Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Personeel: Aanlyn onderrig in tweede kwartaal en hersiene akademiese kalender vir 2020
Outeur: Prof Stan Du Plessis: Chair: ICBC
Gepubliseer: 08/04/2020

​​8 April 2020   

 Beste kollegas 

 Danksy jul ondersteuning het ons goeie vordering gemaak om ons leer en onderrig, asook assesserings, vanaf 20 April 2020 aanlyn aan te bied. Ek wil graag van die besluite wat vroeër vandeesweek deur die Institusionele Komitee vir Sakevoortsetting (IKSV) en die Uitvoerende Komitee van die Senaat rakende aanpassings aan die akademiese kalender vir 2020 geneem is om die tydperk van algehele inperking en aanlyn leer te akkommodeer. 

Daar is ook al die afgelope week 'n hele aantal skrywes aan studente uitgestuur – een soortgelyk aan hierdie personeelskrywe, asook een gister van die Registrateur se kantoor oor registrasie, staking van voorgraadse studies vir 2020, onderbrekings in nagraadse studies en die uitreiking van akademiese dokumente gedurende die COVID-19-inperkingstydperk. Lees die skrywer hier.

  

AANLYN ONDERRIG IN DIE TWEEDE KWARTAAL 

 Beplanning vir die res van die semester is gegrond op die aanname dat studente nie toegelaat sal word om in die loop van die huidige semester na ons kampusse terug te keer nie. Alle voorgraadse onderrrig en assesserings (die eerste en tweede eksamengeleenthede vir die middel van die jaar ingesluit) sal aanlyn geskied. Nagraadse kursusonderrig en assesserings sal ook aanlyn geskied. Vir modules waar professionele liggame toesighoudende eksamens of persoonlike moderering vereis, moet fakulteite hierdie assesserings skeduleer vir wanneer studente na die kampus terugkeer en voor die aanvang van die 2021-akademiese jaar. 

Wanneer 'n semester 1-module 'n voorvereiste vir toelating tot 'n semester 2-module is, is sal studente toegelaat word om met semester 2 voort te gaan, ongeag of hulle die vereiste module geslaag het nie of nie. 

 Aanlyn verbinding 

Die onlangse opname het getoon dat 'n aantal studente nie tuis oor óf die nodige tegnologie óf internetverbinding (of albei) beskik om hulle in staat te stel om vir die res van die eerste semester ten volle aanlyn voort te gaan nie. Baie van ons akademiese personeel het ook hierdie bekommernis onder die IKSV se aandag gebring. 

Die Universiteit ondersoek maniere om veral studente wat sosio-ekonomies benadeel is wat in die opname aangedui het dat hulle nie toegang tot 'n toestel het nie, tuis met rekenaars by te staan sover dit prakties moontlik is binne die beperkings van die regulasies vir die algehele inperking. Studente wat nog nie op die opname gereageer het nie, moet dringend met die US Kliëntediens in verbinding tree by info@sun.ac.za of 021 808 9111 om vir hulp met leertegnologie oorweeg te word. Kollegas wat moontlik van studente weet wat ondersteuning nodig het, word ook gevra om 'n e-pos met die studente se naam, studentenommer, akademiese program en kontakbesonderhede na info@sun.ac.za te stuur. 

  Die US se rekenaars en internetverbindingstoestelle sal op 'n uitleengrondslag aan studente verskaf word, en word nie aan studente geskenk nie. 'n Deposito gelykstaande aan die toerusting se waarde sal by studente se gelderekening gevoeg word. Indien die toerusting aan die einde van die 2020-akademiese jaar aan die US terugbesorg word, sal die deposito verskuldig van die studente se rekening verwyder word. Die student sal ook die opsie hê om die rekenaar te hou indien sy/haar beursverskaffer vir die toerusting betaal. 

 Vir studente wat nie die eerste semester aanlyn kan voltooi nie weens probleme met aanlyn verbinding (toestel of internet of albei), sal 'n herhaling van semester 1-modules in hibriede leer in die tweede helfte van 2020 beskikbaar wees, met 'n eksamengeleentheid in Januarie 2021 spesifiek vir modules van die eerste semester van 2020. Die hibriede leermodule sal meestal uit aanlyn leer of geargiveerde lesings van die eerste semester en ander materiaal bestaan, met beperkte kontaksessies sover dit prakties moontlik is. 

AKADEMIESE KALENDER VIR 2020 

Op Maandag, 6 April 2020 het die Uitvoerende Komitee van die Senaat die volgende veranderinge aan die 2020-akademiese kalender goedgekeur. Die verlengde resestydperk, wat nou op 17 April in plaas van 27 Maart soos oorspronklik geskeduleer, eindig, het die aanpassings genoodsaak. 

Semester 1 – kwartaal 2: 

· Die tweede kwartaal begin op 20 April 2020; 

· 'n Sewe week lange onderrigblok sal van 20 April tot 5 Junie duur; 

· Eerste eksamensiklus sal van 8 tot 26 Junie duur; 

· Tweede eksamensiklus sal van 27 Junie tot 11 Julie (Saterdae ingesluit) duur. 

Reses tussen semesters: 'n Reses van twee weke wat van 13 tot 24 Julie sal duur, sal ná die tweede kwartaal volg. 

Semester 2 – kwartaal 3: 

· Die derde kwartaal begin op 27 Julie 2020; 

· Die onderrigblok van sewe weke eindig 11 September; 

· Die reses sal van 14 tot 18 September duur. 

Semester 2 – kwartaal 4: 

· Die vierde kwartaal begin op 21 September; 

· Die onderrigblok van ses weke eindig 30 Oktober; 

· Eerste eksamensiklus sal van 3 tot 25 November duur; 

· Tweede eksamensiklus sal van 26 November tot 12 Desember duur; 

· Desember-gradeplegtighede word van 14 tot 19 Desember gehou. 

Die omstandighede waaronder ons die volgende paar weke gaan werk, is hoogs onseker. Ons besef die situasie is veranderlik en dit mag verdere veranderinge deur die Universiteit – selfs op kort kennisgewing – noodsaak. Die toewyding en harde werk van so baie kollegas gedurende die algehele inperking het my nogtans baie beïndruk. Die US het 'n gesonde benadering om die invloed van hierdie onderbreking teen te werk en ek is vol vertroue dat ons die akademiese jaar suksesvol sal kan afhandel. Dankie vir ieder en 'n elk vir jul voortgaande ondersteuning en toewyding. Onthou om gereeld die COVID-19-webblad​ te raadpleeg vir die jongste nuus. 

Ek wil ook alle personeel aan die telefoniese en aanlyn dienste herinner wat die US bied ter ondersteuning van personeel se gesondheid en welwees. 'n Brief hieroor is vroeër vandeesweek aan alle lede van die Algemene Bestuurdersvergadering gestuur. Klik asb hier ​vir verdere inligting. 

Kom ons bly positief, gefokus op die take wat voorlê en gee asb gehoor aan die regulasies vir algehele inperking vir jou eie en jou familie se veiligheid. Vriendelike groete 

Prof Stan du Plessis 

Voorsitter: IKSV