Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rektor en span voltooi 'n suksesvolle Kaapstad Fietstoer
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 09/03/2020

"Dit was fantasties! Ons het groot ondersteuning van Maties langs die roete gehad. Ons het in perfekte omstandighede begin, hoewel dit teen die einde 'n bietjie moeiliker geword het. Maar dit was alles die moeite werd vir 'n verdienstelike saak."Prof_Wim_cycle2020.jpg

Dit was die woorde van prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), wat op Sondag, 8 Maart sy vyfde Kaapstad Fietstoer ter ondersteuning van Matie-studente voltooi het.

Hy het die 109km fietsrit in net meer as 5 ure saam met sy seun Braam en dogter Gera voltooi. Hulle het die Fietstoer met 'n span van 60 personeellede, alumni, studente en vriende van die Universiteit aangepak onder die vaandel van die #Move4Food-span. Hulle doel was om fondse in te samel vir die student-gedrewe #Move4Food, 'n veldtog om voedselonsekerheid onder studente aan te spreek.

"Dit was wonderlik om deel te wees van die Move4Food-inisiatief en ons gaan die hemde vir 'n dag in die Epic dra!" het spanlid Chris Norton, gesê. ​​Norton, 'n US-alumnus en eienaar van die BMT-fietswinkel in Stellenbosch het die wedren in drie ure voltooi.

Ook deel van die span was studente van die US se Tygerbergkampus wat al voorheen twee keer grense oorgesteek het met 'n ambisieuse fietsrit van 902 km vanaf Vioolsdrift aan die Namibiese grens tot by die Suid-Afrikaanse grens aan Kaap Agulhus om geld vir mede-Maties in te samel via die Nkululeko-fonds.

Maties kon Sondag, nadat hulle die wedren voltooi het, by die Universiteit se gasvryheidstent inloer. “Daar was 'n hele paar Maties wat die tent besoek het. Die gees was fantasties en ons kan nie wag om dit weer by ander sportgeleenthede te doen nie," het Siya Ndlovu, eweknie-fondswerwingskoördineerder aan die US, gesê.

“Die span het meer as R44 000 vir Move4Food ingesamel en ons is baie dankbaar. Volgende is die Absa Cape Epic 2020 en ons het reeds personeellede en alumni wat gereed is om daardie moordende rit ter ondersteuning van #Move4Food aan te pak. Jy kan hulle hier —  https://www.givengain.com/ap/francois-robert/ ondersteun."

Sedert sy aanstelling as US-rektor, is prof De Villiers aktief in sy ondersteuning van Matie-studente. Hy het die volle Sanlam Kaapstad-marathon van 42,2 km reeds twee keer voltooi, die Kaapstad Fietstoer vyf keer en in 2019 het hy vir die eerste keer aan die Londen na Brighton Fietsrit deelgeneem – alles om fondse vir US-studente in te samel.

Wil jy graag betrokke raak? Jy kan nog steeds geld skenk op http://bit.ly/Move4Food-projects.  Of as jy van plan is om later vanjaar aan enige ander sportaktiwiteit deel te neem, laat weet ons gerus by ontwikkeling@sun.ac.za, sodat ons jou kan help om jou Matie-trots te wys.

  • Klik hier om aanlyn na foto's van Maties se deelname aan die 2020 Kaapstad Fietstoer te kyk.

Fotograaf: Chanté du Toit