Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Blackie kombineer liefde vir wetenskap en onderrig in navorsing
Outeur: Corporate Communication/Sandra Mulder
Gepubliseer: 20/02/2020

'n Chemiese dosent van die Universiteit Stellenbosch (US), dr Margaret Blackie, wat onlangs 'n onderriggenootskap vir drie jaar van die Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) ontvang het, is daartoe verbind om nie net haar kennis op die gebied van opvoedkunde nie, maar ook die vakgebied van chemie te deel.

Dr Margaret Anne Lillias (MAL) Blackie, of dr Blackie MAL soos daar na haar in publikasies verwys word, is 'n senior dosent by die Departement Chemie en Polimeerwetenskap in die Fakulteit Natuurwetenskappe.

Sy was van vroeg af al 'n slimkop op skool en het reeds op die ouderdom van 15 begin om chemie te studeer omdat sy die geleentheid gehad het, chemie geniet het en “nogal goed" was daarmee. Hierdie denkwyse het haar aangespoor om aan te hou studeer totdat sy 'n PhD in Chemie by haar naam kon voeg.

Sy het haar BSc-graad in 1996 aan die Rhodes-universiteit behaal, gevolg deur 'n BSc-honneurs in 1998 en haar PhD in 2002, wat sy albei aan die Universiteit van Kaapstad (UK) verwerf het.

Kort hierna het sy haar tweede liefde, onderrig, ontdek en daarna haar pad na die akademie gelei – nog iets wat sy baie geniet en waarin sy uitblink.

Blackie se navorsing in opvoedkunde het haar na hierdie ontdekking van haar tweede liefde gelei. Van 2007 tot 2009 was sy 'n kontrakdosent aan die UK. “Ek het dit geniet om klas te gee en het besef dat ek daarvan sou hou om 'n akademikus te word. Toe die pos van dosent in Organiese Chemie by die US beskikbaar word, het ek aansoek gedoen en ek het in Januarie 2010 die pos opgeneem. En hier is ek nog steeds – 10 jaar later," sê sy.

Haar loopbaan by die US het die afgelope tien jaar 'n paar interessante draaie ingesluit. Sy is in 2013 in haar huidige posisie van senior dosent in Organiese Chemie aangestel. Maar gedurende hierdie tydperk was sy ook 'n navorsingsgenoot in Praktiese Teologie aan die US (September 2013 tot Augustus 2017) en van Julie 2015 tot Januarie 2016 was sy 'n navorsingswetenskaplike by die Northeastern-universiteit in Boston in die VSA.

 Sy het ook al verskeie toekennings ontvang, insluitende drie US Rektorstoekennings vir algemene prestasie (2010, 2013 en 2014), eerstejaarsakademie-prestigetoekenning – invloedrykste eerstejaardosent (2014 – genomineer deur die beste eerstejaarstudent) en die HB en MJ Thom-toekenning vir oorsese navorsing (2015).

 Blackie het reeds twee ander genootskappe in haar akademiese loopbaan by die UK beklee – die Claude Leon postdoktorale navorsingsgenoot saam met prof Kelly Chibale (Medisinale Chemie) van 2007 tot 2008 en as postdoktorale navorsingsgenoot saam met prof Jennie Case (Ingenieursonderrig) in 2009. Sy het in hierdie tyd intensiewe navorsing op die gebied van medisinale chemie, ingenieursonderrig en spiritualiteit gedoen.

Sy het 'n duidelike plan vir die onderriggenootskap en weet presies wat sy daarmee wil doen. Sy gaan navorsing doen oor die pedagogie van die wetenskap-, tegnologie-, ingenieurswese- en wiskunde-vakgebiede. Sy beplan om in haar navorsingstudie die verskillende onderrig- en leerpraktyke te ontleed en om maniere te identifiseer waarop die onderrig- en leerervarings van dosente en studente verbeter kan word.

Hierdie navorsingsinligting en data sal ook bydra tot die ontwikkeling van 'n kortkursus in die kundigheid van opvoedkunde met die doel om akademiese personeel in die STEM-vakgebiede toegang te gee tot die analitiese hulpbronne wat in die suite instrumente bekend as “Legitimation Code Theory" (oftewel LCT) beskikbaar is. Sy sal haar navorsing op LCT grond. Hierdie teorie bied 'n raamwerk om vorm aan onderrigpraktyke te gee. Volgens LCT word navorsing en onderrig gemotiveer deur besorgdheid oor sosiale geregtigheid en uitbouing van kennis.  

Volgens Blackie is 'n klas vol studente 'n baie ingewikkelde onderrigomgewing, veral vir die dosent om terug te kyk en te bepaal of hulle die onderrig die werk suksesvol verduidelik het.

“Gewoonlik sou jy bloot net iets anders probeer het indien jou onderrigmetode nie gewerk het nie, sonder om noodwendig te probeer vasstel wat die oorsaak van die eerste mislukking was," sê sy. “Ons moet ondersoek instel om te sien wat die oorsaak van die mislukking was, eerder as om net die mislukte metode met nog 'n poging te vervang."

Blackie volg 'n “reflektiewe onderrigmetode" deur van tyd tot tyd gedurende die lesing 'n oomblik te wag en die studente te vra of hulle alles verstaan. Sy vra ook moeilike vrae om die studente te help om te bepaal of hulle die werk verstaan.

“Hulle kan dan nadink en sien waar hulle is. Die klaskamersituasie is eintlik ingewikkeld. Jy het sosiale interaksie van verskillende mense, agtergronde, denke en sienings. Ek is baie inkennig en die sosiale interaksie put my uit, maar dit is nodig om die studente te verstaan – hoe hulle dink, hoe hulle nuwe kennis interpreteer wat binne-in die studente gebeur en hoe hulle daarmee omgaan. Jy moet weet wanneer om stil te bly, wanneer om voort te gaan of wanneer om nog 'n voorbeeld by te voeg."

Blackie kry haar grootste onderrigbevrediging wanneer sy sien hoe studente begin om die werk te verstaan, om te sien hoe hul kennis uitbrei en om te sien hoe hulle chemiekonsepte met mekaar verbind. ​