Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gestremdheid, as deel van diversiteit, aan die beweeg by Maties
Outeur: Transformation Office | Disability Unit | AfriNEAD
Gepubliseer: 25/02/2020
Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het laat verlede jaar aangekondig dat 2020 die Universiteit se Jaar vir Persone met Gestremdheid sal wees. Die hoogtepunt van die jaar sal die sesde konferensie van African Network for Evidence-to-Action in Disability (AfriNEAD), 'n hoogaangeskrewe internasionale netwerk, wees wat van 30 November tot 3 Desember 2020 by die US aangebied sal word. Om dit te vier en te eer, sal die Transformasiekantoor en die Eenheid vir Gestremdhede, te same met AfriNEAD, maandelikse meningsstukke of artikels deur persone met gestremdhede publiseer. Ons eerste stuk is geskryf deur Wentzel Barnard, 'n alumnus wat vanaf 1987 tot 1994 aan die US gestudeer het, en nou by Maties Sport as 'n Sportsbestuurder werk.


Die Februarie-hitte, tesame met die opgewonde gegons van eerstejaars wat die Stellenbosse strate invaar, laat my terugdink aan toe ek die eerste keer my wiele op kampus laat rol het.* As ek nou terugkyk, is dit goed om te sien hoe die Universiteit Stellenbosch ontwikkel het om in die behoeftes van persone met gestremdhede te voorsien.

In my studentedae, het ek nog te doen gehad met 'n fisiese omgewing wat glad nie vir rolstoelgebruikers voorsiening gemaak het nie, en gebou-ontwerpe uit die veertiger-, vyftiger- en sestigerjare. By die meeste geboue was die enigste toegang deur middel van buitetrappe, met nog heelwat trappe binne ook. As 'n introvert, was dít vir my 'n uitdaging. Nogtans het 'n paar studente gelukkig kom vra of hulle kon help. Ek onthou ook hoe prof Piet du Plessis my in my honneursjaar met die trap op tot by 'n klaskamer op die eerste verdieping van die Schumanngebou gedra het.

Oppervlakke op die sentrale kampus was nóg gelyk nóg eweredig geplavei, wat moeilik was vir 'n rolstoelgebruiker, en die agteringange van geboue het ironies dikwels die beste rolstoeltoegang gebied. Deesdae is beter toegang vir diegene in rolstoele en ander gestremdheidsgroepe hoog op die prioriteitslys wanneer nuwe geboue opgerig of bestaandes opgeknap word. In sekere gevalle het die toegangskwessie egter meer met gesindheid te doen. Dít het met my gradedag 'n kritieke punt bereik …

Bekrompe protokol het byna 'n demper op my groot dag geplaas. Die trappe op na die verhoog in die destydse DF Malansentrum (nou die Coetzenburgsentrum) waar studente hulle grade kry, is baie smal. Op my versoek of die Registrateur bereid sou wees om af te kom en my graad aan die onderpunt van die trappe aan my te oorhandig, is ek voor die keuse gestel om hetsy met die smal trappe opgedra te word of my graad in absentia te ontvang. Ek het albei moontlikhede van die hand gewys, wat op 'n dooiepunt uitgeloop het. Ná dreigemente in die koerant (dankie, Corne Rossouw) en met slegs 30 minute oor voor die gradeplegtigheid, is daar uiteindelik besluit dat die Registrateur by die trappe sou afstap om my graad aan my te oorhandig. Alle aanwesiges het die Universiteit geloof vir sy pogings om te sorg dat 'n student met 'n gestremdheid sy/haar gradeplegtigheid om die regte redes onthou. Deesdae is hierdie prosedure deel van die aanvaarde gradeplegtigheidsprotokol.

Die bevordering van, en soms die stryd om, gestremdheidstoegang tot kampusfasiliteite en -dienste het uitgebrei van 'n klein groepie individue, naamlik Annette Barnard, Corne Rossouw, Gretha Jacobs en mnre Van Tonder en Maas, tot 'n hele kantoor. Onder leiding van dr Marcia Lyner-Cleophas voorsien die Eenheid vir Gestremdhede in die akademiese behoeftes van studente met gestremdhede. Dis-Maties, 'n studente-organisasie, is op sy beurt verantwoordelik vir die sosiale sy van die studentelewe, terwyl Maties ParaSport sportbedrywighede vir diegene met gestremdhede vanaf klub- tot Paralimpiese vlak bestuur.

*Ek is 'n rolstoelgebruiker met kwadruplegie (of tetraplegie), wat beteken die beweeglikheid in ál vier my ledemate is aangetas. Ek het geen gebruik van my bene nie, en beperkte bolyfkrag.