Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skryf nou in vir die US se eerste gratis en oop aanlyn kursus
Outeur: Media: Opvoedkunde / Education
Gepubliseer: 20/07/2016

Inskrywings vir die Universiteit Stellenbosch (US) se eerste gratis en oop aanlyn kursus (in Engels algemeen bekend as 'n MOOC – Massive Open Online Course) het Maandag, 18 Julie, oopgemaak. Registreer hier.

Kyk voorskou

 

.

Dié vier week lange kursus, wat deur prof Yusef Waghid, uitgelese professor verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde, rondom die tema van Afrika-filosofie van die Onderwys aangebied sal word, begin op 19 September. Gesprekke sal ondersteun word deur voorafopgeneemde video's, artikels, aktiwiteite, kursusmateriaal en werksopdragte.

ʼn Aankondiging oor ʼn ooreenkoms tussen die US en een van die wêreld se voorste sosialeleerplatforms, FutureLearn, is in Oktober verlede jaar by die 26ste Internasionale Raad vir Oop en Afstandsonderwys (oftewel International Council for Open and Distance Education - ICDE) se wêreldkonferensie gemaak.

"Na deeglike beplanning en beraadslaging oor die afgelope paar jaar, is ʼn vennootskapsooreenkoms gesluit wat sentrums van uitnemendheid in navorsing binne die Universiteit wat bekend is vir spesifieke areas van kundigheid, in staat sal stel om kursusse op die FutureLearn-platform aan te bied," het dr Antoinette van der Merwe, Senior Direkteur: Leer en Onderrigverryking aan die US, ná die aankondiging gesê.

Gesprekke en beplanning is ná die aankondiging voortgesit en die US is nou 'n volle vennoot van FutureLearn, wat aan die universiteit die geleentheid bied om 'n groter verskeidenheid aanlyn kursusse op die FutureLearn-platform te ondersoek.

FutureLearn, die eerste VK-gebaseerde platform vir MOOC's, het wêreldwyd meer as 4 miljoen geregistreerde gebruikers uit 190 lande met altesaam vyf miljoen registrasies vir kursusse. Die US is nou een van byna 80 van die wêreld se voorste universiteite wat gratis aanlyn kursusse van die hoogste gehalte oor ʼn wye verskeidenheid vakgebiede aanbied.

Die Afdeling vir Leer en Onderrigverryking, wat getaak is om die Universiteit se bekendstelling aan die MOOC-arena te koördineer, het nou saam met prof Waghid aan die ontwikkeling van hierdie eerste gratis en oop aanlyn kursus gewerk.

Die kursus is getiteld: "Teaching for change: An African philosophical approach". Die kursus sal daarop ingestel wees om onderrig en leer in 'n Afrika-konteks te verstaan.

Prof Waghid het die ontwikkeling van die kursus as 'n verfrissende ervaring beskryf. 

"Ek is opgewonde om by te dra tot die US se eerste MOOC wat universiteitstoegang tot kennis vir veral nie-tradisionele studente oopmaak. Hierdie MOOC bied aan studente die geleentheid om meer oor Afrika se pedagogiese benaderings, veral rakende die kultivering van geregtigheid vir almal op die Afrika-kontinent, te leer. Dit is 'n geleentheid vir die universiteit om op 'n globale skaal met die wyer wêreld interaksie te hê," het hy bygevoeg.

Dr Faiq Waghid, raadgewer in die Sentrum vir Leertegnologieë en MOOC-projekbestuurder, het gesê enigeen wat graag toegang tot universiteitskennis wil kry, kan inskryf.

"Dit is die eerste MOOC van sy soort en die verwagting is dat meer as 4 000 studente vir die kursus sal registreer. Dit is 'n geleentheid om Afrika-onderrig te bevorder en die Universiteit Stellenbosch is 'n baanbreker op dié gebied."

Vir meer inligting oor FutureLearn, besoek www.futurelearn.com