Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie wys gestandaardiseerde verwysingsbriewe verbeter kanse op indiensname
Outeur: Prof Rulof Burger
Gepubliseer: 20/02/2020

​'n Kostedoeltreffende ingryping wat maklik uitvoerbaar is – dis hoe navorsers die gestandaardiseerde verwysingsbrief beskryf wat ontwikkel is om werklose Suid-Afrikaners in hul soektog na 'n werk te help.

'n Nuwe studie het bevind dat indien werksoekers met vorige werkservaring 'n verwysingsbrief saam met hul werksaansoeke gebruik, dit hul vooruitsig op indiensname met meer as 50% kan verhoog. Dit was veral waar in die geval van vroue.

Die studie deur drie hoogleraars in Ekonomie, proff Martin Abel van Middlebury College in Vermont, Kanada; Rulof Burger van die Universiteit Stellenbosch; en Patrizio Piraino van die Universiteit van Kaapstad, is in samewerking met die Departement van Arbeid se Openbare Indiensnemingsdiens en J-PAL Africa uitgevoer.

Die ingryping was gemik op werklose jeug (18-34 jaar oud) by arbeidsentrums in Gauteng en Limpopo. Sowat 70% van die jongmense wat aan die studie deelgeneem het, het 'n matrieksertifikaat gehad en almal het oor beperkte ondervinding in hoofsaaklik korttermyn, laaggeskoolde werke beskik.

“'n Algemene uitdaging vir werksoekers is dat CV's wat hierdie beperkte inligting insluit, baie min besonderhede verskaf waarmee firmas wat werkers wil aanstel aansoekers kan evalueer," het die navorsers in hul beleidsopsomming gesê.

Hul besprekings met fokusgroepe het daarop gedui dat ondanks die voordeel waarmee baie personeelbestuurders getuigskrifte deur vorige werkgewers beskou, die meeste werksoekers nie kontakbare verwysings in hul CV's lys nie, en minder as 5% 'n getuigskrif by hul aansoeke insluit.

“Die gebrek aan inligting oor die vaardighede van aansoekers veroorsaak dat Suid-Afrikaanse werkgewers dikwels op informele verwyings staatmaak om vakatures te vul. Dit kan lei tot ongepaste plasings en die uitsluiting van groepe wat minder voordeel trek uit verwysings, byvoorbeeld vroue," het die navorsers bygevoeg.

Gestandaardiseerde verwysingsbriewe gee vorige werkgewers die geleentheid om hul kontakbesonderhede te lys en om aan te dui hoe lank en hoe goed hulle die kandidaat geken het. Dit gee hulle ook die geleentheid om werknemers te beoordeel van baie goed tot ondergemiddeld ten opsigte van vaardighede (rekenaarvaardighede, geletterdheid en syfervermoë), asook ingesteldheid (spanvermoë, betroubaarheid, interpersoonlike vaardighede en werksetiek).

Resultate het gewys dat aansoeke met verwysingsbriewe van vorige werkgewers waardevolle inligting verskaf het oor aansoekers se vaardighede. Dit het werkgewers se reaksiekoers verhoog en firmas se vermoë om beter kandidate te selekteer, wesenlik verbeter.

Verwysingsbriewe is veral nuttig vir vroulike werksoekers, by wie daar 'n baie groter waarskynliheid is om werk te vind binne 3 maande nadat hulle van 'n verwysingsbrief voorsien is.

Werkgewers is egter versigting vir verwysingsbriewe wat skynbaar te goed is om waar te wees. “Terwyl positiewe briewe werksoekers se kanse verbeter om gekontrakteer te word, is briewe met 'n perfekte evaluasie in alle kategorieë oneffektief. Dit onderstreep die belangrikheid dat werkgewers die inligting in verwysingsbriewe as geloofwaardig beskou," het die navorsers verklaar.

Die navorsing is uitgevoer in vennootskap met J-PAL Africa, 'n navorsingsentrum wat by die Universiteit van Kaapstad gebaseer is. Dié sentrum evalueer die impak van sosiale beleid en programme. J-PAL Africa onderneem ook beleidsverwante uitreikaksies en opleiding om seker te maak die resultaat van belangrikse navorsing word toegepas by besluitneming.

Prof Burger het aangedui dat hulle baie tevrede is met die positiewe resultate van die studie. Hy glo die gestandaardiseerde verwysingsbriewe kan 'n wesenlike rol speel om seker te maak die indiensnemingsproses is regverdig en dat die regte mense in die regte posisies aangestel word.

“En indien werkgewers weet dat hulle die mees geskikte persoon vir die werk gaan aanstel, kan hulle selfs gewillig wees om dalk meer mense in diens te neem."

“Ons gevolgtrekking is dat die verwysingsbriewe 'n kostedoeltreffende middel is wat die gebrek aan inligting tussen werksoekers en wergewers verminder en werksoekers se indiensnemingsvooruitsigte verbeter," het hy gesê.