navorsingsloopbane is. Dit stel hulle in staat om in navorsingsleiers te ontwikkel wie se wetenskapsleierskap, beleidmaking sal beïnvloed wat weer die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die kontinent kan bevorder.

Die volgende ronde van aansoeke om FLAIR-genootskappe is tans aan die gang en sal op 27 Mei 2020 sluit. Vir meer inligting en hoe om aansoek te doen, klik hier.