Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Transformasie onder die soeklig by studenteberaad
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 19/03/2020

​As deel van hul pogings om 'n transformerende Universiteit Stellenbosch (US) te kweek, het die Afdeling Studentesake onlangs hul heel eerste beraad oor studentetransformasie aangebied.

Die beraad, wat by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) gehou is, het die soeklig laat val op die verskillende transformasiekwessies wat personeel en studente daagliks op die onderskeie US-kampusse ervaar.

Die US se Viserektor: Onderrig en Leer, prof Arnold Schoonwinkel, het in sy verwelkoming gesê die 2020 Beraad vir Studentetransformasie is 'n belangrike geleentheid vir die Universiteit om voort te bou op dít wat die US sedert 2018 geleer en bereik het.

“Daar is uiters belangrike berade en indabas binne ons studentegemeenskap wat onverpoosd werk om onaanvaarbare kulture en gedrag – soos geslagsgebaseerde geweld en 'n kultuur van verkragting, homofobie, xenofobie, toksiese manlikheid, ontmensliking van nuwelinge en openlike en bedekte rassisme – te verander."

Hy het gesê hy hoop die bestuur, personeel en studente van die US sal dapper staan om hierdie kwessies bloot te lê en hande te vat om transformasie en verandering teweeg te bring.

“Hierdie beraad moet meer as net nog 'n gepratery of vingerwysing wees met mense wat hoop dat iemand anders die verandering sal begin. Ons moenie in die strik van stereotipering van mense wat probeer om 'n bydrae te lewer trap in ons strewe om kwetsbare mense te beskerm nie," het hy gesê.

Schoonwinkel het gesê elkeen moet hul hand aan die ploeg slaan en 'n oop gemoed handhaaf oor hul eie transformasie. Hy het gesê dit sal inderdaad harde werk saam verg om ware transformasie te bewerkstellig.

“Ek weet ons kan op my kollegas by die Afdeling Studentesake en hul leier, dr Choice Makhetha, staatmaak om 'n bevorderlike transformasieproses by hierdie beraad en verder te fasiliteer," het hy bygevoeg.

Studente het by die beraad 'n aantal kwelpunte oor 'n transformerende studente-evaring uitgelig. Van die kwessies wat geopper is, het geslagsgebaseerde geweld, homofobie, rassisme en toegang vir studente met gestremdhede ingesluit.

Die voorsitter van die Transformasieforum in die Afdeling Studentesake, Yeki Mosomothane, het gesê die idee was dat hulle jaarliks as 'n afdeling oor hul eie idee van transformasie moet besin, met inaggenome die Universiteit se doelwit van 'n transformerende studente-ervaring.

Mosomothane het gesê hulle wil hê die personeel binne hul afdeling moet hulself oopstel vir verskillende lewenservarings en om daardie moeilike transformasiegesprekke te hê terwyl hulle as 'n geheel hieroor besin.

“Ons het studenteleiers soos Guiseppe Guierande van die Anti-GBV-beweging, Jeff Ngobeni van die Studenteraad, Luigia Nicholas van DisMatie en Chante Arab van QueenSU genooi om hul visie van 'n transformerende studente-ervaring met ons te kom deel.

“Die beraad wil van hierdie studente wat gemarginaliseerd is op kampus, hoor – dit is stemme wat 'n integrale rol in die sameskepping van 'n transformerende studente-ervaring saam met die Afdeling en die groter Universiteit speel," was die boodskap van Mosomothane.

Tonia Overmeyer, Direkteur van die Sentrum vir Studenteleierskap en -strukture, het aan die gehoor gesê hulle moet met deernis en verder as hul eie lense luister, verder as die rolle wat hulle in die samelewing speel, verder as hul eie sosiale samestelling en hulle moet met hul menswees luister.