Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Pasop vir opportunistiese misdadigers wat COVID-19 gebruik vir swendelary
Outeur: Facilities Management
Gepubliseer: 19/03/2020

​Opportunistiese misdadigers sal waarskynlik die COVID-19-situasie gebruik om hul hande op jou eiendom te kry. Pasop vir e-posse met besmette aanhangsels wat sogenaamde “veiligheidsboodskappe" bevat of mense wat aan jou deur klop en voorgee dat hulle van 'n  gesondheids- of mediese organisasie is.

Dr Viljoen van der Walt, hoof van die kampussekuriteit aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê dit is noodsaaklik om te alle tye waaksaam te wees en seker te maak dat inligting wat jy ontvang, geldig en betroubaar is.

Van der Walt het gesê daar is al baie kriminele aktiwiteite op die internet waar jy deesdae enigiets van entstowwe tot chirurgiese gesigmaskers teen enige prys kan koop. “Daar is al honderde webtuistes geregistreer wat afslag op gesigmaskers bied. Hierdie produkte is waarskynlik vervals of bestaan in sommige gevalle glad nie. Sodra jy betaal het, sal die webtuiste net so vinnig verdwyn soos dit verskyn het," het hy gesê.

“Ons sal ook oral mense sien wat handreinigers, gesigmaskers en ander voorwerpe verkoop, en die vrees vir die koronavirus gebruik om mense se geld en inligting van hulle te roof. Dit is belangrik om bewus te wees van die feit dat hierdie opportuniste voordeel trek uit mense onkunde sover hulle kan."

Volgens Van der Walt is dit noodsaaklik om nie vreemdelinge in jou huis of werkplek toe te laat nie, tensy jy 'n afspraak met iemand gemaak het en daardie persoon sy of haar identiteit bevestig het voordat jy hom binne laat. “Let daarop dat mediese personeel nie ad hoc en onaangekondigde Covid-19-keuring doen nie. As iemand beweer dat hulle van die departement van gesondheid of enige ander mediese organisasie is, moet hulle nie toelaat nie en waarsku die SAPD onmiddellik."

Vir noodgevalle op die US se kampus: 021 808 2333 (Stellenbosch) en 021 938 9507 (Tygerberg). Skakel gerus hul dienstoonbank by 021 808 4666 of stuur 'n e-pos na fmhelpdesk@sun.ac.za.​