Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
IT verseker bedryfsvoortsetting by US
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 30/04/2020

Terwyl Suid-Afrika voortbeur onder die uitwerking van die wêreldwye COVID-19-pandemie, werk universiteite onverpoosd om te verseker dat studente deur aanlyn-leer ondersteun word en dat personeel van die huis af kan werk.

Sedert die president op 23 Maart 2020 die regulasies vir die tydperk van algehele inperking aangekondig het, het die Universiteit Stellenbosch (US) se Informasietegnologie-departement die afgelope weke bedryfsvoortsetting verseker deur inligting- en kommunikasietegnologie-gebaseerde (IKT-) dienste en toepassings aan personeel en studente te verskaf.

Volgens Attie Juyn, Senior Direkteur: IKT, het die inperking van beweging en tuisbly effektief “99% van alle tradisionele werk- of studie-aktiwiteite op kampus beëindig", en word dit nou aanlyn van die huis af gedoen.

“Ons doel is om alle IKT-gebaseerde dienste en toepassing aan personeel en studente wat van die huis af werk, te verskaf met die dieselfde rykheid en gehalte wat hulle voorheen gehad het," sê Juyn.

IT-ondersteuning aan studente

Van die belangrike IKT-ondersteuningsdienste wat gedurende die tydperk van algehele inperking verskaf word, is die implementering van 'n doeltreffende aanlyn-leerplatform vir studente en onderrigpersoneel deur SUNLearn.

Deur integrasie met die studente-informasiestelsels, sluit SUNLearn alle geregistreerde akademiese modules in. Dit stel dosente in staat om aanlyn-toegang tot alle studente te hê en ondersteun 'n deurlopende poging om studente te help om toegang tot hul dosente te hê selfs wanneer hulle nie fisiek in staat is om klasse of tutoriale sessies by te woon nie.

Studente word aangemoedig om die dienstoonbank by https://learnhelp.sun.ac.za te besoek vir vrae oor die aanlyn-leerplatform.

IT-ondersteuning aan personeel

Deur verskeie instrumente en hulpmiddele in plek te sit, help IT ook US-personeel om van die huis af te werk.

Van die instrumente en hulpmiddele vir personeel sluit 'n virtuele private netwerk (PVN) in. Dit maak toegang tot die Universiteit se hele netwerk vanaf enige ligging met 'n internetverbinding moontlik en bied ook toegang tot Microsoft Teams (MS Teams), 'n veelsydige samewerkingsnaaf vir spanwerk.

Skype for Business, wat gebruikers in staat stel om spanne te skep om saam te werk, is 'n verenigde kommunikasieplatform wat funksies soos kitsboodskappe, teenwoordigheid (deur die status-opsie kan jy kyk of kollegas beskikbaar is), lêer-oordrag en videokonferensies insluit.

Vir meer inligting en ondersteuning vir personeel wat van die huis af werk, het die IT-departement 'n omvattende werk van die huis af-gereedskapkis geskep.

Vir nuus en meer inligting oor die IT-departement, besoek http://blogs.sun.ac.za/it/af/directorate/.​