Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US MOOC gekies vir internasionale VN onderrigplatform
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 17/02/2020

'n​ Universiteit Stellenbosch (US) massa oop aanlyn kursus (oftewel MOOC) wat in September 2016 van stapel gestuur is, was so 'n groot treffer dat dit nou ook die Verenigde Nasies (VN) se oog gevang het.

Die MOOC, getiteld Teaching for Change: An African Philosophical Approach, verskyn nou op die VN se Volhoubare Ontwikkelingsoplossingsnetwerk (SDSN) as deel van 'n omvattende lys van meer as 100 kursusse oor volhoubare ontwikkeling wat van universiteite regoor die wêreld gekies is. Dit sluit onder meer Harvard, Oxford, Stanford en die Massachusetts Instituut vir Tegnologie (MIT) in. Mense kan toegang tot hierdie kursusse kry om meer te leer oor die VN se 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD's). Die MOOC verskyn onder die vierde VOD, naamlik Gehalte-onderwys, wat daarop gemik is om inklusiewe en billike gehalte-onderwys te verseker, en om lewenslange leergeleenthede vir almal te bevorder. Die Universiteit van Kaapstad is die enigste ander Afrika-universiteit wie se MOOC-kursusse vir insluiting by die lys gekies is.

Die lys, wat deur Class Central in samewerking met die VN se SDG Academy saamgestel is, sluit ook kursusse wat op verskeie ander MOOC-platforms gevind is, in. Die SDG Academy is 'n gratis aanlyn onderrigplatform van die SDSN.

Prof Yusef Waghid, uitgelese professor in die Fakulteit Opvoedkunde en aanbieder van die MOOC, het in reaksie op die VN se erkenning gesê hierdie MOOC is die eerste en enigste een van die instelling wat die idee van 'n Afrika-filosofie van onderwys verkondig. “Die genre van Ubuntu word wêreldwyd gekommunikeer in verhouding tot die bydrae wat Afrika-denke en -praktyke in verskeie vorme van leer mag lewer."   

Waghid het bygevoeg dat die idee van leer deur probleemoplossing nie iets nuuts is nie. “Wat egter wel nuut is, is die identifisering en uiteensetting van groot filosofiese probleme op die vasteland en om dan die implikasies daarvan vir die onderwys te bestudeer – dit beteken mense word uitgenooi om te praat en word toegelaat om te sê wat hulle op die hart het, eerder as om net voorgesê te word wat om te doen."

Volgens hom versterk hierdie MOOC ook die idee van toegang en insluiting.

“Dit beteken studente het 'n gelyke kans om krities en met oorleg met universiteitsgeskrifte om te gaan. Net so betrek die transformerende tipe leer wat deur die MOOC voorgestaan word, studente en universiteitsdosente om op 'n intellektuele reis van saamleer te gaan."

Waghid het ook genoem dat sowat 6 000 studente – meestal van die VSA, die VK, Europa en Afrika – vir die MOOC geregistreer het.

Hy het ook gesê hulle beplan om op gegrond op die positiewe terugvoer wat hulle sover oor die MOOC ontvang het, 'n aangepaste weergawe in 2020 aan te bied.

  • Klik hier vir 'n skakel na die MOOC.

Die MOOC het ook aanleiding tot 'n aantal boeke deur Waghid en verskeie medeskrywers gegee. Dit sluit in:

  • 2020. Cosmopolitan Education and Inclusion: The Self and Others in Deliberation (New York: Palgrave-MacMillan, met Chikumbutso Herbert Manthalu, Judith Terblanche, Faiq Waghid en Zayd Waghid).

  • 2020. The Thinking University Expanded: On Profanation, Play and Education (Londen: Routledge, met Nuraan Davids).
  • 2019. Democratic Education and Muslim Philosophy: Understanding the Claims of Emotion (New York: Palgrave-MacMillan, met Nuraan Davids).
  • 2019. Towards a Philosophy of Caring in Higher Education: Pedagogy and Nuances of Care (New York: Palgrave-MacMillan).
  • 2019. Universities, pedagogical encounters, openness, and free speech: Reconfiguring democratic education (Lanham, MD (US): Rowman & Littlefield – Lexington Series) (met Nuraan Davids).
  • 2019. Education for Decoloniality and Decolonisation in Africa (New York: Palgrave-MacMillan, met Chikumbutso Herbert Manthalu).
  • 2019. Teaching and Learning as a Pedagogic Pilgrimage: Cultivating Faith, Hope and Wonder (Londen: Routledge) (met Nuraan Davids).
  • 2018. Rupturing African Philosophy of Teaching and Learning (New York & Londen: Palgrave-MacMillan) (met Faiq Waghid en Zayd Waghid).
  • 2018. African Democratic Citizenship Education Revisited (New York: Palgrave-Macmillan) (with Nuraan Davids).