Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kanker ’n gedugte teenstander wat menslike veerkragtigheid tot die uiterste beproef
Outeur: Vikash Sewram
Gepubliseer: 04/02/2020

Dinsdag (4 Februarie) is Wêreldkankerdag. In ʼn meningsartikel vir News24 skryf Prof Vikash Sewram van die Afrika-Kankerinstituut oor wat gedoen moet word om die siekte te beveg.

  • ​Lees die artikel hier onder of klik hier vir die artikel soos geplaas.​

Kanker is steeds 'n gedugte teenstander wat alle gemeenskappe sonder uitsondering en oor alle grense heen teister.

Die las daarvan maak jaarliks inbreuk op miljoene mense se lewens, en dit maak dit wêreldwyd 'n ernstige en groeiende openbare gesondheidsprobleem. Die woord 'kanker' wek diepgesetelde vrees as 'n stille moordenaar op, met talle wat hierdie siekte as 'n simbool van pyn en smart sien, 'n plaag wat ons verstandelik en emosioneel radeloos maak. Maar ons herstelvermoë en ons oorlewingsdrang in 'n weerspieëling van die mens se taaiheid en onwrikbare gees om ondanks alles te oorwin. Dit is juis hierdie taaiheid om voort te beur in die stryd teen kanker wat tot merkwaardige vordering in die verstaan van die oorsake van hierdie siekte en die ingewikkeldheid van die biologie daarvan, voorkomingsmetodes, vasstelling, diagnoses en vooruitgang in kankerbehandeling gelei het.

Wêreldkankerdag, 'n inisiatief van die Unie vir Internasionale Kankerbeheer (UICC), word elke jaar op 4 Februarie gehou en is die verenigende wêreldwye vaandel waaronder die wêreld verenig om op 'n positiewe en inspirerende manier groter bewustheid van kanker te skep. Kanker het 'n beduidende uitwerking op die gesondheid van die wêreld se bevolking en terwyl ons Wêreldkankerdag gedenk, moet ons nadink oor, erken en insien dat die voortgesette stryd teen kanker nie 'n enkele poging is nie en dat 'n verenigde reaksie noodsaaklik is om ons op die oorwinningspad te plaas. Elkeen kan 'n rol speel. Die jaar 2020 is die tweede jaar van die UICC se drie jaar lange veldtog, I Am and I Will. Hierdie nuwe tema is 'n bemagtigende oproep tot persoonlike verbintenis en verteenwoordig die krag van ons aksiestappe wat ons nou doen om die toenemende uitwerking van kanker te verminder. Ons moet onsself ook aan die wyer uitwerking op die samelewing herinner – iets wat verder strek as net die nadelinge uitwerking wat dit op individue se gesondheidsuitkomste het, soos kankerpasiënte en hul se versorgers se verlies aan produktiwiteit. Ons moenie struikel in ons veerkragtigheid en ons pogings om vroeë-stadium ontdekking, sifting en diagnostiese dienste gekoppel aan vroegtydige en toepaslike behandeling te verseker nie om sodoende kankerlyers se kanse op oorlewing en lewensgehalte aansienlik te verbeter.  

Die wêreldwye kankerlas het in 2018 na raming tot 18,1 miljoen nuwe gevalle en 9,6 miljoen sterftes gelei. Een uit elke vyf mans en een uit elke ses vroue wêreldwyd ontwikkel kanker gedurende hul leeftyd, en een uit elke agt mans en een uit elke 11 vroue sterf aan die siekte. Tensy groter pogings aangewend word om die rigting van hierdie siekte te verander, sal die aantal nuwe gevalle na verwagting teen 2040 tot amper 30 miljoen styg. Kanker is steeds die sesde grootste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika en die jongste inligting van die Nasionale Kankerregister toon dat daar in 2014 amper 75 000 nuwe gevalle gediagnoseer is. Bors-, serviks- en prostaatkanker is nog steeds die oorheersende tipes kanker en Afrika toon 'n soortgelyke tendens. cancer-pic.png

Dit is belangrik om kennis te neem van die feit dat 30% van kankersterftes deur die vyf vernaamste leefstyl- en dieetrisiko's, naamlik hoë liggaamsmassa-indeks, lae inname van vrugte en groente, gebrek aan fisieke oefening en die gebruik van tabakprodukte en alkohol, veroorsaak is. Baie tipe kankers kan voorkom word deur blootstelling aan hierdie gemeenskaplike risikofaktore te vermy. Daarby kan 'n aansienlike aantal kankers deur chirurgie, radioterapie of chemoterapie genees word, veral indien dit vroegtydig ontdek word.

Daar bestaan 'n dringende behoefte om vroeë-stadium ontdekking, sifting en diagnose te verhoog om kankerpasiënte se kans op oorlewing en lewensgehalte aansienlik te verbeter. Die meeste kankers wêreldwyd is ontvanklik vir vroeë-stadium ontdekking. Wanneer 'n tipe kanker in 'n vroeë stadium ontdek word – en wanneer dit gekoppel word aan die gepaste behandeling – is die kans op oorlewing van meer as vyf jaar dramaties hoër as wanneer dit in 'n latere stadium ontdek word en die gewas reeds versprei het en die siekte verder gevorderd is. Verder kan vroeë-stadium ontdekking ook die koste van behandeling verminder. Ondanks dit alles word miljoene kankergevalle eers laat ontdek, wat tot duur en ingewikkelde behadelingsopsies, verminderde lewensgehalte en vermybare sterftes lei.

Die identifisering van kankerrisiko's en voorkoming, tesame met vooruitgang in vroeë-stadium ontdekking en behandeling is besig om as kritieke nasionale gesondheidskwessies te verrys wat behoorlik aangespreek moet word ten einde die lewensgehalte en -verwagting van Suid-Afrikaners te verbeter. Daar is geen enkele oplossing vir die land se kankerprobleem nie. Dekades se navorsing en mediese vernuf het die lewens van talle kankerpasiënte verbeter en verleng, maar ondanks hierdie vooruitgang is 'n gesamentlike poging tussen die openbare en privaat sektore, akademici, kampvegtergroepe en pasiënte nodig om hierdie ingewikkelde siekte te oorkom.

Talle hindernisse op die individuele, gesondheidstelsel- en regeringsvlak ontneem miljoene mense wêreldwyd van 'n vroeë diagnose en beter behandeling. Daar is groot ongelykhede in gesondheidshulpbronne (infrastruktuur, menslike hulpbronne, toegang tot behandeling, ens) wat bevolkingsgroepe in Afrika, insluitende Suid-Afrika uiters kwesbaar maak om kanker te ontwikkel en vir die behandeling daarvan.

Lewensmaats en familielede se aanmoediging en ondersteuning speel 'n sleutelrol speel in die vermindering van hindernisse op individuele vlak wat verband hou met vroeë-stadium ontdekking, sifting en diagnose. Skaamte en vrees, tesame met swak gesondheidsbewustheid en kulturele oortuigings kan iemand daarvan weerhou om mediese sorg of siftingsprogramme te benut. Voorkomingspogings tesame met vroeë-stadium ontdekking en diagnose sal waarskynlik 'n beter prognose en 'n beter uitkoms inhou. Voorkoming bied ook die kostedoeltreffendste langtermynstrategie vir die beheer van kanker. Hierdie doelwit word as meer realisties, maatskaplik aanvaarbaar en finansieel gesond beskou in vergelyking met aggressiewe behandelingsopsies soos chemoterapie, chirurgie en bestraling.

Gesondheidstelsel-verwante hindernisse soos toenemende bewustheid onder gesondheidwerkers om kanker vroegtydig op te spoor, veral op die vlak van primêre sorg, en die gebrek aan doeltreffende en vroegtydige verwysing vir toetsing en diagnose lei tot onnodige vertraging in behandeling. Daarom bly voortdurende pogings om die kapasiteit van die gesondheidsektor uit te brei en om toegang tot behandeling en ondersteuningsdienste te verbeter noodsaaklik om die groeiende kankerepidemie te beveg.

In ons pogings om die kankerlas te verminder, het die Afrika-Kankerinstituut by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 'n sleutelrolspeler in die wêreldwye stryd teen kanker geword danksy die Instituut se toewyding aan uitnemendheid in navorsing en opleiding vir instellings, asook voorspraak en ondersteuningsgroepe. Hierdie vennootskappe het verseker dat die beste kundiges saamwerk om hoop aan kankerpasiënte en hul gesinne wêreldwyd te bied.

*Prof Vikash Sewram is die Direkteur van die Afrika-Kankerinstituut by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe