Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet die US se 2020 Mandela Rhodes-beurshouers
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Asiphe Nombewu & Rozanne Engel]
Gepubliseer: 28/02/2020

Ses studente van die Universiteit Stellenbosch (US) is deur die Mandela Rhodes-stigting vereer met hul insluiting in die stigting se 2020-groep van Mandela Rhodes-beurshouers.

Met wyle president Nelson Mandela as stigter, is die Mandela Rhodes-stigting (MRS) in die lewe geroep met die doel om uitstaande leierskapkapasiteit in Afrika te bou deur aan nagraadse studente die geleentheid te gee om hul studies in hul gekose vakgebiede voort te sit.

Die MRS doen dit deur finansiële ondersteuning, deur die studente te help om netwerke met ander eendersdenkende studenteleiers by werkswinkels te bou en deur mentors aan hulle te verskaf wat ook MRS-alumni is.

Om vir hierdie beurs te kwalifiseer, moet studente oor sterk leierskapeienskappe beskik en verbind wees tot die rigsnoere van opvoeding, leierskap en entrepreneurskap.

Delecia Davids van Delft in Kaapstad is een van die ses US-studente in die groep van 47 jong leiers van regoor Afrika wat as die 2020 MRF-beurshouers aangewys is.

Delecia Davids.jpg

[In die foto: Delecia Davids]

Sy sê dit is 'n groot eer en dien as bewys van al die harde werk wat sy ingesit het in haar akademiese en leierskapsreis.  

Davids is 'n deeltydse junior dosent in die Fakulteit Opvoedkunde aan die US waar sy Natuurwetenskappe en Omgewingsopvoeding aan eerstejaar BEd-studente doseer. Sy het beide haar B-graad in Opvoedkunde haar en Honneurs-graad in Opvoedkundige Ontwikkeling en Demokrasie voltooi, maar sê dit was nie altyd maklik nie.

“Ek glo my doel is om ander te help om vir hulself te ontdek wat hulle bedoel is om te wees, en dit is waarvolgens ek my toekomsplanne sal rig," sê Davids.

Nog 'n US-studente wat deur die MRF gekies is, is Gideon Basson, 'n nagraadse regstudent wat besig is met sy LLM-graad. Hy is ook die voormalige primarius van die Metanoia-koshuis en het al toekennings soos die Rektorstoekenning vir Uitnemende Prestasie in Leierskap aan die US ontvang.

191014_MRF_Basson-Gideon_106.jpg

[In die foto: Gideon Basson]

Dié boorling van Vredendal aan die Weskus sê vir hom beteken die beurs die begin van 'n groter verantwoordelikheid jeens die vasteland van Afrika.

“Ek is baie dankbaar dat ek deel kan wees van 'n ingewikkelde nalatenskap en om die geleentheid te kry om my LLM te voltooi en om innoverende maniere te vind om te help om ons ingewikkelde probleme te verlig en om te help om die toekoms wat ons wil hê, te bewerkstelling," sê hy.

Die derde beurshouer van die US is Phebe Keshinro, afkomstig van die Ekiti-staat in die suid-weste van Nigerië. Phebe sê die beurs open 'n deur na geleenthede en sy sien dit as 'n platform om haar doelwitte vir haar land en vir Afrika in sy geheel te bereik.

191014_MRF_Keshinro-Phebe_071.jpg

[In die foto: Phebe Keshinro]

Keshinro is tans besig met haar meestersgraad in Ontwikkelingsfinansiering aan die Universiteit van Stellenbosch se Sakeskool (USB). Sy het ook al aan verskeie navorsingsaktiwiteite deelgeneem, met vyf artikels wat reeds gepubliseer is en verskeie ander wat tans geëvalueer word.  

Vir Thabani Mtsi gee die feit dat hy deel van die Mandela Rhodes se Klas van 2020 is vir hom 'n “sterk sin van self-doelmatigheid" en dien dit as bevestiging van sy vermoëns om te lei, te inspireer en om op te bou. Mtsi, 'n Siviele Ingenieurswese-student aan die US, het 'n passie vir gemeenskapsbetrokkenheid en glo in die krag van Ubuntu regoor Suid-Afrika. Hy hoop om die beurs as 'n geleentheid te gebruik om op sy leierskapvaardighede voort te bou en om 'n positiewe invloed op die vasteland van Afrika te hê.

Thabani Mtsi.jpg

[In die foto: Thabani Mtsi]

Die vyfde beurshouer, Eduard Beukman, hoop ook om “'n betekenisvolle bydrae tot die vasteland" te maak. Hy is tans besig met sy MPhil in Wetenskap- en Tegnologiestudies by die Sentrum vir Navorsing oor Wetenskap en Tegnologie (SENWET) wat daarop fokus om die uitwerking van nuwe en ontluikende tegnologieë op die Suid-Afrikaanse samelewing te bepaal. 

“Vir my was die Mandela Rhodes-beurs 'n perfekte geleentheid om voort te bou op my passie vir die vasteland terwyl ek terselfdertyd ook my nagraadse studies kan voltooi. Ek hoop om met my navorsing te help om regulasies en beleide te ontwikkel wat sommige van die negatiewe eksternaliteite wat moontlik uit die Vierde Industriële Rewolusie kan voortspruit, kan versag," sê Beukman. 

191010_MRF_Beukman-Eduard_315.jpg

[In die foto: Eduard Beukman]​​

Baie van die MRS-beurshouers hoop ook om lewenslange vennootskappe en verhoudings met mekaar te bou wat ook die vasteland tot voordeel sal strek.

Masego Mafata, 'n student in die Joernalistiek aan die US, sê haar ontmoeting met haar mede-MRS-beurshouers het haar “begeerte om die vasteland van Afrika verder te verken" en om haarself van geleefde ervarings buiten dit waaraan sy reeds blootgestel is, te vergewis, versterk. 

Masego Mafata.jpg 

[In die foto: Masego Mafata]​​

Mafata het al op verskeie uitreikkomitees, asook op die uitvoerende komitees van die Verenigde Nasies-vereniging van Suid-Afrika en Amnestie Internasionaal se US-takke vir 2018/19 gedien. Haar begeerte is om te sien dat sosiale geregtigheid en kohesie in die samelewing geskied en net soos die ander MRS-beurshouers, hoop sy om een van die voorste agente vir verandering op die vasteland van Afrika te word.

Lees hier meer oor die beurshouers: https://mandelarhodes.org/the-scholars/view-by-year/2020/

Fotos deur Verity Fitzgerald.