Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Luigia Nicholas: Wie is ek?
Outeur: Transformation Office | Disability Unit | AfriNEAD
Gepubliseer: 05/05/2020
​Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het laat verlede jaar aangekondig dat 2020 die Universiteit se Jaar vir Persone met Gestremdheid sal wees. Die hoogtepunt van die jaar sal die sesde konferensie van African Network for Evidence-to-Action in Disability (AfriNEAD), 'n hoogaangeskrewe internasionale netwerk, wees wat van 30 November tot 3 Desember 2020 by die US aangebied sal word. Om dit te vier en te eer, sal die Transformasiekantoor en die Eenheid vir Gestremdhede, te same met AfriNEAD, maandelikse meningsstukke of artikels deur persone met gestremdhede publiseer. Ons derde stuk is geskryf deur Luigia Nicholas, sy studeer tans vir 'n nagraadse diploma in belastingreg en is die SR se spesiale behoeftesbestuurder.



As die oudste van drie kinders het ek altyd die druk gevoel om die verantwoordelikste kind te wees en probeer om 'n goeie voorbeeld vir my jonger sibbe te stel. Ek het my hele lewe lank met swak sig gesukkel. As jongeling het die onderwysers my ouers meegedeel dat ek lui oë het of 'n bril moet gebruik, maar dit het nie gehelp nie. Ek het my hele laerskoolloopbaan lank gesukkel en moes die onderwysers en my klasmaats om hulp vra, onder meer deur werk uit hul handboeke neer te skryf, omdat ek nie die swartbord duidelik kon sien nie. Dit het my nutteloos laat voel, asof daar iets met my verkeerd is.

Eers in graad 8, op die ouderdom van 14, is die eerste sigtoestand, S Margaret-siekte, by my gediagnoseer. Aan die begin van my hoërskoolloopbaan in 2014 is 'n tweede oogtoestand, naamlik uveïtis, by my gediagnoseer. Nadat ek uitgevind het wat met myfout was, kon ek probeer om my lewe makliker te maak en wat gedoen kon word om my skoolopleiding makliker te maak. Omdat ek 'n hoofstroomprivaatskool bygewoon het, en nie Pionierskool nie, moes ek die skool help om by my behoeftes aan te pas. Ek het hulle geleer hoe om my met my sigtoestand te help sodat ek die beste van my skoolopleiding kon maak. In dié tyd het ek besef ek beskik oor 'n talent om mense te onderrig in maniere om diegene wat anders is te help.

Ek het die 12 jaar van my skoollewe en drie jaar op universiteit deurgebring sonder dat die meeste mense geweet het ek ly aan 'n gesigtoestand en ek was 'n “normale" student, maar toe ek Haiku (my gidshond) kry, het als verander. Mense se houding teenoor my het verander en alledaagse aktiwiteite het moeiliker geword om te verrig. Die eerste keer toe ek Haiku saam met my op 'n inkopietog geneem het, was dit 'n totaal nuwe situasie. Dit was asof die hele winkel na my staar, wat my onveilig laat voel het en my ontmoedig het om weer winkel toe te gaan. Ek was genoodsaak om 'n besluit te neem – óf ek gaan myself bejammer en die lewe aanvaar soos dit is, óf ek gaan veg om 'n verskil te maak.

Toe ek universiteit toe kom, het ek met ander studente wat spesiale behoeftes het, kontak gemaak. Dit het my 'n gevoel van geborgenheid gegee en ek het gou besef ek is nie die enigste persoon wat sukkel met aanvaardingskwessies in 'n samelewing wat nie by my behoeftes aanpas nie. Interaksies deur gemeenskapswerk en sosiale geleenthede, asook die universiteitswerk, het my gewys studente het 'n ruimte nodig waar hulle gehoor kan word. Deur my betrokkenheid by bewustheid oor gestremdhede in die samelewing het ek agtergekom studente het so 'n ruimte nodig waar hulle aan hul gevoel uiting kan gee en met ander oor hul daaglikse lewenstryd kan praat. Dit moes 'n ruimte wees waar hulle met iemand kan gesels wat hul ervaring deel en waar advies en leiding gegee kan word oor die hantering van spesifieke konflikte.

Studente wil egter nie alleen om hul gestremdhede erken word nie, maar ook om hul ander vermoëns. Ek het besluit om die narratief wat slegs vanweë my gestremdheid erkenning gee, te verander deur by verenigings betrokke te raak wat nie op bewustheid van gestremdheid fokus nie. Ek het by verenigings aangesluit wat my ander passies weerspieël. Ek stel ook in rolprente, kerkverenigings, kuns en kunsvlyt, en bordspeletjies belang.

Ek het verder daaraan gewerk om my leierskapsvaardighede deur deelname aan kortkursusse en leierskapsposisies te verbeter. Dit het my gehelp om as persoon te groei en gemakliker met my ander belangstellings te raak. Ek het buite my gemaksone beweeg en sodoende indirek ander begin onderrig en hulle meer bewus gemaak van toeganklikheidskwessies wat hulle kon hê en hoe hul 'n meer inklusiewe omgewing vir persone met gestremdhede kon skep.​